Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



27.5.15

Kneuswond

’n Kneuswond word veroorsaak deur ’n val of ’n hou met ’n stomp voorwerp wat die vel laat bars en die omliggende weefsel kneus.

’n Kneuswond hou die risiko in van skade aan enige onderliggende strukture. Tydens ’n kneuswond lek bloed uit die beskadigde bloedvate in die weefsel in, hoewel die vel heel bly.

26.5.15

Kanker ’n groter gevaar vir vroue met vetsug

Daar is ’n groter risiko vir vroue met vetsug om kanker te ontwikkel – die kanse is tot 40% meer.

Hierdie syfer is verskaf deur Cancer Research UK. Daar is veral sewe tipes kanker waarop hierdie vroue bedag moet wees: kolon, bors, galblaas, baarmoeder, nier, slukderm en pankreas.

Die risiko van kanker is gekoppel aan ’n verskeidenheid van faktore; gene, ons omgewing en ons leefstyl. ’n Faktor soos vetsug is een wat ons kan beheer deur ’n verandering in leefstyl.

20.5.15

Skietwond

Skietwonde kan ernstige inwendige beserings tot gevolg hê. Pasiënte moet vir beide inwendige en uitwendige bloeding behandel word, want inwendige organe, weefsel en bloedvate word deur die koeël beskadig. Let op dat die wond waar die koeël die liggaam verlaat gewoonlik groter is as die een waar dit binnegaan.

19.5.15

Melkdissel gebruik as behandeling vir Cushing-siekte

Cushing-siekte word veroorsaak deur ’n gewas in die pituïtêre klier in die brein. Die gewas skei toenemend streshormone af, wat weer die vrylating van kortisol uit die byniere tot gevolg het. Dit lei tot vinnige gewigstoename, verhoogde bloeddruk en spierswakheid. Pasiënte is geneig om osteoporose, infeksies en kognitiewe probleme te ontwikkel. Depressie kom ook algemeen voor.

Al hoe die siekte tot dusvêr behandel is, is deur ’n breinoperasie wat die gewas probeer verwyder. Vir diegene wat nie die operasie kan ondergaan nie is daar ’n alternatiewe terapie, maar dit kan die pasiënt se bloedsuikervlakke geweldig versteur.

Navorsers by die Max Planck Instituut vir Psigiatrie in Duitsland het nou vasgestel dat ’n ekstrak van die sade van die melkdissel gebruik kan word om Cushing-siekte te behandel. Dit word alreeds gebruik vir die behandeling van lewersiektes en vergiftiging.



(foto: Curtis Clark)

13.5.15

Skuurwond

’n Skuurwond is gewoonlik die gevolg van ’n skurende val. Die oppervlak van die vel word afgeskraap en dit laat ’n teer rou wond.

Hierdie wonde bevat dikwels vullis wat tydens die besering daar vassit en maklik kan ontsteek.

12.5.15

Gereelde drankgebruik lei tot lewersirrose

Medici was nog altyd onder die indruk dat die gebruik van groot volumes alkohol lewersirrose veroorsaak. Navorsers aan verskeie Deense universiteite het nou egter bevind dat gereelde drankgebruik, al is dit matig, ook lewersirrose kan veroorsaak.

Meer as 55 000 mense is in die studie gebruik. Dit is gepubliseer in die Journal of Hepatology.

11.5.15

Medikasie vir prostaatkanker help vir Alzheimer's

Medikasie wat nog altyd voorgeskryf is vir mans met prostaatkanker kan ook help om geheueverlies in vroulike pasiënte met Alzheimer’s te bekamp.

Daar is vroeër bevind dat mans met prostaatkanker wat Lupron Depot neem minder geneig is om Alzheimer’s te ontwikkel. Nou is ’n formele studie deur die Universiteit van Wisconsin-Madison gedoen op vroue, met dieselfde bevindings.

Verdere navorsing is nodig hierin, maar die maatskappy wat die oorspronklike navorsing geborg het, bestaan nie meer nie.