Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Skelet. Show all posts
Showing posts with label Skelet. Show all posts

14.6.21

Skeletspiere, spiersametrekking en antagonistiese spiere

Skeletspiere
• Skeletspiere word deur middel van tendons aan die skelet geheg en laat beweging van dele van die skelet toe.
• Elke skeletspier bestaan uit ‘n groot aantal spiervesels wat deur bindweefsel genaamd die perimesium in bondels saamgebind word.
• Die onderskeie spierbondels word deur bindweefsel genaamd die epimesium saamgebind.
• ‘n Enkel spiervesel is ‘n verlengde silindriese spiersel wat deur ‘n membraan genaamd die sarkolemma omsluit word.
• Elke spiersel besit sitoplasma met ‘n groot aantal ovaalvormige kerne en mitochondria.
• Elke spiersel bestaan uit duisende miofibrille.
• Miofibrille bestaan uit twee tipes proteïenfilamente genaamd miosien en aktien. Miosien filamente is dikker en donkerder in voorkoms waar aktien filamente dunner en ligter in voorkoms is.
• Die area tussen twee Z-lyne word die sarkomeer genoem.

Spiersametrekking
• Tydens sametrekking gly die dun aktien filamente verby die dikker miosien filamente.
• Die Z-lyne beweeg nou nader aanmekaar.
• Die verkorte sarkomeer lei tot die verkorting van die miofibrille wat daartoe lei dat die spier verkort.

Antagonistiese spiere bv. die biseps en triseps
• Skeletspiere werk gewoonlik in pare, m.a.w. as die een saamtrek, verslap die ander.
• Sulke spiere staan as antagonistiese spiere bekend.
• Die biseps en triseps in die bo-arm is voorbeelde van antagonistiese spiere.
• Wanneer die biseps saamtrek en die triseps verslap, buig die elmbooggewrig wat veroorsaak dat die voorarm gelig word.
• Wanneer die triseps saamtrek en die biseps verslap, sal die elmbooggewrig strek en die voorarm word gesak.

26.10.20

Menslike skelet

Die skelet, of geraamte, is die benerige raamwerk van werweldiere. Dit sluit die tande in.

In 'n pasgebore baba bestaan die skelet uit ongeveer 300 beenstukke, maar sommige van hierdie bene groei later aan mekaar vas, met die gevolg dat die volwasse skelet gewoonlik uit 206 afsonderlike beenstukke bestaan. Sommige mense het bykomende bene in hul duime of groottone wat sesambeentjies genoem word. Daar is ook mense wat ’n bykomende paar ribbes het. Die skelet vorm 'n raamwerk waaraan sagter weefsel vasgeheg kan word. Dit gee die liggaam vorm, en beskerm belangrike organe soos die brein en rugmurg. Die skelet is egter ook ʼn lewende deel van die liggaam en produseer bloedselle in die beenmurg en ruil minerale met die bloed uit. Sekere beendere dien as hefbome waarop die spiere werk.

Bene bevat kalsium en fosfor wat hulle hard maak.

Die skelet word in twee dele verdeel: die asskelet wat die skedel, ruggraat en ribbekas bevat, en die aanhangskelet wat die skouergordel, pelvis en die arm en onderste ledemaat (die been) bevat.

Die skedel (kranium, kopbeen) bestaan uit die skedeldak (of harsingspan), wat die brein huisves, en die aangesigskedel (of gesigskelet). Die skedeldak bestaan uit 8 bene: die agterhoofsbeen (oksipitale been), 2 wandbene (pariëtale bene), 2 slaapbene (temporale bene), ʼn voorhoofsbeen (frontale been), wigbeen (sfenoïed) en die sifbeen (etmoïdale been). Die aangesigskedel bestaan uit 14 beenstukke: 2 traanbene (lakrimale bene), 2 neusbene, 2 verhemeltebene (palatiene bene), 2 neusskulpbene, 2 bokaakbene (maksillêre bene), jukbene (sigomatiese bene of wangbene), die ploegskaarbeen en die onderkaak (mandibula). Die gehoororgane is in die rotsbeen (petrosale been) geleë wat eintlik ʼn uitbulting van die slaapbeen is. Die hamer (malleus), aambeeld (inkus) en die stiebeuel (stapes) is klein beentjies in die middeloor wat ʼn belangrike rol in die gehoorproses speel. Die stiebeuel is die kleinste been in die menslike liggaam.

Tande is bedek met emalje. Emalje is die hardste stof wat diere maak. Tande is met vesels aan die kaak vas en kan effens beweeg as mens kou of byt.

Die ruggraat, of werwelkolom, bestaan uit 33 bene, genoem werwels (vertebrae): 7 nekwerwels (servikale werwels), 12 borswerwels (torakale werwels), 5 lendewerwels (lumbale werwels), 5 saamgesmelte stuitwerwels (sakrale werwels) wat saam die heiligbeen (sakrum) vorm en 4 saamgesmelte stertwerwels (koksigeale werwels) wat saam die stuitbeen (koksiks) vorm. ’n Kameelperd het net soveel nekwerwels as ’n mens.

Die 24 ribbe vorm die beskermende traliewerk van die borskas. Aan die agterkant is al die ribbe aan die rugwerwels vasgemaak. Die boonste 7 ribbe (14 ribbe as die linker en regterkant s’n afsonderlik getel word) is aan die voorkant deur middel van ribkraakbeen aan die borsbeen (sternum) verbind. Hulle heet dus “ware” ribbe, terwyl die 3 volgende “vals” ribbe se kraakbeen slegs indirek aan die borsbeen gekonnekteer is. Die twee onderste “swewende” ribbe sit heeltemal los aan die voorkant.

Die skouergordel bevat die bladbeen (skapula) en die sleutelbeen (klavikel).

Die boarm bevat die boarmbeen (humerus) terwyl die voorarm die speekbeen (radius) en ellepyp (ulna) bevat. Die elmboogpunt is die boonste punt van die ulna en word die verneukbeentjie (olekranon) genoem. Die hand se gewrig bestaan uit 8 handwortelbene (karpale), naamlik die trapesoïedbeen, kopbeentjie (kapitatum) , haakbeentjie (hamatum), ertbeentjie, driehoekbeen, halfmaanbeen, skuitbeen (skafoïed) en die trapesiumbeen. Daar is 5 middelhandbene (metakarpale) wat oor die handpalm strek, en 14 vingerbene (falankse) in die vingers en die duim.

Die bekken (pelvis) bestaan uit twee heupbene en is ʼn bakvormige beenstruktuur wat die basis van die romp vorm. Elke heupbeen word uit drie saamgesmelte bene gevorm: die bekkenbeen (ilium), die sitbeen (iskium) en die skaambeen (pubis) wat ook die ysbeen genoem word. Hierdie bene vorm elkeen ʼn deel van die heuppotjie (asetabulum) waarin die dybeen draai. Aan die agterkant is die heupbene deur middel van die sterk iliosakrale gewrigte aan die ruggraat se heiligbeen verbind. Aan die voorkant is die twee heupbene by die pubiese naat (pubiese simfise) aan mekaar geheg.

Die bobeen bevat die dybeen (femur), die grootste en sterkste been in die liggaam. Die knie bevat die knieskyf (patella) en die onderbeen bevat die skeenbeen (tibia) en die fibula (speekbeen van die onderste ledemaat). Die voet bestaan uit 26 bene. Daar is 7 voetwortelbene (tarsale), naamlik die hakskeenbeen (kalkaneus), talus, kuboïedbeen, skafoïedbeen en 3 wigbene. Daar is 5 middelvoetbene (metatarsale) en 14 toonbene (falankse).

29.6.20

Beenbreuke en ontwrigtings

Die bene is deel van die skeletstelsel. Dit bestaan normaalweg uit 206 aparte bene. Sommige mense het bykomende bene in hul duime of groottone. Hierdie ekstra bene word sesambeentjies genoem. Sommige mense het ook ’n paar bykomende (dertiende) ribbes. Babas het meer as 300 bene – hulle smelt later saam.

Waar die bene bymekaarkom kry ons ’n gewrig. Die meeste gewrigte word met koorde of bande (genoem ligamente) bymekaar gehou.

Die grootste been is die dybeen (femur). Die kleinste been is die stiebeuel (stapes) in die middeloor.

Volg die onderstaande skakels vir meer inligting oor algemene beenbreuke en ontwrigtings.

Beenfrakture
Die algemene behandeling van frakture
Dislokasie / Ontwrigting van bene
Frakture
Frakture van die ribbes en borsbeen
Fraktuur van die onderkaak
Fraktuur van die wangbeen en bokaak
Heup- en dybeen frakture
Skouerontwrigting
Sleutelbeenfrakture
Vergruising
Verskuifde kniekraakbeen / sluitknie
Verskuifde tussenwerwelskyf
Verstuiting