Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

5.10.16

Behandeling van koronêre verstopping

1. Indien die persoon by sy / haar bewussyn is, ondersteun die persoon versigtig in ’n halfsittende posisie agter die kop en skouers en met die knieë effens gebuig.

2. Maak stywe klere rondom die nek, borskas en middel los.

3. Indien die persoon bewusteloos is, maar normaal asemhaal, plaas die persoon in die herstelposisie.

4. Indien die asemhaling en hartklop ophou, begin onmiddellik met resussitasie.

5. Behandel vir skok.

6. Toets die asemhalingstempo en bewussynsvlak elke 10 minute.

7. Die persoon moet sodra moontlik by ’n hospitaal kom.



3.10.16

Anafilakse

Anafilakse is ’n ernstige allergiese sensitiwiteit vir ’n stof. Wanneer ’n lyer met die stof in aanraking kom bring dit ernstige skok teweeg. Dan praat ons van anafilaktiese skok – in sekere gevalle kan dit tot die dood lei.

Stowwe wat oor die algemeen hierdie toestand teweegbring is: sekere antibiotika, veral penisillien; inseksteke, veral van bye en perdebye; voedselallergieë, veral seekos en neute; en medikasie. Wat medikasie betref moet lyers versigtig wees vir aspiriene, nie-sterïodale antiinflammatoriese medikasie, opiate wat ingespuit word en bloedprodukte, soos byvoorbeeld immunoglobien.

Simptome en tekens
• Nies
• Loopneus
• Swaar asemhaling
• Maagpyn
• Naarheid
• Braking
• Diarree
• ’n Metaalagtige smaak in die mond
• Branderige en jeukerige oë
• Afskeidings uit die oë
• Vinnige polsslag
• Versteurde hartritme
• Lae bloeddruk

Die stof moet so gou as moontlik van / uit die persoon verwyder word.

Medikasie wat van tyd tot tyd gebruik kan word om die toestand te help beheer sluit in kortikosteroïede en antihistamiene. Lyers dra ook gewoonlik adrenalieninspuitings by hulle.



(foto: Greg Friese)

28.9.16

’n Koronêre verstopping

’n Koronêre verstopping is een van die mees algemene oorsake van ’n hartaanval.

Simptome en tekens
• ’n Skielike, beklemmende pyn in die middel van die borskas – nie te verwar met slegte spysvertering nie. Hierdie pyn versprei na die arms, keel, kakebeen of rug.
• ’n Skielike lighoofdigheid wat veroorsaak dat die persoon val of gaan sit of teen iets moet leun vir ondersteuning.
• Die vel kan bleek wees en die lippe en ander ekstremiteite kan blou word.
• Die persoon kan erg sweet.
• Die persoon kan kortasem wees.
• Daar is dalk ’n vinnige pols aanvanklik wat al swakker word en ook ongereeld kan word.
• Die persoon kan bewusteloos raak.
• Die asemhaling en hartklop kan ophou.
• Wees ook bedag op simptome en tekens van skok

21.9.16

Hartaanval

'n Hartaanval vind plaas wanneer die bloedtoevoer na 'n deel van die hart drasties verminder of afgesny word. Dit staan bekend as 'n miokardiale infarksie - die hartspier is die miokardium.

Die slagoffer kan wel herstel indien onbeskadigde hartspiere genoeg bloed kan pomp om die res van die hart en die liggaam aan die gang te hou.

Die mees algemene oorsake van ’n hartaanval is ’n koronêre verstopping of hartversaking.

14.9.16

Behandeling van floute

1. Indien die persoon onvas op die voete is, laat hulle sit en vooroor leun met die kop tussen die knieë en sê hulle moet diep asemhaal.

2. Indien die persoon lank gestaan het, laat hulle die beenspiere saamspan en die tone beweeg om die bloedsomloop aan te help.

3. Maak alle stywe klere om die nek, borskas en middel los om die bloedsomloop en asemhaling aan te help.

4. Sorg dat die persoon genoeg vars lug kry. As dit baie warm is laat die persoon in die koelte sit / lê.

5. Kyk vir enige beserings.

6. Toets die asemhalingstempo en die bewussynsvlak.

7. Stel die persoon gerus.

8. Die persoon moet niks drink voor hulle ten volle herstel het nie en dan ook net klein slukkies koue water.

12.9.16

Kruie vir kwale: Chemiese brandwonde

Die behandeling van chemiese brandwonde sal afhang van waarmee jy jou gebrand het. Oor die algemeen kan mens sommer 'n aalwyn se blaar breek en die sap gebruik om die wond te help herstel. As jy dalk weet van 'n geneesbossie in jou omgewing kan jy die sap van daardie blare ook gebruik. As jy ernstige wonde opgedoen het moet jy eerder 'n dokter gaan sien.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids