Die lewer is jou liggaam se chemiese fabriek. 'n Ongesonde lewenstyl vernietig jou fabriek se selle. Driekwart van hierdie selle kan vernietig word voor jou lewer ophou funksioneer. Ongelukkig is ons selde bewus van enige skade voor dit te laat is.
So hoe hou ek my lewer gesond? Volg net hierdie maklike stappe:
Hou matigheid voor oë! Vir 'n gesonde lewer behoort jy nie meer as een glas wyn (125 ml vir vroue, 250 ml vir mans) per dag te drink nie.Drink baie water.
Eet baie groente en vrugte. Jou lewer is versot op antioksidante uit die bronne. Ruil ook jou normale kookolie in vir ekstra suiwer olyfolie wat ryk is aan vitamien E en ander antioksidante.
Eet eiers, knoffel en uie. Dit help met lewerfunksie.
Jou dieet moet 'n lae glukemiese lading hê. Vermy suiker en verfynde koolhidrate.
Verloor gewig indien jy oorgewig is.
Dit is 'n goeie idee om nou bietjie meer as normaal by bogenoemde eetgewoontes te hou. Dit sal jou lewer help om te herstel na die vakansie.




