Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

21.8.24

Jig

Dit is ´n gewrigsontsteking wat voorkom wanneer daar te veel uriensuur in die bloed is. Hewige pyn is gewoonlik die eerste simptoom. Dan raak die aangetaste gewrigte ontsteek, rooi, geswel en seer - dit lyk of daar infeksie in is. Die gewrigte voel warm en is uiters gevoelig. Jig kom in die meeste gevalle in die groottoon voor. Hiernaas kan die enkel, knieë en polsgewrigte ook aangetas word.

Sny rooivleis, alkohol en tamaties uit jou dieet en maak seker 60% van jou dieet bestaan uit groen groentes. Drink baie water om jou niere te help om oortollige uriensuur uit te skei.

Spreek jou dokter vir ´n diagnose.

19.8.24

Raad vir mangels wat seer is

Ontsteking van die mangels vind plaas as gevolg van bakterieë of 'n virus. Die simptome sluit in 'n seer keel, hoofpyn, koors, stemverlies en geswelde kliere in die nek en kaak. Dit kom veral by kinders voor.

Kry die kindjie dadelik by die dokter wanneer hulle sukkel om asem te haal, nie kan sluk nie of onbeheerbaar kwyl. In so 'n geval sal die dokter ook oorweeg om die mangels te verwyder.

Wanneer die ontsteking deur 'n virus veroorsaak is werk antibiotika nie sommer nie. Indien die dokter antibiotika voorskryf vir 'n bakteriële infeksie MOET julle die kursus voltooi al voel die kindjie beter na twee of drie dae, anders is die mangelontsteking sommer gou weer terug.

Dit kan 'n week of twee neem om te herstel. 'n Virusinfeksie moet jy maar sy gang laat gaan. Laat die kind rus, gee warm vloeistowwe soos rooibostee en sop en laat hulle gorrel met warm soutwater. Raad vir 'n seer keel is 'n teelepel heuning oplos in 'n glas warm water en plaas 'n paar druppels suurlemoensap by. (Geen heuning vir kinders jonger as 1 jaar.) Jy kan iets soos Tylenol gebruik vir die verligting van koors en pyn.

Indien jy dit wil voorkom moet jy kinders leer om gereeld hul hande te was. Leer hulle 'n liedjie om te sing, terwyl hulle hande was, en maak seker hulle was oral op die hand. Hande moet drooggemaak word met 'n skoon handdoek wat net vir hande is en die kraan moet ook met die handdoek toegedraai word.

6.8.24

Kruie vir kwale: Naarheid

Die Zoeloes gebruik al lank reeds watersalie vir naarheid. Die resep is twee blare in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

♦♦♦

Die blare en wortels van die kaneelbol word gebruik om ’n tee te maak vir die behandeling van naarheid.
Sny ’n stuk wortel van 1 cm skoon en 2 teelepels gekapte blare. Laat dit trek in ’n koppie kookwater vir 5 minute en gooi deur ’n sif voor jy dit drink.

♦♦♦

Die blare van die maagpynbossie word gebruik as medikasie vir naarheid. Trek 10 g blare in ’n koppie kookwater vir 5 minute. Drink dit stadig.

♦♦♦

Een teelepel boegoebrandewyn, twee maal per dag.
Lees hier hoe om boegoebrandewyn te maak.

♦♦♦

Bosboegoe kan ook gebruik word. Voeg ’n paar bosboegoe-spruite by ’n bottel brandewyn. Laat staan vir ’n week en skud daagliks. ’n Eetlepel hiervan twee maal per dag.

♦♦♦

Drink ’n teelepel suurlemoensap met ’n bietjie warm water.

♦♦♦

Gooi ’n paar druppels vanilla by water of appelsap en drink.

♦♦♦

Drink 'n warm tee van byebalsem (bergamot).

♦♦♦

Eet rou gemmer vir naarheid.

♦♦♦

Vars basielkruid help teen naarheid.



Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

31.7.24

Wanneer ovuleer jy?

Ovulasie is die uitkom van 'n eisel uit die eierstok. Dit gebeur ongeveer op dag 14 nadat jy begin menstrueer. Hou noukeurig boek van jou maandstonde en let op die duur daarvan. Indien jou siklus presies 28 duur begin ovuleer jy heel waarskynlik op dag 14 nadat jy begin menstrueer. Indien jou siklus varieer moet jy 18 dae aftrek van jou kortste siklus. Die totaal tel jy by wanneer jy weer menstrueer en dis waarskynlik die dag waarop jy ovuleer. Die stelsel is nie perfek nie, maar jy kan dit probeer.

Let ook op die vaginale afskeiding. Wanneer jy ovuleer is die afskeiding normaalweg soos rou eierwit. Wanneer jy klaar ovuleer het is die afskeiding meer melkerig.

Hou ook jou liggaamstemperatuur dop en wanneer dit effens styg en stabiel bly vir twee tot drie dae ovuleer jy. Jy sal waarskynlik dit oor 'n sekere tydperk moet doen om 'n patroon te vind. Daar is ook deesdae toeps (apps) waarmee jy jou tydperk van ovulasie kan opspoor.

29.7.24

Klierkoors

Hierdie siekte word veroorsaak deur die Ebstein Barr virus.

Simptome sluit in keelseer, pynlike limfkliere, koors, 'n fyn uitslag, artralgie, mialgie en moegheid.

Tekens sluit in vergrootte mangels.

Klierkoors gee selde 'n chroniese aantasting met moegheid as 'n pertinente simptoom.

Lees meer by Kruie vir kwale: Klierkoors



(foto: Sora Shimazaki)

25.7.24

Kinders wat byt

Meeste kinders byt een of ander tyd en hou uiteindelik op eie houtjie op. Soms kom dit as 'n onaangename verassing terwyl jy nog borsvoed, ander tye is die kind al amper op skool.

Hier van vyf maande af byt baba's omdat hulle tande kry. Hulle hou gewoonlik op omdat hulle negatiewe reaksie kry. Van ag maande af byt die baba gewoonlik weens opgewondenheid. Vanaf 15 maande gaan dit oor frustrasie of beheer. Gedurende laasgenoemde sal die kind nie sommer die ouers of oppasser byt nie, maar eerder ander kinders of vreemdelinge. Gedurende die tyd leer die kind ook dat dit verkeerd is om te byt. Indien die kind ouer as drie jaar is en nog steeds byt is ingryping nodig.

Na drie jaar word bytery gekoppel aan vrees, magteloosheid, aggressie of ander emosionele probleme. Indien jou kind na die ouderdom gereeld byt moet jy eerder 'n professionele persoon gaan spreek.

Let tog daarop dat jy 'n punt daarvan maak dat jou kind sal weet dat die tipe gedrag nie jou goedkeuring wegdra nie.



(foto: Jep Gambardella)

23.7.24

Wintershande

Wintershande en -voete (pernio) is die brandende, jeukende geswel van hande en / of voete as gevolg van blootstelling aan koue. Die koue veroorsaak dat die bloedtoevoer ingekort word.

Behandeling
Eerstens wil jy jouself warm hou wanneer jy buite is. Wanneer jy ’n warm huis binnegaan word jou liggaam gou warm. Dit veroorsaak dat jou are wyer raak. Die fyn aartjies in jou vingers en tone sukkel met die sterk stroom en daar ontstaan lekkasies. Dit veroorsaak die rooi kleur wat jy sien en die brand en gejeuk.

Indien jy nie jou hande en voete buite kon warm hou nie, week jou ledemate in louwarm water as jy inkom. Die water moet aanvanklik nie te warm wees nie as gevolg van die fyn aartjies.

Die beste behandeling is oefening. Oefening kry die bloedsomloop aan die gang en swak bloedsirkulasie is juis die oorsaak van die probleem. 15 minute oefening is ’n goeie begin.

Medici het gewoonlik die volgende aanbevelings: Thrombophob antiinflammatoriese salf, of ’n kortisooninspuiting en ’n halwe dosis aspirien per dag. Gesels eers met jou dokter voor jy aspirien gebruik.



(foto: Brett Sayles)