Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



20.1.15

Noodhulp: Buikdrukking vir bewustelose persone wat verstik het

1. Draai die persoon op sy / haar rug met die kop in die ooplugweg-posisie. Kniel wydsbeen oor die persoon se dye sodat u genoeg druk op die korrekte middelbuikposisie kan uitoefen. As jy nie oor die persoon kan kniel nie, kniel langsaan.
2. Plaas die onderkant van jou palm in die middel van die persoon se bobuik en bedek dit met jou ander hand. Hou jou vingers sovêr moontlik weg van die buik.
3. Hou jou arms reguit en druk op die buik met ’n vinnige opwaartse en voorwaartse drukking; vier maal indien nodig. Die druk moet hard genoeg wees om die versperring los te kry.

19.1.15

Alkoholiste dalk meer vatbaar vir griepvirus

’n Studie op muise het bewys dat alkoholiste dalk meer vatbaar is vir die griepvirus as ander mense.

Gereelde alkoholgebruik beskadig selle wat ’n teenreaksie moet loods as die liggaam die griepvirus identifiseer. Die gevolge kan so erg wees dat ’n algemene infeksie lewensgevaarlik kan raak. Dit word al sedert die 19de eeu algemeen aanvaar dat swaar alkoholgebruik ’n mens meer vatbaar maak vir longinfeksies.

Dit wil voorkom asof alkoholiste baie meer vatbaar is vir beide bakteriële en virale infeksies.

14.1.15

Noodhulp: Buikdrukking

’n Reeks drukkings op die boonste deel van die buik in ’n poging om lug uit die longe te forseer tydens verstikking. Gebruik slegs buikdrukking indien houe op die rug nie werk nie, want dit kan ander organe beskadig.

1. Neem plaas agter die persoon en plaas een arm om die buik. Maak ’n vuis en plaas dit, met die duim na binne, in die middel van die bobuik, tussen die naeltjie en die borsbeen.
2. Vat die vuis met die ander hand vas.
3. Trek nou albei hande vinnig na jou toe met ’n vinnige opwaartse en inwaartse drukking, sodat die bobuik teen die onderkant van die longe saamdruk. Herhaal tot vier maal indien nodig; elke drukking moet hard genoeg wees om die versperring los te kry.

13.1.15

Fetale blootstelling aan alkohol verbind aan gewigsprobleme

’n Nuwe studie het bevind dat kinders met fetale alkoholsindroom of gedeeltelike fetale alkoholsindroom geneig is om oorgewig te wees tydens adolessensie; sommige selfs ernstig vetsugtig.

Dit is nog nie duidelik of die probleem biologies van aard is en of dit ’n gedragsprobleem is nie; of selfs ’n kombinasie van die twee.

12.1.15

Aspiriene mag dalk help met bloedklonte

Aspiriene is dalk ’n goeie alternatiewe behandeling om te oorweeg om herhalende bloedklonte te voorkom.

Twee studies wat oor die tydperk van twee jaar onderneem is, het bevind dat die gebruik van aspiriene die kanse op herhalende bloedklonte met tot 42% verminder.

Dit is goeie nuus vir persone wat sukkel met diep binneaarse trombose, waar bloedklonte in are wat diep in die bene lê ontstaan, opbreek en in die longe beland waar dit are verstop.

Indien jy al ’n bloedklont gehad het, is jou kanse tot 10% om weer ’n klont in dieselfde jaar te ontwikkel. Daarna vermeerder jou kanse met sowat 5% per jaar.

Pasiënte word sterk aanbeveel om die gebruik van aspiriene eers met hul dokter te bespreek.

Die bevindings van die studies is gepubliseer in die joernaal Circulation.

7.1.15

Noodhulp: Bewustelose persone wat verstik het

1. Draai die persoon op sy of haar rug, maak die lugweg oop en begin met kunsmatige asemhaling.
2. Indien dit nie werk nie, rol die persoon met sy of haar gesig na jou toe met die borskas op jou bobeen. Dien vier houe toe op die rug.
3. Kyk of die versperring losgekom het, haal dit uit indien wel.
4. Indien nie, draai die persoon op die rug en pas buikdrukking toe. Kyk weer in die mond.
5. Herhaal die stappe indien die versperring nie loskom nie.
6. Indien die versperring uit is, plaas die persoon in die herstelposisie.

6.1.15

Strawwe oefening goed vir ouer dames

Ouer vrouens kan hul kanse op sekere hartsiektes verlaag deur die intensiteit van hul oefenprogramme te verhoog. Dit is die bevinding van ’n studie gepubliseer in die Journal of the American Heart Association.

Interessant was dat die bevindings daarop dui dat, al lei ’n dame aan vetsug, as die intensiteit van haar oefening hoër is as iemand wat nie vetsugtig is nie, is haar kanse minder om hartsiektes op te doen.