Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

1.7.21

Maagpyn

Boereraat:

Drink bietjie sodawater vir maagpyn.

♦♦♦

Te veel geëet
Drink bietjie koeksoda in kookwater.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

28.6.21

Ingeslukte voorwerpe

Dis veral klein kindertjies wat geneig is om vreemde voorwerpe in te sluk. Voorbeelde is spelde, muntstukke en knope. Onthou om klein voorwerpe buite hulle bereik te hou.

Gladde voorwerpe sal gewoonlik maklik deur die ingewande beweeg. Skerp voorwerpe kan egter verstikking veroorsaak of die ingewande beskadig.

In beide gevalle moet die persoon na die hospitaal geneem word.

MOET NIE DIE PERSOON IETS PER MOND GEE NIE.

21.6.21

Oefening goed vir mense met vetsug

Namate vetsug in ouer mense toeneem, word swakheid - wat vererger word deur vetsug – ’n groter gesondheidsprobleem en ’n groter onkoste in gesondheidsorg.

Navorsers het bevind dat die kombinasie van aërobiese en weerstandsoefeninge bejaarde vetsugtige individue help om spiermassa te behou, terwyl hulle gewig verloor. Die studie het verskyn in die vaktydskrif Cell Metabolism.

Daar is ook bevindings uit die Universiteit van Tübingen wat toon dat, behalwe ander voordele, oefening ook die breinfunksies verbeter van persone met vetsug. Oorgewig individue is geneig tot insulienweerstand in die brein, sowel as die res van die liggaam. Oefening veroorsaak dat breinfunksies so gou soos 8 weke van oefening begin genormaliseer.

17.6.21

Verkoue

Verkoues word veroorsaak deur onkeerbare virusinfeksies en is hoogs aansteeklik. Die simptome sluit in loopneus, seerkeel, hoofpyn, droë hoes, genies, afname in eetlus en ’n algemene tamheid. Die simptome kan tot 7 dae voortduur, hoewel ’n loopneus vir tot 3 weke kaan aanhou.

Indien die verkoue na ’n week nog nie gewyk het nie en by die eerste tekens van ’n hoë koors moet jy jou dokter gaan spreek.

Daar is meer as tweehonderd virusse wat verkoue veroorsaak. Die rinovirus is die belangrikste oorsaak, maar ’n koronavirus is ook ’n moontlike sondaar.

Boereraat:

Volwassenes kan 10 tot 30 druppels antimoonwyn in kanferwater gegee word 3 of 4 keer per dag. Die laaste dosis met slaaptyd. Kinders kan ‘n dosis van 5 tot 10 druppels gegee word.

♦♦♦

Sodra jy ´n verkoue aan jou lyf voel moet jy in ´n Engelse soutbad klim. Gooi so twee handevol sout in. Klim daarna in ´n warm bed. PS! BELANGRIK! Mense wat aan hoë bloeddruk ly moet nie hierdie behandeling toepas nie.

Sien ook:
Raad teen verkoues
Kruie vir kwale: Verkoue


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

14.6.21

Skeletspiere, spiersametrekking en antagonistiese spiere

Skeletspiere
• Skeletspiere word deur middel van tendons aan die skelet geheg en laat beweging van dele van die skelet toe.
• Elke skeletspier bestaan uit ‘n groot aantal spiervesels wat deur bindweefsel genaamd die perimesium in bondels saamgebind word.
• Die onderskeie spierbondels word deur bindweefsel genaamd die epimesium saamgebind.
• ‘n Enkel spiervesel is ‘n verlengde silindriese spiersel wat deur ‘n membraan genaamd die sarkolemma omsluit word.
• Elke spiersel besit sitoplasma met ‘n groot aantal ovaalvormige kerne en mitochondria.
• Elke spiersel bestaan uit duisende miofibrille.
• Miofibrille bestaan uit twee tipes proteïenfilamente genaamd miosien en aktien. Miosien filamente is dikker en donkerder in voorkoms waar aktien filamente dunner en ligter in voorkoms is.
• Die area tussen twee Z-lyne word die sarkomeer genoem.

Spiersametrekking
• Tydens sametrekking gly die dun aktien filamente verby die dikker miosien filamente.
• Die Z-lyne beweeg nou nader aanmekaar.
• Die verkorte sarkomeer lei tot die verkorting van die miofibrille wat daartoe lei dat die spier verkort.

Antagonistiese spiere bv. die biseps en triseps
• Skeletspiere werk gewoonlik in pare, m.a.w. as die een saamtrek, verslap die ander.
• Sulke spiere staan as antagonistiese spiere bekend.
• Die biseps en triseps in die bo-arm is voorbeelde van antagonistiese spiere.
• Wanneer die biseps saamtrek en die triseps verslap, buig die elmbooggewrig wat veroorsaak dat die voorarm gelig word.
• Wanneer die triseps saamtrek en die biseps verslap, sal die elmbooggewrig strek en die voorarm word gesak.

7.6.21

Neonatale konjunktivitis

Neonatale konjunktivitis is ’n vorm van konjunktivitis (ontsteking van die buite-oog) wat by pasgebore babas voorkom. Normaalweg is dit as gevolg van ’n neonatale bakteriële infeksie.

Antibiotiese salf word gewoonlik binne 1 uur na geboorte op die pasgeborene se oë toegedien as voorkoming. Hierdie praktyk word aanbeveel vir alle pasgeborenes.

As dit nie behandel word nie, kan neonatale konjunktivitis blindheid veroorsaak.

31.5.21

Vishoek in die vel

Enige visser kan getuig dat hulle een of ander tyd ’n vishoek in die vel gehad het. Indien die hoek ’n weerhaak aan het, moet jy liefs nie probeer om dit te verwyder nie. Kry eerder mediese hulp.

Ongelukkig vang mens gewoonlik nie vis naby ’n hospitaal nie. Indien jy dit self moet probeer verwyder kan jy die volgende doen:
1. Sny die lyn van die hoek af.
2. Indien daar nie ’n weerhaak in die vel is nie kan jy die punt versigtig verwyder en dit behandel soos ’n klein wond.
3. Indien die weerhaak jou binnegedring het, moet jy dit behandel soos ’n ingebedde vreemde voorwerp.
4. Indien daar geen gevaar is vir die beskadiging van inwendige organe nie kan jy die hoek deur die vel druk tot die weerhaak uitsteek. Dan knip jy die punt met die weerhaak af.
5. Trek nou die hoek versigtig uit en behandel soos ’n wond.
6. Wanneer moontlik moet jy mediese behandeling kry teen enige moontlike infeksie.