Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

13.11.23

Kruie vir kwale: Brongitis

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n eetlepel geelblomsalie blare en laat dit trek vir 5 minute. Daarom meer drinkbaar te maak kan jy dit versoet met heuning en ’n skyfie suurlemoen byvoeg.
Drink dit vir bronchitis.

♦♦♦

Plaas 5 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Drink dit vir bronchitis.

♦♦♦

Voeg ’n kwart koppie kattekruid-blare by ’n koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n sif en drink vir brongitis.

♦♦♦

Gebruik 5 g vars wildeals blare om ’n tee mee te maak. Laat dit vir 5 minute trek voor jy die blare verwyder. Roer 5 mℓ heuning by.
Drink die tee vir brongitis.

♦♦♦

Kook ´n stuk saliebos in water, totdat die vloeistof lyk soos sterk tee.
Neem een koppie daarvan en kook tot ‘n stroop met 2 koppies suiker.
Voeg 1 botteltjie borsdruppels en ´n halwe koppie suurlemoensap by en skud goed.
Drink 1 eetlepel vol 3 maal per dag.

♦♦♦

Neem 10 – 30 druppels balsemkopiva daagliks, gedrup op suiker of saam met melk.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

9.11.23

Breinvliesontsteking / Meningitis

Breinvliesontsteking is ´n infeksie van die vlies om die brein en die breinstam.

Die tekens en simptome is die volgende:
´n Baie hoë koors- 39- 41 grade C
Erge hoofpyn
Fotofobie (ligsensitief)
Stywe nek
Styfheid van die beenspiere wat dit moeilik maak om die bene te buig
Naarheid en braking
Verlies aan eetlus
Moegheid
Geïrriteerdheid
´n Uitslag kan voorkom op die liggaam en bene
Die pasiënt het gewoonlik verkoue of griep gehad
Pampoentjies en masels kan lei tot breinvliesontsteking

(bydrae: Suster Barbara Pelser)



(foto: Liza Summer)

8.11.23

Spierpyn

Ooreising of ongewone oefening kan aanleiding gee tot geskeurde spiere, wat inwendige bloeding en swelling, pyn en stramheid veroorsaak.

Rus tot die pyn verminder. Doen dan versigtig ligte oefening om van die styfheid ontslae te raak. Staak egter dadelik indien die pyn weer opvlam of vererger. Pynstillers en spierverslappers sal ook verligting bied.

Indien jy geen verligting ervaar nie moet jy jou dokter gaan spreek.

Boereraat:

Gooi 'n halwe koppie appelasyn in badwater.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

6.11.23

Brongitis

Brongitis is 'n infeksie van die longe. Meer spesifiek is die inflammasie van die groot lugpypvertakkings.

Dit ontstaan wanneer 'n bakteriële of virusinfeksie die oorafskeiding van die slym veroorsaak wat normaalweg die die lugweë moet klam hou. Die groot hoeveelheid slym laat jou outomaties hoes, die inflammasie vernou jou lugweë en jou voel sommer olik oor die algemeen.

Veral rokers is vatbaar hiervoor aangesien sigaretrook die slymvoerings beskadig en jou weerstand teen kieme afbreek.

Brongitis duur omtrent vir 'n week of twee en dit kan suksesvol met medikasie behandel word, veral antibiotika. Indien jy egter na 10 dae nog geen verbetering sien nie moet jy (weer) jou dokter gaan spreek.


(foto: Vlada Karpovich)

2.11.23

Swaminfeksie

Swaminfeksies word veroorsaak deur mikroskopiese klein swamme.

Volg 'n gesonde dieet om alle hardnekkige swaminfeksies blywend te genees. Neem multivitamien- en mineraalaanvullings om jou weerstand op te bou.

Soek mediese hulp indien die infeksie aanhou ondanks behandeling of terugkom.

31.10.23

Buisswangerskap / Ektopiese swangerskap


L skryf: "Ek wil weet my baarmoeder is verwyder, maar is daar 'n moontlikheid om 'n baba in jou eierstokke te verwek en dra?"
Antwoord:
Nee, dit is lewensgevaarlik.



Lelanie skryf: "Hoe vinnig kan 'n ginekoloog optel of dit 'n buis swangerskap is?

Antwoord:
Terwyl dit tydens jou swangerskap raakgesien sal word kom dit selde by daardie punt. Jy sal voor dit simptome toon en jou ginekoloog se daaropvolgende ondersoek sal dit as 'n buisswangerskap diagnoseer. Indien jy vantevore 'n buisswangerskap gehad het moet jou ginekoloog hiervan weet, sodat hy / sy die situasie kan monitor. Simptome waarvoor jy op die uitkyk moet wees sluit in:
  • Maagpyn of pyn in jou pelvis
  • Vaginale bloeding wat nie menstruasie is nie
  • Lighoofdigheid
  • Lae bloeddruk tydens vaginale bloeding
Jou ginekoloog sal jou dadelik wil ondersoek indien jy die bogenoemde simptome toon. Let egter daarop dat die simptome ook ander oorsake kan hê.



Vera skryf:
"Gister was ek by my ginekoloog. Hy't vir my gesê dat ek dalk 'n buisswangerskap het. Hoe gebeur dit? Hoe voorkom mens dit? Wat gebeur van hier af?"
Antwoord:
Tydens 'n buisswangerskap plant die bevrugte eiersel buite die uterus in, gewoonlik in die fallopiaanse buise. Die oorsaak hiervan is nie bekend nie. Die toestand moet betyds gediagnoseer word omdat die buise kan bars en jy dan in lewensgevaar kan wees. Daar is nie genoeg spasie in die fallopiaanse buise vir 'n baba om te ontwikkel nie.

30.10.23

Tandpyn

Tandpyn word veroorsaak deur tandbederf. Die pyn kom voor as bederf deurdring tot die kern van die tand waar die senuwees is. Dit begin as jy ´n kleuter is en kan enige tyd van jou lewe toeslaan. Die eerste simptome is ´n steekpyn as jy warm of koue kos eet.

´n Koppie swart tee tussen maaltye help om tandbederf te beveg. Die teeblare verhoed die groei van bakterieë en keer dat dit ´n suur produseer.

Goeie tandversorging en gereelde besoeke aan die tandarts kan tandbederf voorkom. Besoek jou tandarts sodra tandpyn voorkom of jou tandvleis begin bloei.


Boereraat:

Tandpyn
Gebruik pyp-olie vir tandpyn. Sit ´n bietjie op ´n stukkie watte en herhaal soos dit nodig word.

♦♦♦

Smeer bruin skoenwaks aan wang.

♦♦♦

Sit brandewyn op watte en byt vas.

♦♦♦

Vir tandpyn sit jy 'n koue, nat lappie op en bedek dit met 'n droë doek. Drink gereeld koue water.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids