Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Hoë bloeddruk. Show all posts
Showing posts with label Hoë bloeddruk. Show all posts

28.10.14

Nog ’n oorsaak van hoë bloeddruk en hartsiektes

Dit wil voorkom asof te veel fosfaat in die liggaam nadelig kan wees vir jou gesondheid. Geprosesseerde kosse, parmesaan, bakpoeier en koladrankies is ryk aan fosfaat. Fosfate word oor die algemeen baie gebruik as preserveermiddels.

Wanneer groot hoeveelhede fosfaat verteer word, word die produksie van die FGF23-hormoon gestimuleer. Dié hormoon word in die bene geproduseer. Dit het ’n negatiewe uitwerking op die mens se kardiovaskulêre stelsel.

FGF23 beïnvloed die uitskeiding van sodium deur die niere. Hoe meer FGF23 daar in die liggaam is, hoe moeiliker raak jy van sout ontslae, te veel sout lei tot probleme met jou bloeddruk.

FGF23 beïnvloed ook die kalsiumvlak in jou liggaam. Kalsium word ook in die niere filtreer. Te veel FGF23 in die liggaam veroorsaak dat te veel kalsium deur die niere geherabsorbeer word, wat verkalking van are en nierprobleme veroorsaak.

11.8.14

Hoë bloeddruk ’n groot probleem in Suid-Afrika

Suid-Afrika het die hoogste voorkoms van hoë bloeddruk in die wêreld by persone ouer as 50 jaar.

’n Nuwe studie het bevind dat sowat 78% van Suid-Afrikaners in hierdie ouderdomskategorie aan hoë bloeddruk ly. Minder as 10% van hulle probeer die probleem beheer. Slegs 38% van die persone wat getoets is was bewus daarvan dat hulle hoë bloeddruk het. Die probleem in Suid-Afrika word toegeskryf aan die feit dat mense oorgewig is en min oefening doen.

Hoë bloeddruk verhoog jou kanse op ’n hartaanval of ander hartsiektes.

Die studie is gepubliseer in die International Journal of Epidemiology, volume 43, nommer 1 van Februarie 2014.

9.6.14

Koppie koffie dalk goed vir jou bloedvate

Die kafeïen in 'n koppie koffie kan jou klein bloedvate dalk help om beter te werk, volgens navorsing wat deur die American Heart Association bekendgemaak is.

Die studie het aangetoon dat die drink van 'n koppie koffie die bloedvloei in 'n vinger aansienlik verbeter. Bloedvloei in die vinger is 'n aanduiding van hoe goed die binneste voering van die liggaam se kleiner bloedvate werk.

Kafeïenvrye koffie is ook gebruik. Gewone koffie se effek was 30% beter as die kafeïenvrye koffie. Die studie het wel getoon dat gewone koffie mense se bloeddruk effens verhoog. Beide soorte koffie het geen beduidende invloed op die hartklop gehad nie.

Die studie suggereer dat koffie help om bloedvate oop te maak en inflammasie verminder.



(foto Julius Schorzman)

2.6.14

Gaskoeldrank en suiker het dalk ’n negatiewe uitwerking op die niere

Verskeie onlangse studies dui daarop dat gaskoeldrank en suiker ’n negatiewe uitwerking het op die gesondheid van jou niere.

In een studie is bevind dat twee gaskoeldranke per dag kan lei tot ’n toestand wat gekenmerk word deur die verhoogde uitskeiding van proteïene in die uriene - algemeen kenmerkend van nierprobleme.

In die ander studie het navorsers vasgestel dat die matige gebruik van suiker die niere se vermoë om die liggaam se soutbalans te help handhaaf nadelig beïnvloed. Dit veroorsaak dat die selle in die niere meer sout absorbeer as wat dit moet. Dié bevinding kan dalk help verduidelik hoekom sekere versoeters bydra tot die ontwikkeling van diabetes, nierprobleme en hoë bloeddruk.



Meer inligting:
Soft Drink Intake and Prediction of Proteinuria: A Retrospective Cohort Study. (Ekstrak 2458) Chronic Consumption of Fructose Increases Proximal Tubular Transport by Enhancing the Sensitivity to Angiotensin II. (Ekstrak 3955)

5.5.14

Nuwe toets vir hoë bloeddruk tydens swangerskap

’n Nuwe toets wat die vlak van 'n plasentale proteïen nagaan kan dokters help bepaal of 'n vrou 'n ernstige vorm van hoë bloeddruk tydens swangerskap gaan ontwikkel. Hoë bloeddruk affekteer 6 tot 8 persent van swanger vroue in die Westerse wêreld. In Suid-Afrika is dit een van die grootste oorsake van sterftes onder moeders.

Pre-eklampsie is ’n komplekse vorm van hoë bloeddruk tydens swangerskap en kan die niere, lewer en brein beskadig en lei tot fetale komplikasies soos voortydige aflewering, lae geboorte gewig en stilgeboorte. Die toets is spesifiek ontwerp om vroue met pre-eklampsie vooraf te identifiseer. Vorige toetse kon dit slegs opspoor wanneer die toestand reeds skade aangerig het.

Die toets is reeds in 2013 in die VSA vrygestel.