Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

10.7.24

Krampe (Spiere)

Jy kry ´n kramp as jou spiere skielik saamtrek en die pyn kan ´n paar minute duur. Swem in baie koue water, swak bloedsirkulasie na die spier, sout- en ander mineraaltekorte en wanbalanse is ook algemene oorsake. Krampe kom gewoonlik in die bene, voete en hande voor.

Suurstoftekort, rookgewoontes, passiwiteit, artritis, dehidrasie, hitte-aanvalle en verkalkte are kan ook faktore wees. Kinders ondervind dikwels spier- en beenpyn wat as groeipyne bekend staan. Chroniese spierkrampe dui dikwels op ´n tekort aan magnesium.

Trek die betrokke ledemaat reguit deur dit op- of afwaarts te buig. Masseer die aangetaste dele asook die hele omliggende deel. Vir tekorte probeer aanvullings van kalsium, magnesium, kalium, yster, Vitamiene B, C en D en seewiertablette. Vitamien E is goed vir krampe wat na oefening of in die aand voorkom en is baie doeltreffend vir die verbetering van die bloedsomloop, veral in die geval van verkalkte are.

Spreek jou dokter indien jy bedags krampe kry terwyl jy aktief is.

Boereraat:

Vir stywe spiere smeer jy soggens en saans klapperolie aan en doen dan baie ligte oefening met daardie spiere.

♦♦♦

Vir stywe spiere: gooi ’n halwe koppie appelasyn in badwater.

♦♦♦

’n Magnesium aanvulling kan help om krampe te verhoed.

♦♦♦

Vir krampe of spierpyne, week koolblare in warm water en sit 2 keer per dag op aangetaste deel.

♦♦♦

Week ’n lap in koue water en sit op jou maag. Dit sal verligting bring.

♦♦♦

Drink ’n eetlepel soetolie saam met ’n sterk koppie koffie.

♦♦♦

Meng 1 eetlepel asyn en 1 eetlepel soetolie en drink.

♦♦♦

Drink ’n bietjie sterk suikerwater.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

9.7.24

Aandagtekort-hiperaktiwiteitsversteuring / ATHV

Aandagtekort-hiperaktiwiteitsversteuring (ATHV) kom normaalweg by kinder voor vanaf die ouderdom van ag jaar tot middel-adolessensie. Dit kom tot nege keer meer voor by seuns as meisies.

Simptome van ATHV, wat ten minste ses maande moet duur, sluit in:

vroetel met hande of voete wanneer hy / sy moet stilsit
aandag word maklik afgetrek
vind dit moeilik om 'n opdrag uit te voer
vind dit moeilik om beurt af te wag in groepsaktiwiteite
wil 'n vraag beantwoord voor dit voltooi is
behou moeilik aandag tydens groepsaktiwiteite
beweeg gou van een onvoltooide taak na 'n ander
speel moeilik stil
praat oormatig
onderbreek ander se aktiwiteite
kom voor asof die kind nie luister na volwassenes nie
verloor maklik dinge wat nodig is om take mee uit te voer
doen soms gevaarlike dinge

Gedragsterapie en remediërende onderwys word as die beste behandeling beskou.

Boereraat:

Vanielje / Vanilla het 'n kalmerende effek. Drup 3 - 5 druppels in jou kind se melk, vrugtesap of water 2 of 3 keer per dag.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids



(foto: Tara Winstead)

8.7.24

Kruie vir kwale: Koliek

Die Zoeloes gebruik al lank reeds watersalie vir koliek. Die resep is twee blare in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

♦♦♦

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids



(foto: William Fortunato)

3.7.24

Kroniese Moegheid Sindroom / Jappiegriep

Jappiegriep, Kroniese Moegheid Sindroom (KMS) is 'n siekte wat vir lank nie erken is nie. Dit word egter na al die jare erken as 'n kroniese siekte.

Die siekte kan skielik begin, of die lyer stadig bekruip oor 'n tydperk van 'n paar jaar. Dit volg gewoonlik op 'n virusinfeksie bv. griep. Nie alle gevalle van KMS is kronies nie. Daar is egter nie sekerheid of lyers wel genees word en of die simptome net ligter word sodat hulle beter kan funksioneer nie.

Tekens en simptome: Moegheid: kronies of wisselend
Uitputting
Slaapsteurnisse
Depressie
Spierpyne
Gewrigspyne
Hoofpyn
Totale uitputting na oefening
Verswakte konsentrasie
Vergeetagtigheid

Diagnose: Dit is baie moeilik om KMS te diagnoseer. Daar is geen spesifieke toetse wat gebruik kan word om die diagnose te kan maak nie. Wanneer al die ander moontlikhede uitgeskakel is, sal die dokter KMS diagnoseer.

Baie meer vroue as mans ly aan KMS.

Moontlike oorsake: Stres
Virusse
Toksiese stowwe
Oor- of onderaktiewe immuunsisteem
Hormoonprobleme
Probleme met die funksionering van die outonome senuweestelsel wat onder andere die bloeddruk en metabolisme beheer.
Swak voedingstatus, veral 'n streng vegetariese dieet.
Depressie
Tandbederf

Behandeling: Antibiotika
Antifungale behandeling
Multivitamienes wat die immuunsisteem 'n hupstoot gee
Hormone
Antidepressante
Slaapmiddels
Pynmedikasie
Klimaat: sommige lyers vind dat 'n warmer klimaat die simptome verlig
Mondhigiëne
Oefening: veral die wat spiere sterker maak
Sielkundige berading: Dit beteken NIE dat KMS 'n sielkundige siekte is nie!
Meditasie

Daar is in vandag se verligte eeu geen rede waarom KMS lyers nie normale lewens kan lei nie. Bekende KMS lyers:
Brian Aldiss: Skrywer
Die Hertogin Van Kent
Blake Edwards: Skrywer en regisseur van o.a. The Pink Panther, Breakfast At Tiffany's
Kelly Holmes: atleet

bydrae: Barbara Pelser



(foto: Cotton Bro Studio)

2.7.24

Koliek

Die term koliek word gebruik om gevalle te beskryf waar babas lank aaneen luidkeels en onophoudelik huil. Daar word algemeen aanvaar dat koliek babas maagpyn en -ongemak verduur, maar die oorsaak kan nie bepaal word nie. Normaalweg klaar hierdie toestand op sodra die baba 3 tot 4 maande oud is.

Probeer baba op sy/haar gemak stel sonder om die roetine te versteur. Draai haar snoesig toe, hanteer haar sagkens en sus vertroostend. Probeer skerp lig en lawaai vermy. Konstante vibrasies het ook ´n kalmerende uitwerking.

Indien dit nie na 6 maande opklaar nie, indien die baba aan diarree of braking ly, indien bloed in die stoelgang voorkom of indien die baba bleek en pap raak moet jy onmiddellik jou dokter kontak.



(foto: Greta Hoffman)

27.6.24

Lewer

Dit was 'n lang vakansie, vra maar jou lewer. Meeste van ons besef nie die belangrikheid van hierdie orgaan nie. Wanneer ons uitvind daar is iets fout is dit gewoonlik te laat en die skade is onherstelbaar. Deur na jou lewer te kyk kan die verskil tussen lewe en dood beteken.

Die lewer is jou liggaam se chemiese fabriek. 'n Ongesonde lewenstyl vernietig jou fabriek se selle. Driekwart van hierdie selle kan vernietig word voor jou lewer ophou funksioneer. Ongelukkig is ons selde bewus van enige skade voor dit te laat is.

So hoe hou ek my lewer gesond? Volg net hierdie maklike stappe:

Hou matigheid voor oë! Vir 'n gesonde lewer behoort jy nie meer as een glas wyn (125 ml vir vroue, 250 ml vir mans) per dag te drink nie.

Drink baie water.

Eet baie groente en vrugte. Jou lewer is versot op antioksidante uit die bronne. Ruil ook jou normale kookolie in vir ekstra suiwer olyfolie wat ryk is aan vitamien E en ander antioksidante.

Eet eiers, knoffel en uie. Dit help met lewerfunksie.

Jou dieet moet 'n lae glukemiese lading hê. Vermy suiker en verfynde koolhidrate.

Verloor gewig indien jy oorgewig is.

Dit is 'n goeie idee om nou bietjie meer as normaal by bogenoemde eetgewoontes te hou. Dit sal jou lewer help om te herstel na die vakansie.

20.6.24

Varkgriep / A/H1N1-virus


Varkgriep is ‘n respiratoriese griep wat hoofsaaklik deur die tipe A/H1N1- griepvirus veroorsaak word. Varkgriep het in die verlede geredelik tussen varke uitgebreek. Intussen het die virus ook by mense begin voorkom. Die eerste gevalle is laat Maart begin April 2009 gerapporteer. Hierdie gevalle het in Suid-Kalifornië en Texas in Amerika voorgekom. Die virus versprei tans van mens tot mens en daarom kan dit oor die hele wêreld voorkom.

Die simptome van varkgriep is soortgelyk aan die normale simptome van menslike griep.

Algemene varkgriep simptome

Seer keel
Hoes
Koors (Kinders het gewoonlik ook ‘n uitslag)
Moeilike asemhaling (Kinders het 'n vinnige en moeilike asemhaling)· Kortasem
Hoofpyn
Die hele liggaam kan pyn
Skielike duiseligheid
Diarree en naarheid word ook gerapporteer

Dit wil voorkom varkgriep met dieselfde metodes versprei as seisoenale griep. Dit word normaalweg van persoon tot persoon versprei op een van die volgende maniere:

Hoes en nies
Aanraking

Die volgende voorkomende stappe kan geneem word:

Was jou hande gereeld met seep en water
Probeer om nie aan jou oë, neus en mond te vat nie
Hou jou liggaam so gesond as moontlik
Slaap genoeg
Drink baie vloeistowwe (veral water)
Eet gesond
Probeer om nie oppervlaktes aan te raak wat dalk met die virus besmet kan wees nie
Vermy kontak met persone wat siek is

Sekere virusse kan langer as twee ure leef op byvoorbeeld, deurknoppe, tafels, ens.

Bly by die huis indien jy met die virus besmet is. Vermy sovêr moontlik naby kontak met ander mense. Bedek jou mond en neus met ‘n snesie wanneer jy hoes of nies. Gooi dit daarna onmiddellik in die asblik. Was jou hande met seep en water.

Indien of jou gesin simptome toon van varkgriep moet jy onmiddellik na jou huisdokter, naaste kliniek of hospitaal gaan.

Hoe lank duur varkgriep?

Die duur van varkgriep kan van persoon tot persoon verskil. Oor die algemeen duur die siekte gewoonlik ongeveer 7 tot 10 dae. Die erns en duur van simptome kan egter afhang van verskeie faktore, insluitend die individu se algemene gesondheid, ouderdom en enige onderliggende mediese toestande.

Vir hoe lank is varkgriep aansteeklik?

Vanaf 'n dag voor die eerste simptome verskyn tot omtrent 4 dae daarna.