Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



14.10.19

Hitte-uitputting

Hitte-uitputting word veroorsaak deur die verlies van sout en water uit die liggaam.

Simptome en tekens
• Persoon is moeg en rusteloos.
• Kan hoofpyn hê en duiselig en naar voel.
• Krampe in die bene en buik as gevolg van ’n sout tekort.
• ’n Bleek gesig en die vel voel koud en klam.
• Asemhaling is vinnig en vlak.
• Pols is vinnig en vlak.
• Temperatuur sal normaal wees, of dit sal daal.
• Enige skielike beweging kan die persoon laat flou word.

Behandeling
1. Laat die persoon op ’n koel plek lê.
2. Gee klein slukkies koue water.
3. Indien die persoon erg sweet, krampe of diarree het en/of vomeer, voeg ’n teelepel sout by elke 0,5 liter water.
4. Indien die persoon bewusteloos is, plaas in die herstelposisie.
5. Kry mediese hulp.

7.10.19

Bewyse dat gemmer effektief is vir die behandeling van braking by kinders

Meeste kinders sal in hul eerste drie lewensjare aan gastro ly. Braking kom voor by driekwart van dié kinders – wat ’n gevaar vir dehidrasie inhou. Terwyl die kinders gewoonlik suksesvol behandel word, beland ’n groot persentasie in die hospitaal.

Onlangse navorsing het bevind dat gemmer effektief gebruik kan word vir die behandeling van braking by kinders met akute gastro. Daar is bevind gemmer kan die duur en die erns van braking verminder.

Die navorsing was ’n gesamentlike poging van die European Laboratory for the Investigation of Food Induced Diseases en die Universiteit van Napels in Italië.

30.9.19

Waterpokkies

Waterpokkies is 'n aansteeklike velsiekte. Die lyer kry 'n uitslag van klein donkerrooi knoppies op die lyf. Dit begin gewoonlik op die bors, rug, en die gesig en versprei dan na die res van die liggaam.

Ander simptome kan koors, moegheid en hoofpyn insluit. Simptome duur gewoonlik vyf tot sewe dae. Die vroeë simptome by adolessente en volwassenes is naarheid, gebrek aan eetlus, spierpyne en hoofpyn. Dit word gevolg deur die kenmerkende uitslag of sere in die mond en koors. By kinders is die eerste teken 'n uitslag of kolle in die mond. Die uitslag begin gewoonlik as klein rooi kolle op die gesig, kopvel, torso, boonste arms en bene.

Boereraat:

'n Waterpokkie-uitslag kan met 'n oplossing van een druppel pepermentolie en een druppel kamille-olie in 'n liter water behandel word. Maak die uitslag met die mengsel nat met 'n skoon waslap.

♦♦♦

Smeer mielieblom aan vir die jeuk.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

23.9.19

Angs

Angs is ’n baie onaangename vae gevoel van afwagting, gepaard met liggaamlike sensasies, onrustigheid en rusteloosheid.

Die belangrikste kenmerk waarna sielkundiges sal kyk is onrealistiese of oormatige kommer rakende twee of meer lewensomstandighede, bv. kommer oor finansies sonder ’n grondige rede. Hiermee saamgaan gaan amper 20 simptome. Sielkundige klassifikasie vereis dat ’n sekere aantal van hierdie simptome teenwoordig sal wees.

Die simptome sluit in: bewing, rukking of ’n bewerige gevoel; spiere wat pyn; rusteloosheid; vinnige uitputting; hartkloppings; kortasem of ’n benoude gevoel; sweterigheid of koue klam hande; droëmond; duiseligheid of lighoofdigheid; naarheid; diarree of ander maagprobleme; warm of koue gloede; gereelde urinering; probleme om te sluk; jy is baie gevoelig; ’n oordrewe skrikrespons; konsentrasieprobleme of blanko denke; slaapprobleme; en geïrriteerdheid.

Ongeag hoe goed dit met hierdie persone gaan, hulle is altyd angstig en bekommerd.

16.9.19

Die uitwerking van oorverhitting

Gedurende oefening word hitte in die spiere verwek en deur die bloed na alle dele van die liggaam versprei. Dit veroorsaak dat die algemene liggaamstemperatuur styg. Die liggaam reageer op die volgende manier om van die hitte ontslae te raak:

• Die haarvate vergroot en meer bloed word na die oppervlak van die vel vervoer. Dit laat die hitte ontsnap. Dit is wat jou warm en rooi laat lyk.
• Die sweetkliere produseer meer sweet. Die sweet verdamp en koel die liggaam af in die proses.
• Asemhaling neem toe en die hitte ontsnap deur die longe.

Indien jy nie genoeg afkoel nie kan twee toestande ontstaan; hitte-uitputting of hittesteek.

9.9.19

Depressie

Depressie is een van die mees algemene sielkundige aandoenings. Dit kan deur omstandighede of ´n biochemiese wanbalans veroorsaak word.

Simptome sluit in geen eetlus, ´n groter eetlus, moegheid, slaap te min of te veel, angs, lae seksdrang, hulpeloosheid en lae konsentrasie.

Kry professionele hulp as jou simptome ernstig is en meer as twee weke aanhou.