Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

8.9.26

Kruie vir kwale: Hoofpyn

Die blare van die gifbol (Boophone disticha) word ook gebruik om kompresse te maak wat op die liggaam aangebring word om hoofpyn te verlig. Vars blare word geoes en gekneus. Die gekneusde blare word dan effens verhit. Die warm blare word direk op die aangetaste area geplaas en toegedraai en vasgemak met lap of ‘n verband. Moet dit nie in direkte kontak met die vel laat vir langer as 24 uur nie.

♦♦♦

Die takkies en blare van kooigoed kan gebruik word vir hoofpyn. Maak ‘n tee daarvan en drink daagliks.

♦♦♦

Gebruik 5 g vars wildeals blare om ’n tee mee te maak. Laat dit vir 5 minute trek voor jy die blare verwyder. Roer 5 mℓ heuning by.
Drink die tee vir hoofpyn.

♦♦♦

’n Tee van oregano verlig hoofpyn.

♦♦♦

Tee van marjolein verlig hoofpyn.

♦♦♦

Stamp gedroogde basielkruid blare fyn en maak vir jou snuif vir hoofpyn.

♦♦♦

Plaas ’n ¼ koppie klimop-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n siffie en geur met heuning na smaak.
Drink dit vir hoofpyn.

♦♦♦

Gebruik vars wildeals blare vir hoofpyn deur ’n opgerolde blaar in ’n neusgat te hou.

♦♦♦

Trek kattekruie-blare soos ’n sterk tee. Maak die tee met heuning, suurlemoensap en 'n paar blare van die kattekruie.

♦♦♦

Trek roosmaryn soos ’n sterk tee wat jy versoet met heuning.

♦♦♦

Meng ’n pakkie Engelse sout met ’n pakkie kremetart en ’n eetlepel fyngemaalde aluin. Neem 3 maal per dag 1 mespunt vol op die tong.

♦♦♦

Maak ’n lappie nat met asyn en strooi fyn kaneel oor, plaas dit dan op die voorkop.

♦♦♦

Soms kan jy eenvoudig aan 'n bietjie vlugsout ruik om 'n hoofpyn te verlig.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

7.9.26

50 000+ aanhangers op Facebook

Boererate.com het die 50 000 merk verbygesteek op Facebook.
Baie dankie aan al ons ondersteuners.

5.9.26

Kruie vir kwale: Boererate vir inflammasie

Maak ‘n aftreksel deur die wortels en stingels van die graweelwortel in water te kook. Die aftreksel kan in klein hoeveelhede gedrink word vir ernstige interne inflammasie.

♦♦♦

In die Willowmore-omgewing word die plakkie se blare gekook tot sag en dan fyngemaak. Die afgekoelde pasta word dan gebruik om inflammasie ekstern te behandel.

♦♦♦

Plaas skaafsels bas van ’n kiepersol (-boom) op die blare van ’n bloulelie en bind vas op seer spiere, spiere wat kramp of spiere met inflammasie.

♦♦♦

Voeg borrie gereeld by jou dieet, of drink dit sommer daagliks.

♦♦♦

Gebruik gemmer as 'n teenvoeter vir inflammasie.

♦♦♦

Gousblomblare kan gebruik word om inflammasie te behandel. Week ’n hand vol blomblare in ’n koppie warm water vir 15 minute. Laat dit dan afkoel en plaas dit in die yskas vir 30 minute. Week dan ’n waslap in die aftreksel en hou dit op die geaffekteerde plek vir 5 minute. Doen dit ’n paar keer elke dag.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

4.9.26

Kruie vir kwale: Hoes

Tradisioneel, vars of droog, is die blare van kattekruie as tee gebruik vir hoes. Maak die tee met heuning, suurlemoensap en 'n paar blare van die kattekruie.

♦♦♦

Week een bol knoffel in kookwater vir 10 minute. Die aftreksel word dan as ’n tee gedrink.

♦♦♦

Tee gemaak van die blare van die vrouehaar kan gedrink word vir hoes. (Khoisan)

♦♦♦

Kook 1 teelepel gedroogde kamferbosblare in 1 koppie water vir 10 minute.
Dreineer en drink 2-3 keer per dag

*MOENIE KAMFER GEBRUIK* indien jy:
• Swanger of borsvoedend
• Epilepsie of stuiptrekkings het
• Lewer- of nierprobleme het
• Kinders jonger as 2-3 jaar
• Op stukkende of geïrriteerde vel

♦♦♦

Balsem Vita, ’n preparaat van verskillende olies, word aanbeveel vir die verligting van hoes van ‘n minder ernstige aard. Dit kan met veiligheid vir kinders en babas gegee word. Vir volwassenes 20 – 30 druppels 4 of 5 keer daagliks saam met warm water of tee. 10 druppels is genoeg vir kinders en 5 druppels in bietjie lou soet water vir babas.
Die olies wat gebruik word vir die preparaat is kassia, laventel, naeltjie, neutmuskaat en tiemie.

♦♦♦

Die vars blare van die kransaalwyn word gekap of fyngemaak en dan in water gekook om 'n tee of aftreksel te maak.
Dit word gedrink om hoes te verlig.
Soms word heuning of ander medisinale kruie, soos die blare van die lemoenbossie of gemmer, bygevoeg om die doeltreffendheid te verbeter.

♦♦♦

Vir hoes week Rastafariërs een wildeknoffel plant se bol en blare in kookwater vir 10 minute. Die aftreksel word dan as ’n tee gedrink.

♦♦♦

Die Zoeloes gebruik al lank reeds watersalie vir hoes. Die resep is twee blare in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n eetlepel geelblomsalie blare en laat dit trek vir 5 minute. Om dit meer drinkbaar te maak kan jy dit versoet met heuning en ’n skyfie suurlemoen byvoeg.
Die Nama mense gebruik al lank tee van geelblomsalie vir die behandeling van hoes. .

♦♦♦

Tee van die wilde salie word wêreldwyd gebruik vir die behandeling van hoes en ander borskwale.
Gooi ’n koppie kookwater oor ’n eetlepel wilde salie blare en laat dit trek vir 5 minute. Daarom meer drinkbaar te maak kan jy dit versoet met heuning en ’n skyfie suurlemoen byvoeg.
As jy hoes moet jy daarvan drink direk na die hoesbui. Jy kan ook ’n blaar kou om te help met hoes of ’n seer keel.

♦♦♦

Gebruik 10 g wildedagga-blare, stele en/of blomme om ’n tee mee te maak. Laat dit vir 5 minute trek voor jy dit deur ’n siffie gooi.
Drink dit vir hoes.

♦♦♦

Jy het ’n takkie kapokbos van omtrent jou duim se lengte nodig. Gooi ’n koppie kookwater daaroor en laat trek vir 5 minute.
Dreineer en voeg bietjie heuning en suurlemoensap by en drink dit vir hoes.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n paar gedroogde takkies heuningtee en laat dit trek vir 20 minute. Drink dit ten minste 4 keer per dag vir hoes.

♦♦♦

Gebruik 10 g vars tiemie om ’n tee mee te maak. Laat dit vir 5 minute trek voor jy dit deur ’n siffie gooi. Roer 5 mℓ heuning by.
Drink die tee vir hoes.

♦♦♦

Plaas 5 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Drink dit vir hoes.

♦♦♦

Plaas ’n ¼ koppie klimop-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n siffie en geur met heuning na smaak.
Drink dit vir hoes.

♦♦♦

Maak die wortel van die noem-noem skoon en maak fyn. Gebruik 2 teelepels in ’n koppie warm water. Drink dit vir hoes.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n paar blare van die medisynebossie en laat trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n sif en drink vir hoes.

♦♦♦

Voeg ’n paar wildeals-spruite by ’n bottel brandewyn. Laat staan vir ’n week en skud daagliks. ’n Eetlepel hiervan twee maal per dag vir hoes.

♦♦♦

Gebruik 5 g vars wildeals blare om ’n tee mee te maak. Laat dit vir 5 minute trek voor jy die blare verwyder. Roer 5 mℓ heuning by.
Drink die tee vir hoes.

♦♦♦

Gooi kookwater oor ’n teelepel bloekomblare (Eucalyptus globulus) gemeng met ’n teelepel bokboegoe (Coleonema pulchellum). Laat dit trek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink vir hoes.

♦♦♦

Een teelepel boegoebrandewyn, twee maal per dag.
Lees hier hoe om boegoebrandewyn te maak.

♦♦♦

Kook ´n stuk saliebos in water tot die vloeistof lyk soos sterk tee.
Neem een koppie daarvan en kook dit tot ’n stroop saam met 500 ml suiker.
Voeg 1 botteltjie borsdruppels en 125 ml suurlemoensap by en skud goed.
Drink 15 ml hiervan 3 maal per dag.

♦♦♦

Sny ’n wit ui in dun skyfies en strooi bruinsuiker daaroor. Laat die staan sodat dit ’n stroop kan trek. Gee dan 5 mℓ van die stroop elke uur. Dit sal help vir hoes.

♦♦♦

Jy kan jou eie hoesstroop maak deur gelyke hoeveelhede suurlemoensap en heuning te meng.

♦♦♦

Peperwortel is jare gelede gereeld gebruik om hoes mee te behandel. Jy berei jou eie hoesstroop van die plant. Behou die wortel se skil, maar was en skrop dit deeglik. Sny dit dan in skyfies. Strooi ’n dik laag bruinsuiker oor en laat staan vir 24 uur. Dan gooi jy die los suiker af en kook die res op tot sag. Neem 5 mℓ wanneer jy ’n hoesbui het.

♦♦♦

Kou ses naeltjies en sluk die sap in.

♦♦♦

George Moore skryf:
"Man, ek het so 'n lelike hoesie gekry die winter toe sê 'n ou taante om die draai van my ek moet die volgende gebruik:
1 half jack gemmer brandewyn
1 middelslag ui
2 huisies knoffel
1 bottel heuning
Gooi die heuning en brandewyn in 'n potjie en verhit stadig maar nie kook nie, rasper dan die ui en knoffel baie fyn en gooi by die brandewyn en heuning laat so vir 10 minute staan en gooi in bottels maak seker dat die ui en knoffel gelyk verdeel is in al die bottels. Gebruik dan so 2 eetlepels op 'n slag vir hoes maar nou nie te veel nie anders moet 'n mens dan 'n raad vir wingerdgriep gaan soek. So elke 2 ure het gewerk vir my."

♦♦♦

Die kanniedood (Catharanthus roseus) se blare word gebruik vir die behandeling van hoes.
Die basiese metode is om ’n paar blare vir 5 minute te week in kookwater en dan die tee te drink.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

3.9.26

Kruie vir kwale: Wurms

Gebruik 5 g vars wildeals blare om ’n tee mee te maak. Laat dit vir 5 minute trek voor jy die blare verwyder. Drink daagliks.

♦♦♦

Die bol van wildeknoffel word reeds lank in tradisionele medisyne gebruik om wurms te behandel. Daar is ook vandag wetenskaplike bewyse dat die plant parasiete kan vernietig (Krstin et al., 2018).
Een plant se bol word in stukke gesny en in kookwater geweek vir 10 minute. Die aftreksel word dan as ’n tee gedrink.
(Krstin S, Sobeh M, Braun MS, Wink M. Tulbaghia violacea and Allium ursinum Extracts Exhibit Anti-Parasitic and Antimicrobial Activities. Molecules. 2018)

♦♦♦

Sny ’n stuk kaneelbol-wortel van 1 cm skoon en laat dit trek in ’n koppie kookwater saam met ’n paar takkies bergtee. Laat dit trek vir 5 minute, gooi deur ’n sif en drink dit vir wurms.

♦♦♦

Bergtee kan suksesvol gebruik word om van wurms ontslae te raak. Gooi kookwater oor ’n kwart koppie vars blare. Laat dit trek vir 10 minute. Drink terwyl dit nog warm is. Drink dit elke oggend vir twee weke. Dit kan ook gebruik word om wurms by troeteldiere te behandel. Meng die tee met hulle kos en water. Dit werk gewoonlik vinniger vir diere.

♦♦♦

Drink 1 eetlepel geosoneerde olyfolie vir 5 dae net voor slaaptyd en Jalapeno rissie pitte (40) voor ontbyt. Kombineer dit met die swael-resep. Nie die warm Jalapeno rissie nie, die een wat proe soos soetrissie en nie brand nie. Dit werk vir 99% van menslike parasiete. Diere kan net die swael gebruik, 'n mespunt by hul kos. (Derek Botha)

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

2.9.26

Kruie vir kwale: Gonorree

Hierdie is die eerste inskrywing in ons databasis vir ‘n plant wat spesifiek gonorree behandel. Dit is gebasseer op navorsing oor die tradisionele gebruik daarvan. Dit help ook vir sifilis

Gonorree is die besmetlike ontsteking van die slymvlies van die geslagsorgane. Dit word versprei deur middel van seksuele kontak met 'n besmette persoon.

Jy plaas 2 teelepels gedroogde, fyngemaakte of gerasperde wortel van die platdoring (Arctopus echinatus) saam met 500 ml water in ‘n kastrol. Bring die water tot kookpunt oor medium-hoë hitte. Bedek die pot met 'n deksel en stel die hitte op laag en laat dit saggies prut vir 20 minute.
Verwyder die kastrol van die hitte en laat dit vir nog 10 minute staan.
Gooi dan die vloeistof deur 'n fyn sif of kaasdoek.
Drink daagliks ‘n bietjie.

Ander name vir die platdoring is die pokkiesdoring of sieketroos.

♦♦♦




Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

1.9.26

Kruie vir kwale: Naarheid

Week een bol knoffel in kookwater vir 10 minute. Die aftreksel word dan as ’n tee gedrink.

♦♦♦

Die Zoeloes gebruik al lank reeds watersalie vir naarheid. Die resep is twee blare in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

♦♦♦

Die blare en wortels van die kaneelbol word gebruik om ’n tee te maak vir die behandeling van naarheid.
Sny ’n stuk wortel van 1 cm skoon en 2 teelepels gekapte blare. Laat dit trek in ’n koppie kookwater vir 5 minute en gooi deur ’n sif voor jy dit drink.

♦♦♦

Die blare van die maagpynbossie word gebruik as medikasie vir naarheid. Trek 10 g blare in ’n koppie kookwater vir 5 minute. Drink dit stadig.

♦♦♦

Een teelepel boegoebrandewyn, twee maal per dag.
Lees hier hoe om boegoebrandewyn te maak.

♦♦♦

Bosboegoe kan ook gebruik word. Voeg ’n paar bosboegoe-spruite by ’n bottel brandewyn. Laat staan vir ’n week en skud daagliks. ’n Eetlepel hiervan twee maal per dag.

♦♦♦

Drink ’n teelepel suurlemoensap met ’n bietjie warm water.

♦♦♦

Gooi ’n paar druppels vanilla by water of appelsap en drink.

♦♦♦

Drink 'n warm tee van byebalsem (bergamot).

♦♦♦

Eet rou gemmer vir naarheid.

♦♦♦

Vars basielkruid help teen naarheid.



Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids