Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

31.8.26

Kruie vir kwale: Maagpyn

Die Khoisan het die blare van die langblaar boegoe gekou om maagprobleme te verlig.

♦♦♦

Maak ‘n aftreksel deur die wortels en stingels van die graweelwortel in water te kook. Die aftreksel kan in klein hoeveelhede gedrink word vir maagprobleme.

♦♦♦

Kook 'n aftreksel van die wortel van die bitterwortel. Drink ‘n bietjie 3 maal per dag vir maagpyn. (Khoisan)
(Die bitterwortel is 'n bedreigde plant. Moet hulle nie uit hul natuurlike omgewing verwyder nie. Koop dit van 'n kwekery.)

♦♦♦

Die sap van die blare van suurvye kan gebruik word vir die behandeling van maagpyn.

♦♦♦

Meng 5 druppels naeltjie-olie op 'n bietjie suiker saam met 'n paar druppels water. Dit is baie doeltreffend om maagpyn te verlig.

♦♦♦

Lewensessens word algemeen gebruik vir maagprobleme. Die aktiewe bestanddeel van lewensessens is bitteraalwyn.

♦♦♦

Kajapoetolie kan gebruik word vir maagpyn. Neem 1 – 3 druppels met suikerwater.

♦♦♦

Duiwelsdrek kan gebruik word vir maagpyn. Neem drie maal daagliks saam met melk of heuning genoeg hiervan om die punt van ‘n mes toe te maak.

♦♦♦

Balsem Vita, ’n preparaat van verskillende olies, word aanbeveel vir die verligting van maagpyn. Dit kan met veiligheid vir kinders en babas gegee word. Vir volwassenes 20 – 30 druppels 4 of 5 keer daagliks saam met warm water of tee. 10 druppels is genoeg vir kinders en 5 druppels in bietjie lou soet water vir babas.
Die olies wat gebruik word vir die preparaat is kassia, laventel, naeltjie, neutmuskaat en tiemie.

♦♦♦

Makkalmoes word tradisioneel deur die Zoeloe mense gebruik om maagkrampe te behandel. Die risome word normaalweg gekook en gebruik.

♦♦♦

Die Zoeloes gebruik al lank reeds watersalie vir maagpyn. Die resep is twee blare in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

♦♦♦

Neem 2 tot 4 blare van die kankerbossie en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Volgens die Khoi kan jy hierdie flou tee kan jy drink vir maagprobleme.

♦♦♦

Vir maagprobleme. Week ’n takkie wilde salie in ’n koppie kookwater vir 10 minute.
Gooi dit deur ’n siffie en meng 3 eetlepels Engelse sout by en bietjie suurlemoensap. Hou die mengsel in ’n lugdigte houer en gee die pasiënt gereeld klein bietjies daarvan.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n eetlepel wilde salie blare en laat dit trek vir 5 minute. Daarom meer drinkbaar te maak kan jy dit versoet met heuning en ’n skyfie suurlemoen byvoeg. Die tee kan gedrink word vir maagprobleme.

♦♦♦

Die blare van die maagpynbossie word al jare in die Wes-Kaap gebruik as medikasie vir maagpyn. Trek 10 g blare in ’n koppie kookwater vir 5 minute. Drink dit stadig.

♦♦♦

’n Sterk aftreksel gemaak van die bitterbos kan eerste ding in die oggend gedrink word as ’n vinnig werkende lakseermiddel. Let asseblief daarop dat dit oormatige sweet en slaaploosheid kan veroorsaak.

♦♦♦

Die gereelde gebruik van rooibostee kan verligting bied vir maagpyn.

♦♦♦

Voeg ’n paar wildeals-spruite by ’n bottel brandewyn. Laat staan vir ’n week en skud daagliks. ’n Eetlepel hiervan twee maal per dag vir maagkrampe.

♦♦♦

Boegoebrandewyn is tot in die twintigste eeu nog vir maagkwale benut en daar is vandag nog boegoe vir dit voorskryf. Een teelepel, twee maal per dag.
Hierdie medikasie word gemaak deur ’n paar jong takkies boegoe by een bottel brandewyn te voeg. Maak toe en laat staan vir ’n week, terwyl jy dit een keer per dag goed skud.

♦♦♦

Bosboegoe kan ook gebruik word. Voeg ’n paar bosboegoe-spruite by ’n bottel brandewyn. Laat staan vir ’n week en skud daagliks. ’n Eetlepel hiervan twee maal per dag.

♦♦♦

Kapokbos kan gebruik word vir die behandeling hiervan. Maak ’n tee van die blare.

♦♦♦

Meng 2 liter water met 2 eetlepels heuning, 1 eetlepel fyngekapte gemmer en 1 eetlepel gemaalde kaneel. Hou in die yskas en drink gereeld ’n bietjie daarvan.

♦♦♦

Die Hollandse setlaars het geglo dat die vrugte van die koekemakranka voordelig is vir jou maag. Hulle het die vrugte by brandewyn gevoeg en dit gebruik as medisyne.

Maak vir jou koekemakrankabrandewyn en drink dit as jou maag nie lekker voel nie.

(foto: Robert Jacob Gordon 1743-1795 The Man and his Travels at the Cape deur Patrick Cullinan)

♦♦♦

Laat jong takkies van ’n renosterbos trek in ’n bottel brandewyn. Drink soggens en saans sowat 30 mℓ hiervan. Dit help vir verskeie maagkwale, soos byvoorbeeld maagsere.

♦♦♦

Vars basielkruid help om maagkrampe te verminder.

♦♦♦

Maak tee met vinkel. Dit help vir maagpyn.

♦♦♦

Stamp die blare van die wilde als bos fyn en sit op 'n lap met asyn en plaas die lap op die maag van 'n baba met maagpyn.

♦♦♦

Trek die blare van die wilde als bos soos tee en drink.

♦♦♦

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

27.8.26

Astigmatisme

Wanneer die ronding van die oog se lens of kornea ongelyk is praat ons van astigmatisme. Dit lei tot dowwe en verwronge beelde.

’n Bril met spesifiek gevormde lense kan die probleem hanteer.

26.8.26

Kruie vir kwale: Depressie

Nog 'n plant wat die Khoisan gebruik het om die gemoedstoestand te verbeter is die kanna (kougoed). Depressie lyers kan baat vir by die gebruik van die plant. Die tradisionele voorbereiding is om die vars blare fyn te maak en vir 'n paar dae te los om te fermenteer en uit te droog. Dan word baie klein hoeveelhede van die gedroogde plant gekou. die veselagtige oorskot kan ingesluk óf weggegooi word.

♦♦♦

Die Khoisan het die bitterghaap onder andere gebruik om die gemoedstoestand te verbeter. Breek die stingel oop en verwyder die binneste wit stof versigtig. Gebruik dit soos kougom.

♦♦♦

Maak vir jou tee van 5 g basielkruid saam met heuning en jy sal nuwe lus vir die lewe kry.

♦♦♦

Saffraan kan help om verligting te bied vir ligte depressie.

♦♦♦

Eet 'n piesang. Dit bevat 'n proteïen wat die liggaam omskakel in 'n stof wat jou laat ontspan.

♦♦♦

Johanneskruid kan gebruik word vir die behandeling van depressie. Lees meer oor die gebruik van johanneskruid vir die behandeling van depressie.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

25.8.26

Kruie vir kwale: Koors

Die takkies en blare van kooigoed kan gebruik word vir koors en menstruasiepyn. Maak ‘n tee daarvan en drink daagliks.

♦♦♦

Blare van die kankerbossie word tradisioneel gebruik om koors te behandel. Neem 2 tot 4 kankerbossieblare en week hulle 3 minute in ’n koppie kookwater.

♦♦♦

Witolien kan gebruik word om die immuunstelsel te ondersteun en kan help met simptome soos ligte koors.
Kook 'n paar vars, skoon blare om ’n tee te maak. Gooi die tee deur ‘’n siffie, koel af en drink.

♦♦♦

Jy kan ’n afkooksel maak van wildeals blare daardeur vir 10 minute te kook. Dit kan gebruik word vir die behandeling van koors. Kook dit saam met knoffel om dit op die voorkop te smeer as ’n koorswerende middel.

♦♦♦

Die blare van die bontaalwyn word rou gekou of fyngemaak om die jel of sap te onttrek. Hierdie jel kan oraal ingeneem word om koors te verminder. Die jel kan ook op die voorkop gesmeer word om hoofpyn wat deur koors veroorsaak word, te verlig.

♦♦♦

Die vars blare van die kransaalwyn word gekap of fyngemaak en dan in water gekook om 'n tee of aftreksel te maak.
Dit word gedrink om koors te verminder.

♦♦♦

Die knolle van die duiwelsklou kan fyngemaak en gekook word. 'n Klein bietjie van die aftreksel word dan twee maal per dag gedrink. (Khoisan/Nama) Duiwelsklou kan ‘n allergiese reaksie veroorsaak vir sommige mense. Diegene met diabetes, maagsere en dermprobleme moet dit nie gebruik nie. Indien jy bloeddruk- of hartmedikasie gebruik kan jy nie baie hoë dosisse hiervan neem nie. As jy dit te sterk aanmaak kan kanker, nierskade of artritis veroorsaak. Swanger vroue moet dit onder geen omstandighede gebruik nie.

♦♦♦

’n Aftreksel van die boomwortels van die kiepersolboom word gebruik vir die behandeling van koors.
Week die wortels 3 tot 5 dae lank in alkohol of water te week en dan te filtreer. Jy moet omtrent ’n kg plantmateriaal gebruik vir 5 liter water. Om aftreksel te gebruik, vul 'n druppelaar of klein spuit met die vloeistof en drup dit in die mond, net onder die tong. Hou die tinktuur vir 'n paar sekondes in die mond voordat jy dit sluk. Spoel die mond dan deeglik uit met water om van die bitter smaak ontslae te raak. Die presiese dosis wat 'n persoon moet neem, hang af van hul ouderdom, maar dit is die beste om nie meer as 2 klein vol druppelaars te neem nie. Moenie tinkture aan kinders gee nie.

♦♦♦

Rastafariërs eet wildeknoffel saam met rissie wanneer hulle enige skete en pyne onder lede het. Hulle gebruik ook ’n aftreksel van die bolle en blare in hul badwater om koors te breek. Die aftreksel word gemaak deur een plant se bol en blare in koue water te week vir ’n dag lank. Die hele liggaam moet dan met die aftreksel gewas word.

♦♦♦

Tee van suurlemoengras help om koors te verlig.

♦♦♦

Plaas 10 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Drink dit vir koors.

♦♦♦

Maak ’n badmengsel deur 40 g wildeals-blare te bedek met 2 liter kookwater. Laat dit staan vir 2 uur.
Gooi deur ’n sif en botteleer.
Voeg die mengsel by jou badwater om te help met koors. Jy kan die geaffekteerde plekke liggies daarmee afspons.

♦♦♦

’n Tee gemaak van kattekruie help vir koors. Maak die tee met heuning, suurlemoensap en 'n paar blare van die kattekruie.

♦♦♦

’n Tee gemaak van die blare van die koorsbossie help vir koors.

♦♦♦

Gee koue water om te drink en ’n bietjie komkommersap elke 2 minute.

♦♦♦

Neem ’n mespunt vol kremetart met ’n bietjie water vir koors.

♦♦♦

Die kanniedood (Catharanthus roseus) se blare word gebruik vir die behandeling van ligte koors. Die basiese metode is om ’n paar blare vir 5 minute te week in kookwater en dan die tee te drink.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

23.8.26

Kruie vir kwale: Blaasinfeksie

Die knol van die sterblom word tradisioneel gebruik om 'n wye verskeidenheid kwale te behandel. ‘n Ligte aftreksel kan gebruik word vir urienweginfeksie. Die tradisionele resep is om die vars knol word deeglik skoongemaak. Dit word dan in klein blokkies gesny of gerasper, wat help om die aktiewe bestanddele vry te stel tydens die kookproses.Die mees algemene tradisionele metode is om die knol vir 20 minute in water te kook. Verwyder die pot van die hitte en laat effens afkoel. Die vloeistof word dan deur 'n fyn sif of skoon doek gesyg om die vaste stowwe te verwyder, sodat slegs die skoon aftreksel oorbly. Tradisioneel word ongeveer een koppie (±250 ml) van die warm of lou aftreksel tot drie keer per dag gedrink, gewoonlik vir 'n periode van een week. In sommige tradisionele gemeenskappe word geglo dat die gebruik van 'n blikbeker die doeltreffendheid van die aftreksel verhoog.

♦♦♦

Rooipeper kan gebruik word vir minder ernstige blaasprobleme. ‘n Kwart ‘n teelepel in water twee of drie maal daagliks.

♦♦♦

Boegoe-essens het bekendheid verwerf vir die behandeling van minder ernstige blaasprobleme. Die gewone dosis is een tot twee teelepels vol in ‘n glasie water drie maal daagliks.

♦♦♦

Sitroengras kan as 'n ligte diuretikum optree, wat urienproduksie verhoog. Dit kan help om gifstowwe uit die niere te spoel en die risiko van urienweginfeksies te verminder.

♦♦♦

Balsem-sulfuris is ‘n baie ou middel wat gebruik word vir blaasaandoenings. Neem 10 – 20 druppels twee of drie keer per dag op ’n bietjie suiker.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n hand vol vars bergtee blare. Laat dit trek vir 5 minute. Drink dit dadelik. Gebruik dit vir pyne wat gepaard gaan met blaasinfeksie.

♦♦♦

Boegoeblare is goeie behandeling vir minder ernstige blaaskwale. Berei boegoetee voor deur 'n handvol blare by 500 ml kookwater te voeg. Laat dit vir 15 minute trek. Drink 200 ml tot 400 ml op 'n keer, 3 keer per dag. Boegoe-essens kan ook gebruik word. Meng 5 ml to 10 ml essens met 200 ml water. Drink dit drie keer per dag. (Khoisan)

♦♦♦

Bosboegoe kan ook gebruik word. Voeg ’n paar bosboegoe-spruite by ’n bottel brandewyn. Laat staan vir ’n week en skud daagliks. ’n Eetlepel hiervan twee maal per dag.

♦♦♦

Bosbessiesap maak die uriene suur, wat die groei van bakterieë teenwerk en kan help om urienbaaninfeksies te voorkom.

♦♦♦

Tap vir jou genoeg louwarm water in die bad om in te sit. Voeg 5 druppels laventelolie by en sit in die water vir 15 minute.

♦♦♦

Drink ’n koppie kruisementtee as jy pyn op jou blaas het.

♦♦♦

Brandnetel is ´n wonderlike ding. Sy sap laat die sure in die bloed neerslaan. Die niere kan dan van die gemors ontslae raak. As daar te veel gemors gelyktydig by die niere aankom dan word die waterwerke verstop met al die modder. Burnet het reeds baie jare gelede vasgestel dat 5 druppels elke 2 uur net die ding is. Hoe om jou druppels te maak:
Pluk jong sappige groen brandnetel. Kap fyn en sit dit in ´n bottel. Bedek met alkohol, 26-30%.
(bydrae: Peter M von Maltitz)

♦♦♦

Meng 2 eetlepels kaneel en 1 teelepel heuning in 'n glas louwarm water en drink dit.

♦♦♦

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

21.8.26

Kruie vir kwale: MIV

Die sterblom word al eeue lank as tradisionele medisyne gebruik en het al opslae gemaak, onder die verkeerde benaming “African Potato”, toe dit deur 'n voormalige Minister van Gesondheid aanbeveel is vir insluiting in die daaglikse dieet van MIV-pasiënte. Vandag word ‘n chemiese bestanddeel van die plant wel gebruik om die immuunstelsel van MIV-pasiënte op te bou.

Die tradisionele resep vir die aftreksel:
Die vars knol word deeglik skoongemaak. Dit word dan in klein blokkies gesny of gerasper, wat help om die aktiewe bestanddele vry te stel tydens die kookproses. Die mees algemene tradisionele metode is om die knol vir 20 minute in water te kook.
Verwyder die pot van die hitte en laat effens afkoel. Die vloeistof word dan deur 'n fyn sif of skoon doek gesyg om die vaste stowwe te verwyder, sodat slegs die skoon aftreksel oorbly.
Tradisioneel word ongeveer een koppie (±250 ml) van die warm of lou aftreksel tot drie keer per dag gedrink, gewoonlik vir 'n periode van een week. In sommige tradisionele gemeenskappe word geglo dat die gebruik van 'n blikbeker die doeltreffendheid van die aftreksel verhoog.

Belangrike waarskuwing
Dit is belangrik om daarop te let dat die plant in sekere kontekste ook as gifbol bekend staan. Hoewel dit 'n belangrike rol speel in tradisionele medisyne, kan onbeheerde gebruik risiko's inhou. Selfmedikasie sonder die raad van 'n gekwalifiseerde tradisionele gesondheidspraktisyn of professionele mediese persoon word afgeraai.

♦♦♦




Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

19.8.26

Kruie vir kwale: Oogsorg

Die kankerbossie word reeds honderde jare in die Wes-Kaap gebruik vir die behandeling van oogprobleme. Een resep is om 'n handvol blare in water te kook vir 15 minute. Die vloeistof word dan dreineer en gelaat om af te koel. Die oë word dan uitgespoel met die aftreksel.

♦♦♦

Maak teesakkies met droë vinkel, wat jy dan op seer oë plaas.

♦♦♦

Maak tee met kweperblare en was jou oog daarmee.

♦♦♦

’n Druppel aalwynsap kan gebruik word vir oogpyn of inflammasie van die oog, bv. konjunktivis.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids