Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

20.3.24

Terminilogie vir moeders


Soms word daar mediese terme deur dokters en verpleegsters gebruik wat moeders sonder ´n mediese agtergrond nie ken nie. Hier volg ´n paar sodat jy volgende keer beter kan verstaan en selfs saam praat!


Uterus = Baarmoeder
Serviks = Baarmoedermond
Kontraksies = kraampyne
Ontsluiting = Oopgaan van die baarmoedermond sodat die baba gebore kan word
Plasenta = Nageboorte
PV = Vaginale ondersoek
Bekkenskatting = ´n Ondersoek gedoen om die grootte van die pelvis se uitgang te bepaal gedoen deur die vagina
Posterior posisie = Die baba se ruggie wys na agter na die moeder se rug, en die gesiggie en ledemate na voor
Voorliggende deel = Die deel van die baba wat eerste gebore gaan word, gewoonlik die koppie, maar soms die boudjies
Stuit posisie = Die boudjies is onder en gaan eerste gebore word
Edeem = Swelling a.g.v. vloeistof wat teruggehou word, gewoonlik van die voete en enkels, maar kan in sekere gevalle ook oor die magie en in die gesig voorkom

(foto Bies)

18.3.24

Kruie vir kwale: Lewersiektes

Neem 2 tot 4 blare van die kankerbossie en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Volgens die Khoi kan jy hierdie flou tee drink vir lewersiektes.

♦♦♦


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

14.3.24

Ovulasie - Hoe weet ek wanneer ek ovuleer?

Hoe weet ek wanneer ek ovuleer?

Ovulasie is die uitkom van 'n eisel uit die eierstok. Dit gebeur ongeveer op dag 14 nadat jy begin menstrueer. Hou noukeurig boek van jou maandstonde en let op die duur daarvan.

Indien jou siklus presies 28 dae duur begin ovuleer jy heel waarskynlik op dag 14 nadat jy begin menstrueer. Indien jou siklus varieer moet jy 18 dae aftrek van jou kortste siklus. Die totaal tel jy by wanneer jy weer menstrueer en dis waarskynlik die dag waarop jy ovuleer. Die stelsel is nie perfek nie, maar julle kan dit probeer.

Let ook op die vaginale afskeiding. Wanneer jy ovuleer is die afskeiding normaalweg soos rou eierwit. Wanneer jy klaar ovuleer het is die afskeiding meer melkerig.

Hou ook jou liggaamstemperatuur dop en wanneer dit effens styg en stabiel bly vir twee tot drie dae ovuleer jy. Jy sal waarskynlik dit oor 'n sekere tydperk moet doen om 'n patroon te vind.

Daar is ook deesdae elektroniese hulpmiddels waarmee jy jou tydperk van ovulasie kan opspoor.

13.3.24

Tourette-versteuring / Gilles de la Tourette-sindroom / Tourette-sindroom

Tourette-versteuring staan ook as Gilles de la Tourette-sindroom / Tourette-sindroom bekend. Gilles de la Tourette was die eerste persoon om die siekte te beskryf

Tourette-versteuring is meervoudige motoriese en een of meer vokale spiertrekkings.

Dit gebeur gewoonlik ´n paar keer per dag. Die tipe sametrekkings kan wissel oor tyd.

Dit begin gewoonlik so tussen die ouderdomme van 4 en 14 jaar, gewoonlik met spiertrekkings van die gesig, arms en bene.

Later begin die persoon gewoonlik onwillekeurige geluide maak, bv. keelskoonmaak, hoes, grom en snuif. Koprolalie (die onbeheerste gebruik van vuil taal) kom ook in baie gevalle voor.

Dit kan spontaan verdwyn, maar in meeste gevalle duur dit lewenslank. Dit kom baie meer by mans voor as vrouens.

Vra jou sielkundige / dokter oor geskikte terapie of medikasie.

11.3.24

Diarree / Buikloop

Diarree word gekenmerk deur die voorkoms van gereelde en los of totaal ongevormde, waterige stoelgange. Dit kom algemeen onder kinders voor en is ’n aansteeklike siekte. Ander simptome wat mag voorkom, sluit in braking, krampe, buikpyn en soms koors. Dit word veroorsaak deur virusinfeksies of voedselgebonde bakterieë.

Ligte diarree kan toegelaat word om vanself te genees, aangesien dit die liggaam se manier is om van gifstowwe, bakterieë en ander vreemde stowwe ontslae te raak. Moet vir minstens 2 dae nie medikasie teen diarree gebruik nie. Drink voldoende hoeveelhede water en ander vloeistowwe.

Indien dit vir langer as 2 dae voortduur, indien bloed voorkom, indien stoelgang lyk soos swart teer of indien koors voorkom moet jy dadelik die dokter gaan spreek.

Boereraat:

Rasper ’n appel. Laat dit effens bruin word en eet dit dan.

♦♦♦

Rasper 3 geelwortels en kook dit in 1 liter water saam met 2 mℓ sout vir 5 minute. Behou die vloeistof en drink gereeld ’n bietjie daarvan.

♦♦♦

Meng twee teelepels vlapoeier met ’n kwart koppie water en sluk weg. Herhaal elke 2 ure.

♦♦♦

Drink Lemonade waarvan die gas ontsnap het (flat).

7.3.24

Naarheid

Naarheid verwys na enige sensasie wat jou laat voel of jy wil opgooi. Naarheid gaan dikwels gepaard met bleekheid, sweet en ´n afname in jou hartklop. Dit kan simptomaties van baie siektes wees.

Drink baie vloeistof om ontwatering te voorkom, maar bly 24 tot 48 uur sonder kos. Sodra die naarheid onder beheer is kan jy geleidelik helder groentesop, bruinrys of gestoomde groente begin eet.

Spreek jou dokter oor die oorsaak indien dit hewig of hardnekkig is.

bydrae: Barbara Pelser

Boereraat:

Meng 1 eetlepel appelasyn met een koppie water. Neem kort-kort 2 of 3 slukkies.

♦♦♦

Drink ’n mondvol “flat” kola sodra jy begin naar voel.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

5.3.24

Voetskimmel

Voetskimmel is ´n swaminfeksie. Dit word normaalweg in openbare plekke soos swembaddens en aantrekkamers opgetel.

Dit is moelik om van ontslae te raak. Die vel rondom die tone raak aanvanklik rooi en jeukerig, dan wit en vogtig en uiteindelik dop en skilfer die vel af. In ernstiger gevalle mag die toonnaels selfs geel en vergroeid raak.

Boereraat:

Sit watte met heuning en appelasyn daarop en los oornag aan.
Gaan sien jou dokter sodra dit aanhou of terugkom.

♦♦♦

Vicks VapoRub help vir skimmel op toonnnaels. Dit is glo die tiemie in die Vaporub wat die skimmel verdryf.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids