Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

20.5.24

Verlos van die puisie in ´n japtrap

Jy is oppad uit as jy daai geelmannetjie op jou gesig bespeur. Hier is ´n paar vinnige oplossings:

1) Druk ´n knoffelhuisie pap en sit die olie aan die puisie.

2) Vir ´n opgeswelde rooi puisie neem jy die medikasie wat jy vir rooi oë gebruik en maak ´n stukkie watte nat daarmee. Hou dit op die puisie vir 15 sekondes. Die rooi kleur van die puisie behoort te verdwyn.

3) Hou ´n stukkie watte met warm soutwater op die puisie vir 3 minute. Die puisie se koppie sal verdwyn.

4) ´n Bietjie wit tandepasta op ´n puisie oornag sal ´n puisie opdroog.

5) Los ´n bietjie heuning vir 10 minute op die puisie. Dit sal van die bakterieë ontslae raak en die porieë skoon hou.



(foto: Anna Nekrashevich)

16.5.24

Wintershande/Voete

Hier is ’n paar resepte van gebruikers vir wintershande- en voete:

As jy al alles probeer het, kan jy die volgende probeer. Alhoewel dit gliserien bevat, is dit nie vetterig nie.
een deel blou spiritis
een deel gliserien
twee dele melk (ja, gewone beesmelk)
Meng alles deeglik en smeer aan twee tot drie maal per dag. Dra ook sokkies vir voete om mee te slaap en as jy kan, slaap met handskoene!

Probeer Cayenne pepper - gooi dit in jou skoene, maar dit is beter om daarvan te drink, hetsy in kapsule vorm of opgelos in water, so drie keer 'n dag (1/4 teelepel opgelos in lou water, dit brand bietjie maar jy sal gewoond raak). Dit verbeter die bloedsomloop. Moenie die uit die spesery-afdeling van supermarkte gebruik nie, dit is bestraal, kry by ’n organiese handelaar onbestraalde of non-irradiated cayenne pepper, of maak jou eie deur gedroogde rissies deur 'n koffiemeul te maal. Dit werk vir baie ander dinge ook. Sal sommer jou algemene gesondheid verbeter.

Aloe Ferox se Bitter Aloe Gel vat dadelik die seer en pyn weg en tone en vingers genees vinniger en is minder sensitief. Die gel help vir enige seerplek, brandwonde, snyplekke, om bloed te stop, selfs daardie seer klein papier snytjies wat so sukkel om gesond te word en erg irriterend is. Dis goed vir uitwendige en inwendige gebruik soos in mond en pynlike tandvleis. Onthou dit brand eers erger as jy dit aansmeer, maar dadelik gaan die pyn weg. Ek is n verpleegkundige, maar gebruik in my eie huis net Bitter Aloe Gel. Ek het uit desperaatheid dit aan my voete gesmeer toe dit so seer, rooi en sensitief is ... sommer ‘n dik laag en oop voete gesit tot dit droog is, niks meer seer is nie en toe afgewas...onthou om versigtig te wees, want die bruin salf is geneig om oral af te smeer aan alles om jou. Beproef dit gerus. Dit help vir alles.

7.5.24

Kruie vir kwale: Maagseer

Neem 2 tot 4 kankerbossie blare en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Heelwat Suid-Afrikaners gebruik dit vir maagsere.

♦♦♦

Maak die wortel van die noem-noem skoon en maak fyn. Gebruik 2 teelepels in ’n koppie warm water. Drink dit vir maagsere.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

2.5.24

Allergieë

Dit is onbekend waarom sekere mense allergies is vir sommige stowwe. Sensitiwiteit vir ´n sekere stof kan mettertyd opgebou word en daar is dikwels ´n familiegeskiedenis van allergieë. Gewoonlik kom lopende neus, jeukende oë, nies, velirritasies, jeukery en uitslag voor. Asma, hooikoors en dermatitis kan veroorsaak word.

Voorkoming is die beste raad, daarom moet rekord gehou word van wat jy doen en inneem ten einde die oorsaak te bepaal. Indien ´n spesifieke sondebok vermoed word, moet jy dit vir ´n week of twee uitskakel en die situasie dophou.

Kry mediese hulp: Indien simptome langer as sewe dae voortduur of vererger of indien hooikoors verander in asma of brongitis.

23.4.24

Mondsproei - voorkoms

Mondsproei is 'n soort swaminfeksie. Dit kom meestal by babas, bejaardes en persone met HIV voor en kan uitgeken word aan opgehewe roomkleurige, witterige of geel plekkies binne-in die wange en keel. Dit kan lei tot oop sere en letsels indien dit nie behandel word nie.

Die beste behandeling is swamteenmiddels.

Raadpleeg asseblief ’n dokter as jy vermoed jy het mondsproei.



(foto : Karolina Grabowska)

22.4.24

Bewusmaking van hemofilie

 Die bekende Suid-Afrikaanse spreker, lewensafrigter, fasiliteerder en vuurloopinstrukteur, Cobus “die Viking” Visser, wil dié maand help om die kollig op hemofilie, ’n seldsame genetiese afwyking waarin die bloed nie op ’n tipiese manier stol nie, te skyn.

Wêreld Hemofilie-dag word op 17 April herdenk en vanjaar se tema is: ‘Billike toegang vir almal: Erkenning van alle bloedsiektes’. Cobus, wat as kind met hemofilie gediagnoseer is, is ’n kampvegter vir gelyke en omvattende toegang tot sorg vir alle hemofilie-lyers en wil dié geleentheid gebruik om mense bewus te maak van die siekte en die impak daarvan op die lewens van lyers, asook hulle families en versorgers.

“Hemofilie en verwante bloedsiektes is lewenslange chroniese toestande waarvoor daar geen geneesmiddel is nie. Dit beïnvloed die liggaam se vermoë om bloed te stol, wat ’n andersins onopvallende gebeurtenis, soos om per ongeluk teen iets te stamp of die tandarts te besoek, in ’n lewensgevaarlike trauma kan omskep,” verduidelik Visser. “Omdat bloedsiektes so seldsaam is, word dit ongelukkig dikwels misgekyk.”

Daar is minder as 300 000 hemofilie-lyers wêreldwyd, met ongeveer 2 300 mense in Suid-Afrika wat met dié afwyking gediagnoseer is. Daar is egter, na verwagting, sowat 15 000 mense in die land wat ongediagnoseerd is. As ’n lid van die Suid-Afrikaanse Hemofilievereniging wil Cobus dus alle Suid-Afrikaners aanmoedig om vanjaar meer oor hemofilie en verwante bloedsiektes te leer.

Met sy geboorte was die lewensverwagting vir mense met hemofilie 11 jaar. Danksy mediese vooruitgang kan mense met dié siekte vandag ’n vol en vervulde lewe hê – met “die Viking” as ’n spreekwoordelike voorbeeld.

Cobus het in 2013 homself in die hospitaal bevind en kon nie beweeg nie. In plaas daarvan om op te gee, het hy besluit dat sy liggaam nie langer sy tronk sou wees nie. Ten spyte van sy toestand het hy ongelooflike fisiese prestasies behaal, insluitend om in 2018 Kilimanjaro met krukke aan te durf – iets wat hom amper sy lewe gekos het.

Sedertdien het hy dit sy lewensdoel gemaak om ander te help om hulle topprestasie te bereik en oor die jare met honderde individue, besigheidsleiers en mense met gestremdhede gewerk.

Buiten verskeie akademiese prestasies is Cobus ’n gesertifiseerde meester-vuurloopinstrukteur, ’n gesertifiseerde NLP-lewensafrigter, ’n uitvoerende besigheidsafrigter, en ’n ShadowMatch- en Enneagram-fasiliteerder. Hy is reeds twee keer met die Men of Valour-toekenning vereer.

Visser het besluit om sy inspirerende storie te deel in ’n splinternuwe boek, WALKING THROUGH FIRE. WHATEVER IT TAKES,’n diep persoonlike vertelling van sy lewensreis gevul met uitdagings, stryd, en die onwrikbare drang om bo sy omstandighede uit te styg. “Dit is ’n verhaal wat nie net die fisiese en emosionele pyn wat ek as gevolg van my hemofilie ervaar het, dek nie, maar ook die krag van die menslike gees om teen alle verwagtinge in te triomfeer,” sê hy.

Die meesleurende outobiografie begin met Cobus se vroeë lewe, wat oorskadu is deur sy gesondheidstryd, en kyk dan na die keerpunt in sy lewe, en dit wat gevolg het. Hy deel regdeur openhartig sy reis van selfontdekking, geloof, en die onwrikbare oortuiging dat alles moontlik is met toewyding en ’n passie om die wêreld te verander.

WALKING THROUGH FIRE. WHATEVER IT TAKES is eersdaags beskikbaar in Engels en Afrikaans en sal amptelik tydens ’n glansryke boekbekendstelling vrygestel word.

Eksemplare van hierdie lewensveranderende boek kan egter nou reeds vooraf bestel word. Plaas solank jou bestelling hier: http://bit.ly/cobusbook2024

17.4.24

Skisofrenie

Skisofrenie verwys eintlik na 'n groep persoonlikheidsversteurings. 75% van mense wat hieronder gebuk gaan is tussen 15 en 45 jaar oud.

Simptome sluit in dat die pasiënt kontak met die realiteit verloor, denkversteurings, waarnemings- en gemoedsversteurings en algemene psigometriese afwykings.

Dit is belangrik om op die volgende te let: 1) 'n Skisofreen besef nie dat sy / haar gedrag abnormaal is nie. 2) Meeste pasiënte ervaar een of ander delusie. Hulle het altyd een of ander idee wat sterk in kontras is met die realiteit. 3) So 'n persoon steur hom / haar glad nie aan iets soos taalreëls nie. Gewoonlik praat hulle baie, maar sê nie juis veel nie.

4) Meeste van die persone ervaar ook een of ander hallusinasie. Hulle sal byvoorbeeld stemme hoor wat nie bestaan nie. Die stemme gee ook gewoonlik een of ander opdrag. Dit gebeur minder dat hulle dinge sien wat nie regtig bestaan nie, maar dit kan ook voorkom.

5) Emosioneel openbaar hulle gewoonlik weinig emosies. Wanneer hulle egter wel emosies openbaar is dit heeltemal in stryd met dit wat ons verwag. Byvoorbeeld, wanneer 'n familielid sterf kan so 'n persoon uitbars in 'n lagbui.

6) Hierdie mense ervaar ook die uiterste verwarrings oor hul eie identiteit. 7) Dryfkrag en motivering is ook meesal afwesig. 8) Dit volg dat hierdie persone nie goed funksioneer binne normale sosiale omstandighede nie en hulle gewoon sosiaal onttrek.

Heelwat van hierdie mense kan vandag met behulp van moderne terapieë en veral antipsigosemiddels gehelp word.



(foto: Evelyn Chong)