Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

21.5.14

Noodhulp: Hoe om hulp te ontbied

Jy het op iemand afgekom wat dringend mediese hulp benodig. Hoe nou gemaak?

Meeste van ons dra deesdae ons selfone op ons en kan iemand skakel. Sommige selfoonmaatskappye het selfs ’n noodnommer. Maak nie saak wie jy skakel nie, sorg altyd dat jy die volgende inligting oordra:

1. Jou telefoonnommer. Dit is baie belangrik ingeval die verbinding verbreek word of julle nie opgespoor kan word nie.

2. Die presiese plek waar julle is. Noem bekende landmerke in die omgewing.

3. Gee ’n aanduiding van die erns van die voorval, byvoorbeeld: “Motorongeluk, drie motors, persoon sit vas in motor.”

4. Die aantal persone betrokke, hul geslag en benaderde ouderdom. Indien moontlik, gee ook die aard van die beserings.

5. Vra spesiale hulp indien daar ’n swanger persoon betrokke is, of jy vermoed iemand het ’n hartaanval.

Moet nie die foon neersit voor die operateur jou opdrag gee om dit te doen nie.

19.5.14

Diabetes en swangerskap

Kenners meen al lank dat diabetes in swanger vroue nie altyd opgetel word nie. Nuwe riglyne gepubliseer in die Journal of Clinical Endocrinology and Metabolism beveel aan dat swanger vroue ’n toets vir diabetes ondergaan met hul eerste besoek aan die dokter wanneer hulle besef of vermoed hulle is swanger.

Diabetes kan nadelig wees vir beide die ma en haar fetus. Om beide gesond te hou is dit belangrik dat die toets sodra moontlik gedoen word.

Soveel as een uit elke vyf vroue ontwikkel ’n tipe diabetes wat met swangerskap verband hou. Die gevolg hiervan is normaalweg ’n abnormale groot baba.

Die nuwe riglyne beveel ook aan dat vroue wat oorgewig is probeer om gewig te verloor voor hulle swanger raak.



foto: David Roseborough

14.5.14

Noodhulp, behandelingsprioriteite

Wanneer iemand noodhulp nodig het, moet die volgende toetse uitgevoer word om vas te stel wat jy moet doen om te help.

Lugweg en asemhaling
Kyk of die lugweg oop is en die persoon asemhaal. Indien nie moet jy dadelik begin met kunsmatige asemhaling.

Bloeding
Kyk of die persoon bloei en beheer dit.

Bewusteloosheid
Plaas ’n bewustelose persoon in die herstelposisie en stel die bewussynsvlak vas. Indien die moontlikheid van ’n ruggraatbesering bestaan, moet jy nie die persoon beweeg nie – tensy hulle moeilik asemhaal.

Skok
Hou die persoon warm en stil en laat die persoon lê tot mediese hulp opdaag.

Ander
Tesny die omgewing gevaarlik is, moet alle beserings behandel word voor die persoon verskuif word. Indien daar gevaar bestaan moet jy die beseerde deel van die liggaam immobiliseer voor die persoon verskuif word.



(foto Aleksi Aaltonen)

12.5.14

Inenting

Inenting het al talle lewens gered sedert entstowwe algemeen beskikbaar geraak het. Inenting dwing die liggaam om immuniteit te skep. Tydens die proses word ’n verswakte vorm van die infeksie in jou liggaam geplaas. Jou immuunstelsel beveg dit en so word immuniteit geproduseer.

Daar is entstowwe beskikbaar vir ’n verskeidenheid siektes, soos byvoorbeeld waterpokkies, polio, masels, pampoentjies en griep.



(foto James Gathany)

7.5.14

Die Silvester-metode vir kunsmatige asemhaling

Indien mond-tot-mond-asemhaling nie moontlik is nie en die persoon is op hulle rug vasgepen, of moet op hulle rug wees, moet die Silvester-metode gebruik word.

Die persoon moet verkieslik op ’n stewige oppervlak lê. Verwyder enige versperrings uit die mond. Plaas iets soos ’n opgevoude kledingstuk of kussing onder die skouers, sodat die kop tot in die ooplugweg-posisie agteroor kan kantel.

Kniel by die persoon se kop, neem die polse en kruis hulle oor die onderste deel van die borskas – hou dit weg van die buik. Wieg nou vorentoe, terwyl jy jou rug reguit hou en druk 2 sekondes lank stewig op die onderste deel van die borskas.

Ontspan die druk, wieg agtertoe en trek met ’n ononderbroke swaaibeweging die ongeval se arms 3 sekondes lank so vêr moontlik opwaarts en uitwaarts. Herhaal dit 12 keer per minuut.

Toets vir ’n hartklop na 4 siklusse. Indien die hart klop, gaan voort tot die natuurlike asemhaling herstel het. Indien daar nie ’n hartklop is nie, pas uitwendige borskassamedrukking toe. Indien die persoon nie reageer nie, gaan voort met die kunsmatige asemhaling, met 15 borskassamedrukkings vir elke 2 Silvester-ventilasies.

Indien die persoon normaal begin asemhaal, plaas hom/haar in die herstelposisie.

5.5.14

Nuwe toets vir hoë bloeddruk tydens swangerskap

’n Nuwe toets wat die vlak van 'n plasentale proteïen nagaan kan dokters help bepaal of 'n vrou 'n ernstige vorm van hoë bloeddruk tydens swangerskap gaan ontwikkel. Hoë bloeddruk affekteer 6 tot 8 persent van swanger vroue in die Westerse wêreld. In Suid-Afrika is dit een van die grootste oorsake van sterftes onder moeders.

Pre-eklampsie is ’n komplekse vorm van hoë bloeddruk tydens swangerskap en kan die niere, lewer en brein beskadig en lei tot fetale komplikasies soos voortydige aflewering, lae geboorte gewig en stilgeboorte. Die toets is spesifiek ontwerp om vroue met pre-eklampsie vooraf te identifiseer. Vorige toetse kon dit slegs opspoor wanneer die toestand reeds skade aangerig het.

Die toets is reeds in 2013 in die VSA vrygestel.

29.4.14

Immuniteit

Immuniteit is die liggaam se vermoë om teenliggaampies teen infeksies te produseer en infeksies te onthou.

Immuniteit word op verskeie maniere geskep:

• Keer dat infeksies in die liggaam kom; byvoorbeeld slym wat stofdeeltjies opvang.
• Dit maak vreemde mikrobes dood; byvoorbeeld witbloedselle wat na plekke met infeksie beweeg en mikrobes doodmaak, gifstowwe verwyder en teenliggaampies vervaardig wat verdere infeksie beveg. So word aansteeklike siektes soos waterpokkies en pampoentjies onthou en teenliggaampies word daarvoor vervaardig sodat jy dit nie weer kry nie.
• Oorgeerfde immuniteit; soms erf jy die genetiese voordeel om meer immuun te wees teen sekere infeksies.