Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



12.11.12

Vrae oor sproei


Chanel Mostert skryf: "My jongste. Sy is twee maande oud. Ek borsvoed haar. Sy kry gereeld sproei. Ek het goed gekry by die plaaslike apteek daarvoor en dit werk. Maar is daar nie iets wat ek ook moet gebruik nie en kan ek die sproei enigsins voorkom?"

Antwoord: Sien die antwoord onder.



Anoniem skryf:
"Is dit moontlik vir 'n baba wat geborsvoed word om sproei te kry en hoe lyk dit?"

Suster:
Ja, dit is moontlik vir 'n borsvoedbaba om sproei te kry.
Dit is wit knoppies in die wange en 'n witterige "kors" op die tong wat nie afkom as jy dit met 'n sagte lappie vee nie. Die babatjie sal ook knieserig wees en swakker drink aangesien dit pynlik is. In erge gevalle kan dit self bietjie bloei.
Dit is baie belangrik dat jy jou tepels mooi skoon was met water voordat jy jou babatjie borsvoed. Vee dit af met klam watte of 'n skoon waslappie. Moenie dieselfde waslap gebruik waarmee jy was nie, al voel jy dat dit skoon is. Hou 'n aparte lappie net daarvoor. As dit baie erg is, kan jy antibiotika kry by jou dokter.

5.11.12

Duimsuig


Ria skryf :
"Ek soek asseblief raad, my vriendin se dogtertjie is 8 jaar oud en suig nog steed haar duim. Wat kan sy doen met die kind asseblief."

Antwoord :
Kinders suig hul duime omdat dit hulle kalmeer en gerusstellend is. Hulle doen dit ook wanneer hulle siek of moeg is. Eerstens moet sy haar nie straf vir haar gedrag nie, sy weet nie hoekom sy dit doen nie. Wat sy moet doen is om te kyk wanneer dit plaasvind en dan 'n plaasvervanger aan te bied. Doen sy byvoorbeeld dit wanneer sy televisie kyk kan jy haar wegneem voor die TV en 'n speletjie met haar speel - enige alternatief wat haar aandag sal wegneem van haar duim.




(tekening S Lindner)

29.10.12

Vrae oor die galblaas


Sonia Coetzer skryf: "Ek het sowat 4 jaar gelede 'n galblaasverwydering en 'n laproskopiese nissen (mantelvliesbreuk) herstel gehad. Ek het my lewensstyl relatief aangepas deur nie brood en vetterige kosse of gaskoeldrank en speserye te gebruik nie. Ek het steeds diaree, ek het chronies hoofpyn en is baie moeg. Kan dit moontlik 'n tekort in my liggaam wees wat dit veroorsaak as gevolg van die soute ens. wat my liggaam verloor deur die diaree. Ek gebruik Questran Lite wat help dat dit nie so erg is nie, maar bly steeds moeg en die hoopyne is nie lekker nie. Ek was nog nooit weer terug na my dokter toe om vas te stel of dit normaal is nie."

Antwoord: Nommer een: Sorg dat jy by 'n dokter kom. Gereelde diaree moet deur 'n kundige persoon gediagnoseer word. Onmiddelik.
Nommer twee: Relatief is nie goed genoeg nie. Reg of weg!



Mila skryf: "Tydens 'n sonar ondersoek is vasgestel dat my galblaas vol fyn stukkies gruis is (nie galstene nie) My galblaas is nie vergroot nie, en my lewer is normaal. Dit is blykbaar so klein, dat dit in die galbuise afgaan en dit versoorsaak dan fyn steekpyne soos naalde. Die dokter beveel aan dat ek my galblaas verwyder. Is daar 'n dieet wat ek kan volg om my galblaas te "detox" ? Ek wil 'n operasie so vêr as moontlik probeer vermy. Ek is ongeveer 10 kg oorgewig."

Antwoord: 'n Dokter sal nie sommer aanbeveel dat jou galblaas verwyder moet word indien dit nie regtig noodsaaklik is nie. Indien jy bekommerd is dat jou dokter oorhaastig besluit het kan jy altyd 'n tweede opinie kry, maar indien jy weer dieselfde hoor moet jy dit so aanvaar.



Loisa Mouton skryf: "Die dokter gaan oor 3 weke besluit of hy my galblaas gaan verwyder as die infeksie nog steeds baie hoog is. Wat veroorsaak die infeksie dan, ek volg 'n goeie dieet het byna 40 kg verloor meer as 'n jaar terug deur weighless en hou my gewig af. Ek eet geen vetterige kos nie drink lae vet melk ook. As hy wel my galblaas verwyder watter probleme gaan ek dan moet mee saamleef? Is dit nie beter om maar die galblaas te hou nie?"

Antwoord: "Dis wonderlik dat jy jou lewenstyl so mooi aangepas het. Die probleem is dat die skade veroorsaak kon word voor jy dit gedoen het. Die dokter se besluit oor jou galblaas is geneem in jou belang en ons moet vertrou dat dit die beste opsie is. Volgens sommige navorsers kan infeksie van die galblaas veroorsaak dat die area in 'n meerdere mate blootgestel is aan substansies wat kanker veroorsaak.
Na die operasie moet jy voorbereid wees op die moontlikheid van diaree, veral gedurende die eerste paar weke. Vermy sterk en vetterige kos, asook suiwel gedurende die tyd. Pas jou dieet aan om meer veselryk te wees. Vir 1% van ons kan die diaree 'n probleem raak oor die langtermyn, maar in so 'n geval sal 'n dokter medikasie kan voorskryf."



Annelie James skryf :
"My man het galblaas probleme en dit moet verwyder word, kan alkohol enige newe effekte hê voor of na die operasie."

Antwoord :Oor die algemeen word daar gesê dat die gebruik van alkohol na die verwydering van die galblaas nie enige effek behoort te hê nie. In die praktyk kla baie pasiënte egter van pyn of 'n ongemaklike gevoel indien hulle alkohol gebruik. Die beste is om die gebruik daarvan te staak en 'n dokter te raadpleeg indien jy enige ongewone simptome toon, voor of na die operasie. Hy moet ook nie te gou alkohol gebruik nadat hy die operasie ondergaan het nie.

27.10.12

Film oor Alzheimer’s

Hayley Morris se oupa was die inspirasie vir hierdie kortfilm, Undone, waarin sy die progressie van Alzheimer’s uitbeeld.



(via Roekeloos.co.za)

15.10.12

Sperm


Janeske Botha skryf: "Ek sukkel nou al 'n jaar om swanger te word en ek was by 'n ginekeloog - en al die toetse gedoen en hy het gesê ek sal gou swanger word. Ek het vir my man gesê hy moet gaan vir 'n "check up" en die dokter het gesê sy sperms swem nie. Ek wil graag weet wat veroorsaak dit en hoe kan ons dit reg stel. Ons het 'n dogtertjie van 5jaar." 

Antwoord:
 Indien die dokter niks fisies fout gevind het wat reggestel kan word nie moet hy afsien van rook en alkohol, gesond eet, oefening doen en (baie belangrik!) oefen vir die baba. Indien sy sperm nie aan die beweeg kom nie is daar alternatiewe soos in-vitro bevrugting.



Marieta skryf :
"My man moet Cheomoterapie ondergaan en ons wil graag sperms bank. Waar kan ek kan ek inligting kry oor waar die naaste sperm bank is, wat die prosedure is en die koste aan dit verbonde."

Antwoord :
Kontakbesonderhede : Cape Fertility Clinic
Newlands Surgical Clinic
Claremont
Kaapstad
Tel : 021 642088 Faks : 021 612709 E-pos : doctor@capefertility-clinic.co.za

10.10.12

Stink asem - probeer eers die tandarts


M***** L******** skryf :

"Wil graag net weet: My seun sukkel met sinusitus & het jaar gelede erg mangelonsteking gehad. Ek kom agter die afgelope maand dat sy asem 'n geweldige slegte reuk het. Wat sou u aanbeveel?"

Antwoord :

'n Tandarts is gewoonlik jou eerste stop as dit kom by 'n stink asem. Flos hy gereeld? Voedsel wat in die tande bly kan bakterieë versamel wat 'n stink asem tot gevolg het. Kyk ook na sy eetgewoontes. Sekere voedsel soos knoffel en uie kan 'n slegte asem veroorsaak. Rook veroorsaak ook dat jou asem nie goed ruik nie. Dit kan ook die sinusitus wees (of 'n ander onderliggende probleem). Infeksie van die lugweë kan 'n stink asem veroorsaak. Indien die tandarts sê dat al die goed waarvoor hy kyk lyk reg moet jy hom na die dokter neem.

2.10.12

Groeipyne by kinders


Monica Paulse skryf:

My seun (19) kla konstant van rug- en kniepyne. Ons huisarts sê dit is agv sy bou, dit is groeipyne, hy groei in die lengte en die rugwerwels kan nie bybly met die groei. Hy studeer nou en die pyne pla baie. Is daar iets wat ek hom as aanvulling kan gee of is dit maar iets wat hy moet deurmaak? Die spiere op sy laerrug lyk asof dit 'n knop aan weerskante van die rugwerwel maak. Is dit normaal?

Antwoord:

 Jy kan daardie knoppe probeer uitmasseer of indien jou begroting dit toelaat hom na 'n chiropraktisyn neem vir 'n opinie. 'n Kalmerende koppie kruietee nou en dan kan wondere verrig. Kruie met 'n kalmerende invloed wat jy in julle kos kan gebruik is basilie, marjolein en origanum - basilie en origanum is wenners op pizza.



Louise Kohn skryf :

"My seun van 6 beleef soms pyne in sy bene wat hy nie kan pinpoint nie. Maar dis erg genoeg dat hy lank aanhou huil. Dit gebeur gewoonlik in die laat middag, vroegaand. Dis nie spierkrampe nie, ek vermoed eerder sy bene of gewrigte self. Hy se dis sy hele been (bobeen, knie en maermerrie/kuit.) Is dit net groeipyne en wat kan ek vir hom gee vir verligting? (hy is besonder lank vir sy ouderdom, maer en aktief)"

Antwoord:

Daar is geen bewyse dat die groei van bene pyn veroorsaak nie. Dit wat jou seun ervaar kom by tot 40% van alle kinders voor en ons noem dit groeipyne. Dit is in werklikheid spierpyne wat by veral aktiewe kinders voorkom. Dae wat hulle baie aktief is is dit veral geneig om erg te wees. Met groeipyne lyk die areas normaal, maar dit pyn baie. Groeipyne moet egter eers deur 'n dokter nagegaan word om te bepaal of dit nie dalk iets anders is nie. Kinders met groeipyne laat gewoonlik toe dat ma of pa die pyn masseer, terwyl 'n ander aandoening gewoonlik te pynlik is en jy nie daaraan kan vat nie. Baie aandag, liefde, vertroeteling en miskien 'n kalmerende teetjie help baie vir groeipyne.