Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



26.10.20

Menslike skelet

Die skelet, of geraamte, is die benerige raamwerk van werweldiere. Dit sluit die tande in.

In 'n pasgebore baba bestaan die skelet uit ongeveer 300 beenstukke, maar sommige van hierdie bene groei later aan mekaar vas, met die gevolg dat die volwasse skelet gewoonlik uit 206 afsonderlike beenstukke bestaan. Sommige mense het bykomende bene in hul duime of groottone wat sesambeentjies genoem word. Daar is ook mense wat ’n bykomende paar ribbes het. Die skelet vorm 'n raamwerk waaraan sagter weefsel vasgeheg kan word. Dit gee die liggaam vorm, en beskerm belangrike organe soos die brein en rugmurg. Die skelet is egter ook ʼn lewende deel van die liggaam en produseer bloedselle in die beenmurg en ruil minerale met die bloed uit. Sekere beendere dien as hefbome waarop die spiere werk.

Bene bevat kalsium en fosfor wat hulle hard maak.

Die skelet word in twee dele verdeel: die asskelet wat die skedel, ruggraat en ribbekas bevat, en die aanhangskelet wat die skouergordel, pelvis en die arm en onderste ledemaat (die been) bevat.

Die skedel (kranium, kopbeen) bestaan uit die skedeldak (of harsingspan), wat die brein huisves, en die aangesigskedel (of gesigskelet). Die skedeldak bestaan uit 8 bene: die agterhoofsbeen (oksipitale been), 2 wandbene (pariëtale bene), 2 slaapbene (temporale bene), ʼn voorhoofsbeen (frontale been), wigbeen (sfenoïed) en die sifbeen (etmoïdale been). Die aangesigskedel bestaan uit 14 beenstukke: 2 traanbene (lakrimale bene), 2 neusbene, 2 verhemeltebene (palatiene bene), 2 neusskulpbene, 2 bokaakbene (maksillêre bene), jukbene (sigomatiese bene of wangbene), die ploegskaarbeen en die onderkaak (mandibula). Die gehoororgane is in die rotsbeen (petrosale been) geleë wat eintlik ʼn uitbulting van die slaapbeen is. Die hamer (malleus), aambeeld (inkus) en die stiebeuel (stapes) is klein beentjies in die middeloor wat ʼn belangrike rol in die gehoorproses speel. Die stiebeuel is die kleinste been in die menslike liggaam.

Tande is bedek met emalje. Emalje is die hardste stof wat diere maak. Tande is met vesels aan die kaak vas en kan effens beweeg as mens kou of byt.

Die ruggraat, of werwelkolom, bestaan uit 33 bene, genoem werwels (vertebrae): 7 nekwerwels (servikale werwels), 12 borswerwels (torakale werwels), 5 lendewerwels (lumbale werwels), 5 saamgesmelte stuitwerwels (sakrale werwels) wat saam die heiligbeen (sakrum) vorm en 4 saamgesmelte stertwerwels (koksigeale werwels) wat saam die stuitbeen (koksiks) vorm. ’n Kameelperd het net soveel nekwerwels as ’n mens.

Die 24 ribbe vorm die beskermende traliewerk van die borskas. Aan die agterkant is al die ribbe aan die rugwerwels vasgemaak. Die boonste 7 ribbe (14 ribbe as die linker en regterkant s’n afsonderlik getel word) is aan die voorkant deur middel van ribkraakbeen aan die borsbeen (sternum) verbind. Hulle heet dus “ware” ribbe, terwyl die 3 volgende “vals” ribbe se kraakbeen slegs indirek aan die borsbeen gekonnekteer is. Die twee onderste “swewende” ribbe sit heeltemal los aan die voorkant.

Die skouergordel bevat die bladbeen (skapula) en die sleutelbeen (klavikel).

Die boarm bevat die boarmbeen (humerus) terwyl die voorarm die speekbeen (radius) en ellepyp (ulna) bevat. Die elmboogpunt is die boonste punt van die ulna en word die verneukbeentjie (olekranon) genoem. Die hand se gewrig bestaan uit 8 handwortelbene (karpale), naamlik die trapesoïedbeen, kopbeentjie (kapitatum) , haakbeentjie (hamatum), ertbeentjie, driehoekbeen, halfmaanbeen, skuitbeen (skafoïed) en die trapesiumbeen. Daar is 5 middelhandbene (metakarpale) wat oor die handpalm strek, en 14 vingerbene (falankse) in die vingers en die duim.

Die bekken (pelvis) bestaan uit twee heupbene en is ʼn bakvormige beenstruktuur wat die basis van die romp vorm. Elke heupbeen word uit drie saamgesmelte bene gevorm: die bekkenbeen (ilium), die sitbeen (iskium) en die skaambeen (pubis) wat ook die ysbeen genoem word. Hierdie bene vorm elkeen ʼn deel van die heuppotjie (asetabulum) waarin die dybeen draai. Aan die agterkant is die heupbene deur middel van die sterk iliosakrale gewrigte aan die ruggraat se heiligbeen verbind. Aan die voorkant is die twee heupbene by die pubiese naat (pubiese simfise) aan mekaar geheg.

Die bobeen bevat die dybeen (femur), die grootste en sterkste been in die liggaam. Die knie bevat die knieskyf (patella) en die onderbeen bevat die skeenbeen (tibia) en die fibula (speekbeen van die onderste ledemaat). Die voet bestaan uit 26 bene. Daar is 7 voetwortelbene (tarsale), naamlik die hakskeenbeen (kalkaneus), talus, kuboïedbeen, skafoïedbeen en 3 wigbene. Daar is 5 middelvoetbene (metatarsale) en 14 toonbene (falankse).

No comments :

Post a Comment