Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



2.2.15

Prostaatkanker en tamaties

Mans wat meer as 10 porsies tamaties per week eet het ’n laer risiko vir prostaatkanker.

Prostaatkanker is die tweede mees algemene kanker onder mans wêreldwyd.

Die Universiteite van Bristol, Cambridge en Oxford het amper 14 000 mans se diëte nagegaan vir die navorsing wat tot hierdie bevinding gekom het.

Die studie is gepubliseer in die joernaal Cancer Epidemiology, Biomarkers and Prevention.

28.1.15

Noodhulp: Buikdrukking vir kinders wat verstik

1. Plaas die kind op jou skoot of laat hom / haar staan as hulle groot genoeg is. Plaas een arm om die buik. Maak ’n vuis en plaas die duim binnewaarts in die middel van die bobuik. Ondersteun die kind se rug met jou ander hand.
2. Druk jou vuis in die buik met ’n vinnige opwaartse en inwaartse beweging. Gebruik baie minder druk as wat jy sou vir ’n volwassene. Herhaal tot vier maal indien nodig. Die druk moet hard genoeg wees om die versperring los te maak.

Vir ’n bewustelose kind gebruik jy dieselfde metode as vir volwassenes, maar druk net met een hand.

27.1.15

Nuwe hoop vir die behandeling van algemene bloedarmoede

Daar is nuwe eksperimentele medikasie wat ontwerp is om die liggaam se yster-voorraad meer doeltreffend te reguleer en sodoende bloedarmoede die hoof bied.

Bloedarmoede (anemie) ontstaan wanneer daar ’n tekort aan rooibloedselle in die liggaam is of as die rooibloedselle nie doeltreffend funksioneer nie. Die liggaam verswak weens ’n tekort aan suurstof en yster. Die lyer word maklik moeg en ly gereeld aan uitputting. Gewoonlik is ’n ystertekort die oorsaak.

Die medikasie wat tans getoets word, lexaptepid, fasiliteer die verspreiding van yster via rooibloedselle.

Die aanvanklike uitslae van die navorsing met die nuwe medikasie is in die joernaal Blood gepubliseer.

26.1.15

Toep identifiseer geelsug by baba’s

Geelsug kom algemeen voor by pasgebore baba’s. ’n Geel velletjie is ’n aanduiding hiervan, maar dit is nie altyd maklik om te sien nie.

Ingenieurs en dokters aan die University of Washington het nou ’n slimfoon toepassing ontwikkel wat geelsug in baba’s opspoor. Die uitslag bied ’n goeie aanduiding of ’n baba ’n bloedtoets vir geelsug moet ondergaan.

Geelsug is ’n gevolg van die galkleurstof in die bloed, ’n byproduk van die afbreek van rooibloedselle. Die lewer verwerk hierdie stof, maar baba’s se lewer funksioneer gewoonlik nog nie goed genoeg daarom effektief te doen nie. As dit nie behandel word nie, kan ernstige geelsug breinskade veroorsaak.



Die toepassing word genoem Bilicam en dit gebruik die slimfoon se flits en ’n gekalibreerde kleurkaart om geelsug te identifiseer. Die kaart word op die baba se maag geplaas en ’n foto word geneem met die kaart ook in die prentjie. Die uitslag word dadelik na die foon gestuur.

21.1.15

Dagga help dalk teen Alzheimer’s

’n Groep neurowetenskaplikes aan die University of South Florida in Amerika het bevind dat ’n chemiese bestanddeel van dagga, die bekende THC-komponent, dalk help om die ontwikkeling van Alzheimer’s te vertraag.

Die bevindings is gepubliseer in die Journal of Alzheimer's Disease; "The Potential Therapeutic Effects of THC on Alzheimer's Disease".

20.1.15

Noodhulp: Buikdrukking vir bewustelose persone wat verstik het

1. Draai die persoon op sy / haar rug met die kop in die ooplugweg-posisie. Kniel wydsbeen oor die persoon se dye sodat u genoeg druk op die korrekte middelbuikposisie kan uitoefen. As jy nie oor die persoon kan kniel nie, kniel langsaan.
2. Plaas die onderkant van jou palm in die middel van die persoon se bobuik en bedek dit met jou ander hand. Hou jou vingers sovêr moontlik weg van die buik.
3. Hou jou arms reguit en druk op die buik met ’n vinnige opwaartse en voorwaartse drukking; vier maal indien nodig. Die druk moet hard genoeg wees om die versperring los te kry.

19.1.15

Alkoholiste dalk meer vatbaar vir griepvirus

’n Studie op muise het bewys dat alkoholiste dalk meer vatbaar is vir die griepvirus as ander mense.

Gereelde alkoholgebruik beskadig selle wat ’n teenreaksie moet loods as die liggaam die griepvirus identifiseer. Die gevolge kan so erg wees dat ’n algemene infeksie lewensgevaarlik kan raak. Dit word al sedert die 19de eeu algemeen aanvaar dat swaar alkoholgebruik ’n mens meer vatbaar maak vir longinfeksies.

Dit wil voorkom asof alkoholiste baie meer vatbaar is vir beide bakteriële en virale infeksies.