Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

19.4.21

Die oor

Die oor is ’n orgaan wat ons gebruik om klankgolwe te registreer.

Die mens, het twee ore, een aan elke kant van die kop.

Die buitenste oor sluit die sigbare deel van die oor in, die uitwendige oorkanaal en die oortrom. Die oorskulp vang die klank op en gelei dit deur die uitwendige oorkanaal na die oordrom. Dié vibreer en verplaas die klank deur middel van die vibrasie na die gehoorbeentjies in die middeloor.

Die middeloor bevat die drie gehoorbeentjies – hierdie getal is 'n onderskeidende kenmerk tussen soog- en ander diere – twee spiersenings (vir die stapedius en tensor tympani spiere), en twee senuweebondels (die horisontale gedeelte van die gesigsenuwee, asook ’n takkie van die gesigsenuwee, genaamd die chorda tympani). Die buis van Eustachius verbind die middeloor met die farinks en het ten doel om drukverskille tussen die twee anatomiese areas uit die weg te ruim.

Die binne-oor bestaan uit die gehoororgaan (die koglea) en die labirint , ook genoem die vestibulêre apparaat, wat die balansorgaan is. Dié het drie halfmaanvormige kanale en die vestibule. Binne-in die koglea lê drie ander kanale: die timpaniese kanaal, die vestibulêre kanaal, en die middelkanaal. As klank die koglea tref, beweeg die vloeistof daarbinne. Dié beweging stimuleer Corti se orgaan, wat binne-in die middelkanaal lê, wat dan die klank ontleed en die inligting daaroor deur middel van die gehoorsenuwee na die brein toe stuur.

Dele van die oor
Oorskulp
Die oorskulp bestaan hoofsaaklik uit kraakbeen wat met ’n dun en buigsame lagie vel bedek is. By die mens is die oorskulp nie baie belangrik nie en dit dra min by tot doeltreffende gehoor.

Oorlel
Die buitenste gehoorgang is sowat 2 cm lank. Growwe hare groei dikwels daarin en kliere in sy wande skei ’n wasagtige stof af wat uitdroog en soms deur die bewegings van die kop losgeskud word.

Trommelvlies
Die trommelvlies of oortrom is oor die binneste end van die buitenste gehoorgang gespan. In ’n gesonde oor is dit so dun dat dit amper deurskynend is.

Gehoorbeentjies
Die gehoorbeentjies word die hamer, die aambeeld en die stiebeuel genoem omdat hulle na hierdie voorwerpe lyk. Die hamer is aan die trommelvlies verbind is, en die voetstuk van die stiebeuel pas oor ’n opening wat die ovale venster genoem word. Die aambeeld verbind die boonste gedeeltes van hierdie twee beentjies. As ’n geluid die oor bereik, tril die trommelvlies en die beweging word deur die beentjies op die ovale venster oorgedra. Dit is interessant dat die beentjies so gerangskik is dat klein bewegings van die oortrom baie groter bewegings by die venster veroorsaak.

Buis van Eustachius/oortrompet
Die buis van Eustachius of oortrompet verbind die holte van die middeloor met die van die neuskeelholte. Hierdie buisie laat toe dat lug by die middeloor kan in- en uitvloei om die druk daar dieselfde as die van die atmosfeer buite te hou. As die druk aan weerskante van die trommelvlies nie dieselfde is nie, kan dit nie behoorlik werk nie. Dit is die Eustachiese buis wat toegaan as ons voel dat ons ore toeslaan, en daarom help dit om te sluk of te nies sodat die buis weer kan oopgaan.

Ovale venster
Die ovale venster is in die beenopening tussen die middeloor en die inwendige oor. Dit word heeltemal deur die voetstuk van die stiebeuel en die klein ligamente daaromheen toegemaak.

Blasie
Die blasie (utriculus) en kleinere sakkie (sacculus) vorm die middelste gedeelte van die opvangselle van die middeloor. Hulle lê in die gedeelte van die benige labirint wat die voorhof genoem word. Binne hierdie twee organe is veselriffels wat van stand verander wanneer die kop gekantel word. Senuweeprikkels hou die brein op hoogte van die posisie van die kop.

Booggange
Die booggange lê agter die benige labirint. Elkeen van die drie halfsirkelvormige kanale vorm sy eie tonneltjie in die been. Die booggange is met ’n vloeistof gevul wat endolimf genoem word. Wanneer die kop beweeg, bly die vloeistof in minstens een van die kanaaltjies effens agter en die druk wat hierdeur veroorsaak word, veroorsaak dat senuweeboodskappe aan die brein gestuur word. Van hierdie boodskappe kan die brein vasstel in watter rigting en hoe vinnig die kop beweeg.

Slakhuis/cochlea
Die slakhuis of cochlea word so genoem omdat dit baie na die dop van ’n slak lyk (cochlea is Latyns vir slak). Sy breë kant raak aan die ovale venster. Beweeg die basis van die stiebeuel nou heen en weer, veroorsaak dit dat die endolimf in die slakhuis ook beweeg. Dit laat van die klein haartjies in die slakhuis beweeg. Van die wortels van hierdie haartjies gaan senuwee-impulse langs die gehoorsenuwee na die brein wat op sy beurt die sterkte en die toonhoogte van die klank ontleed.

12.4.21

Listeriose

Listeriose is ’n bakteriële infeksie; hoofsaaklik infeksies van die sentrale senuweestelsel.

Die bakterie word gewoonlik ingeneem na die inname van besmette voedsel-produkte, waarna die organisme die dermkanaal binnedring om sistemiese infeksies te veroorsaak. Die diagnose van listeriose vereis die isolasie van die organisme van die bloed en/of die serebrospinale vloeistof. Behandeling sluit in langdurige administrasie van antibiotika, hoofsaaklik ampisillien en gentamicin.

Simptome en tekens
Die siekte affekteer hoofsaaklik ouer volwassenes, mense met verswakte immuunstelsels, swanger vroue, en pasgeborenes. Mense sonder hierdie risiko faktore word selde geaffekteer. ’n Persoon met listeriose het gewoonlik koors en spierpyn, dikwels voorafgegaan deur diarree of ander gastroïntestinale simptome. Byna almal wat gediagnoseer is met listeriose het indringende infeksie (wat beteken dat die bakterieë versprei van hul ingewande na hul bloedstroom of ander liggaamsdele).

• Hoë-risiko persone anders as swanger vroue: Simptome sluit in koors, spierpyne, kopseer, ’n stywe nek, verwarring, verlies van balans, en stuiptrekkings.
• Swanger vroue: Swanger vroue ervaar tipies slegs ligte, griepagtige simptome. Infeksie tydens swangerskap kan egter lei tot ’n miskraam, stil geboorte, premature geboorte, of lewensgevaarlike infeksie van die pasgebore baba.
• Voorheen gesonde persone: Mense wat voorheen gesond was, maar is blootgestel aan ’n baie groot dosis van listeriose kan die ontwikkeling van ’n nie-indringende siekte (wat beteken dat die bakterieë het nie in hul bloedstroom of na ander plekke in die liggaam versprei nie). Simptome kan diarree en koors insluit.

5.4.21

Daar is iets in my oog

Enige oogbesering is potensieel ernstig want klein deeltjies kan die oogbal binnedring en skade veroorsaak.
Deeltjies stoof en los ooghare is van die algemeenste voorwerpe wat in die oog beland. Hulle sit op die buitenste wand van die oogbal of onder die ooglid, gewoonlik die boonste en veroorsaak aansienlike ongemak. Hulle word meesal maklik verwyder.
Jy moet nie probeer om iets te verwyder wat op die pupil en iris (die gekleurde deel van die oog) vassit nie, of iets wat in die oogbal vassteek. Kry dadelik mediese hulp.

Simptome en tekens
• Die oogbal is pynlik en jeuk.
• Sig kan belemmer wees.
• Die oog is rooi.

Behandeling – neem die persoon na die hospitaal indien dit nie suksesvol is nie
1. Die persoon moet NIE die oog vryf NIE.
2. Laat die persoon op ’n stoel sit, agteroorleun en na ’n lig kyk.
3. Staan agter die persoon. Hou die ken in een hand en gebruik die duim en wysvinger van die ander hand om die ooglede uitmekaar te trek. Vra die persoon om links en regs en op en af te kyk sodat jy elke deel van die oog deeglik kan ondersoek.
4. Indien jy die voorwerp sien probeer daarom met ’n steriele wateroplossing uit te spoel – gebruik gewone water indien jy nie byderhand het nie. Hou die kop skuins na die kant waar die voorwerp sit sodat die water oor die wang loop.
5. Indien dit onsuksesvol is of jy het nie water nie, gebruik ’n klam depper of sakdoek daarom af te haal.
6. Indien die vreemde voorwerp onder die boonste ooglid sit, vra die persoon om af te kyk. Vat die ooghare en trek die ooglid afwaarts en uitwaarts oor die onderste lid. Indien dit nie werk nie, vra die persoon om die ooglid onder lopende water te knip.
7. Indien niks werk nie, kry mediese hulp.

29.3.21

Meer rooivleis verhoog jou risiko vir dood

Die verhoogde inname van rooivleis, veral verwerkte rooivleis, hou verband met ’n verhoogde risiko vir dood. Dit was die bevinding van ’n groot Amerikaanse studie gepubliseer in die joernaal The BMJ.

’n Hoë inname van rooivleis, soos beesvleis, varkvleis en lamsvleis, is reeds verbind aan ’n hoër risiko vir tipe 2-diabetes, kardiovaskulêre siektes, sekere soorte kanker en voortydige dood.

’n Span navorsers in die VSA en China het nou gekyk na die verband tussen veranderinge in die verbruik van rooivleis gedurende ’n tydperk van agt jaar met sterftes gedurende die volgende agt jaar, vanaf 1986 tot die einde van 2010. Hulle het data gebruik van meer as 90 000 Amerikaanse gesondheidswerkers vir die studie.

Persone met ’n toename in die inname van rooivleis het ’n 10% hoër risiko vir dood gehad. ’n Toename in die gebruik van verwerkte rooivleis soos spek, worsies en salami het die risiko verhoog tot 13%. Hierdie toenames was grotendeels konsekwent in verskillende ouderdomsgroepe, vlakke van fisieke aktiwiteit, dieetkwaliteit, rook en alkoholgebruik.

Oor die algemeen is die vermindering van rooivleisinname en die eet van meer volgraan, groente of ander proteïenvoedsel soos pluimvee sonder vel, eiers en vis geassosieer met ’n laer risiko vir dood onder mans en vroue.

22.3.21

Ooggebreke

Ooggebreke ontstaan as gevolg van verskeie faktore, die hoofsaaklik weens die ontvang en uitstraling van lig. Die oog is ’n sensitiewe orgaan wat ligeffekte registreer.

In ’n normale en gesonde oog word die feitlik ewewydige ligstrale wat die lens bereik van ’n voorwerp op die retina gefokus. Hierdie toestand word normale gesigsvermoë of emmetropie genoem. Baie mense se oogbolle is langer of korter as die normale. Ander mense se lense is weer te swak.

Al hierdie afwykings veroorsaak dat die beeld nie presies op die retina val nie, maar daarvoor of daaragter. Al die strale bereik wel die retina, maar aangesien hulle nie daarop gefokus is nie, is die beeld onduidelik. Hierdie afwykings staan as gebreke van straalbreking bekend. Vier van die bekendste gebreke is:

Bysiendheid
In die geval van bysiendheid val die gefokusde beeld nie op die retina nie, maar daarvoor. Die algemeenste oorsaak hiervoor is ʼn te lang oogbol, waarin die retina te ver terug is om die beeld te ontvang. Bysiendheid kan ook veroorsaak word deur ’n ongewoon gekromde horingvlies of ’n lens wat die strale abnormaal breek.

Vêrsiendheid
In hierdie geval word die beeld van voorwerpe wat ver is, agter die retina gevorm. Mense wat aan hierdie ooggebrek ly, moet hul oë akkommodeer om voorwerpe wat meer as 6 m ver is, op die retina in te stel. Sulke mense kan dikwels nie voorwerpe naby hulle waarneem nie; daarom word die kwaal vêrsiendheid genoem.

Ouderdomsvêrsiendheid
Ouderdomsvêrsiendheid staan ook bekend as presbiopie. Dit beskryf ’n spesiale soort gesigsgebrek wat voorkom wanneer mens ouer word. Dikwels begin dit op ongeveer vyf-en-veertigjarige ouderdom. Ouderdomsvêrsiendheid word veroorsaak deur ’n geleidelike verlies aan elastisiteit van die lens van die oog. Dit beteken dat wanneer die lensspiere saamtrek en die draagligamente of –spier verslap, die lens nie meer soveel as voorheen kan uitbol nie. Sodoende verloor die oog sy akkommodasievermoë.

Astigmatisme
Die woord kom van die Griekse woorde a en stigma, wat saam die betekenis van “sonder ’n punt” het. Hierdie uitdrukking beskryf wat met die beeld van voorwerpe gebeur as die horingvlies- of lensoppervlak nie sferies is nie, maar twee heeltemal verskillende krommings, soos die vorm van ’n suurlemoen, het. Dit veroorsaak dat die ligstrale wat die oog op ’n horisontale vlak binnedring, meer gebuig word as die ligstrale wat die oog op ’n vertikale vlak binnedring.

Die strale word gevolglik nie op een punt gefokus nie, maar in ’n lyn. Veronderstel die astigmatiese lens is soos ’n suurlemoen gevorm wat op sy punt staan. Horisontale strale word meer gebuig omdat hulle deur die sterker gekromde deel van die suurlemoen gaan. Die vertikale strale word minder gebuig, aangesien die deel waardeur hulle gaan, minder gekrom is en die fokuspunt gevolglik verder. Veronderstel dat die retina dan op ʼn horisontale vlak ongeveer 5 m weg moet wees.

18.3.21

Vel


Die buitenste, natuurlike bedekking van ’n mens word die vel genoem. Dit is die mens se grootste orgaan. Dit is waterdig, bakteriebestand en herstel vanself.

Die vel bevat senuselle wat druk, temperatuur en pyn waarneem. Dit bevat die pigment melanien wat die kleur verleen en ons teen sonstrale beskerm. Op die meeste plekke is die vel ongeveer 2 mm dik.

Die vel het twee lae: die buitenste epidermis en die binneste dermis. Die epidermis verweer en word aanhoudend deur vervang deur velselle uit die dermis. Die dermis bevat die senuweeselle, kliere, hare en bloedvate.

Boereraat:

’n Gesigsmasker vir ’n olierige vel (nie vir diegene met aknee): Druk ’n ryp tamatie plat en stukkend. Wend aan en los vir 15 minute. Spoel af met warm water (nie vuurwarm!).

♦♦♦

Gebruik 5 mℓ melk soggens en saans in plaas van gesigsroom.

♦♦♦

Maak vir jou 'n gesigmasker met 1 geklopte eiergeel en 1 eetlepel asyn. Smeer aan die gesig en los aan vir so 10 minute. Spoel dan met louwarm water af. Gebruik die masker 1 maal per week om plooie weg te hou en die vel mooi glad te maak.

♦♦♦

Vir ´n olierige vel (nie vir diegene met aknee): Druk ´n ryp tamatie plat en stukkend. Wend aan en los vir 15 minute. Spoel af met warm water (nie vuurwarm!).

♦♦♦

Vir ´n droë vel (nie vir diegene met aknee): Smeer mayonaisse aan jou gesig en los vir 20 minute. Spoel af met koue water.

♦♦♦

Vir ´n blink vel (nie vir diegene met aknee): Smeer heuning aan jou gesig en nek. Los op tot dit droog is. Spoel af met baie warm water.

♦♦♦

Vir olierige vel: Meng 10 druppels suurleoensap met een eierwit. Meng dit goed en wend aan (very die oogareas). Los op vir 20 inute en spoel af met lou water.

♦♦♦

Vir olierige vel: As jy nodig het om daai gesig vir ´n dag te laat styftrek en die porieë laat kleiner lyk, neem eierwit en plaas dit op jou gesig. Hou dit op tot die wit droog geword het.

♦♦♦

Vir jou gesig: vat gewone mieliemeel, gooi dit in die palm van jou hand en maak 'n pasta met water. Vryf jou hele gesig en nek daarmee. Spoel af en sien die verskil. (Nicoleen Richards)

♦♦♦

Elzabe Marais: Gooi bietjie badolie in die palm van jou hand en dan 'n bietjie suiker. Meng tussen hand palms en vryf oor jou hele lyf.  Dit haal al die dooie vellle en laat jou behoorlik gloei.  Boonop is jou vel klaar geolie en streelsag.

♦♦♦

Om daai rekmerke weg te dokter kan jy gereeld ´n bietjie Vitamien E olie aansmeer.

♦♦♦

Gooi ´n koppie melk saam met jou badolie in. Dit help jou liggaam om die voordele van die olie ten volle te benut.

♦♦♦

Wat is lekkerder as om in ´n heerlike skuimbad te lê na ´n lang dag. Meeste produkte op die mark is egter nie geskik vir ´n sensitiewe vel nie. Hierdie badskuim laat jou nie net ontspan nie, maar voed ook jou vel:

Bestanddele:
1 koppie olyfolie (of sesame)
´n halwe koppie heuning
´n halwe koppie vloeibare seep
1 eetlepel vanilla-ekstrak (of laventel)
Meng al die bestanddele goed saam en gooi in ´n skoon bottel wat goed seel. Skud die mengsel goed voor gebruik.

♦♦♦

Skurwe elmboë kan in 'n halwe suurlemoen met 1 teelepel suiker daarin gevryf word.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

15.3.21

Botulisme

Botulisme is ‘n seldsame tipe vergiftiging wat veroorsaak word deur die bakterie Clostridium botulinum. Die kieme vermeerder veral in proteïenryke omgewings met min lug, byvoorbeeld in geblikte vleis. Dit veroorsaak ernstige senuweeafwykings wat tot die dood kan lei.

Die meeste gevalle van botulisme is te wyte aan die verbruik van bedorwe voedsel. Mense word besmet deur onvoldoende gesteriliseerde en lugdigte verpakte voedsel soos blikkieskos of lugdigte verpakte gerookte vleis, worsies en seekos.

Die simptome van botulisme is baie kenmerkend. Die vergiftiging begin gewoonlik met naarheid en braking. Maagkrampe kan ook voorkom, en diarree aanvanklik. Aangesien die gif die funksie van die senuweeselle beskadig, lei dit geleidelik tot die verlamming van die liggaam. Die spiere in die kop en nek word eerste aangetas. Die verlamming kan later na die hele liggaam versprei, insluitend die asemhalingspiere en ledemate.