Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



22.5.17

Die algemene behandeling van frakture

Ongevalle moet glad nie beweeg word, tensy dit absoluut nodig is. Indien die persoon verskuif moet word, doen dit baie versigtig. Maak die persoon so gemaklik moontlik.

1. Ernstige bloeding, moeilike asemhaling en bewusteloosheid moet altyd eerste behandel word.
2. Behandel altyd ’n fraktuur in die posisie wat die persoon gevind is.
3. Hou die beseerde liggaamsdeel stil en ondersteun dit met die hand.
4. Indien die persoon gou by ’n hospitaal moet kom, ondersteun die beseerde deel versigtig en ondersteun die persoon tydens die vervoer.

15.5.17

Allergiese kontakdermatitis

Allergiese kontakdermatitis is ’n hipersensitiwiteit vir kontak met sekere stowwe. Die vel sal ’n allergiese reaksie hê op hierdie stowwe.

Daar is meer as 3 000 stowwe wat dit kan veroorsaak. Dit sluit in nikkel (in naelpolitoer, juweliersware), hars (in gom), sement, leer, rubber, kleurmiddels, rome (dink aan sonbrandroom, antibiotiese rome), lanolien en verskeie plante.

Diagnose moet deur ’n dokter gemaak word. Daar is ook ’n toets wat jy kan laat doen by ’n kliniek.

Simptome en tekens
• Jeuk
• Pyn
• Rooiheid
• Swelling
• Asook moontlik blasies op die vel

Die lyer moet die stowwe probeer vermy. Behandeling sluit in die gebruik van kortikosteroïede rome.

10.5.17

Frakture

’n Fraktuur is ’n gebreekte of gekraakte been. ’n Been kan kraak of breek indien dit ’n hou kry, gedraai of oorspan word.

Gewoonlik is daar baie krag nodig om ’n been te breek, maar bejaardes se bene is bros en ’n fraktuur kan maklik gebeur.

Alle frakture moet baie versigtig hanteer word. Swak hantering kan skade aan die omliggende weefsel veroorsaak.

4.5.17

Kopluise

Boereraat:

Vryf mayonnaise in die hare en bedek die kop vir 2 uur met ’n stortkappie.
Spoel die kop af met onverdunde asyn.
Was en spoel daarna goed af.

♦♦♦

Meng 250 mℓ kookolie, 250 mℓ asyn en 250 mℓ paraffien.
Skud goed.
Deurweek jou droë hare daarmee.
Laat staan vir ± 20 minute.
Was dan met sjampoe in louwarm water.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

3.5.17

Atopiese dermatitus

Die lyer se vel is sensitief vir sekere stowwe en dit veroorsaak ’n tipe inflammasie. Ons praat ook hiervan as ekseem.

Dit kan op so jonk as 2 maande begin.

In chroniese gevalle kan die vel begin verdik en daar kan areas wees wat uiters gevoelig is. Sekondêre bakteriële infeksies kan hierop volg.

Dit is ook nie vreemd dat lyers sal sukkel met allergiese neusontsteking of asma nie.

26.4.17

Allergiese oogontsteking

Allergiese oogontsteking gaan gewoonlik hand aan hand met allergiese neusontsteking, maar kan alleen ook voorkom.

Die algemeenste hiervan noem ons hooikoors en dit word veroorsaak deur die stuifmeel on die lug. Dit kan egter ook veroorsaak word deur stofmyte en troeteldiere.

Simptome en tekens
  • Oë wat jeuk
  • Tranerige oë

Die beste behandeling vir hierdie tipe allergiese reaksie is om die oorsaak te vermy, maar dit is ongelukkig selde prakties. Daar is ’n verskeidenheid antihistamiene en oogdruppels wat gebruik kan word.

19.4.17

Lae bloedsuiker (Hipoglisemie)

Indien ’n diabeet per ongeluk te veel insulien ingeneem het, te min kos geëet het of ’n maaltyd oorgeslaan het, of indien oefening die suiker verbrand, daal die konsentrasie suiker in die bloed.

Lae bloedsuiker sal die brein aantas en indien dit lank voortduur of baie laag is, kan dit tot bewusteloosheid en moontlik die dood lei.

Simptome en tekens
• Die persoon kan lighoofdig wees en bewus daarvan dat die suikervlak laag is.
• Die persoon kan verward en gedisoriënteer wees en kan dronk en moontlik aggressief voorkom.
• Die vel word bleek en die persoon sweet erg.
• Die pols is vinnig.
• Die asemhaling is swak en reukloos.
• Ledemate kan begin bewe.
• Ongeval se bewussynsvlak kan vinnig versleg.