Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

4.2.13

Baba badtyd en velsorg

Kenners van die Mayo Clinic in Amerika het sekere aanbevelings gemaak as dit kom by die bad van 'n baba. Die Mayo Clinic word internasionaal erken as leiers op die gebied van gesondheidsorg.

Die aanbevelings van hulle sentrum vir kindersorg is daarop gemik om velsorg by babas te verbeter. Die volgende wenke hou nie net die baba se vel skoon en gesond nie, maar maak badtyd ook 'n lekker tyd vir baba:

  • Dit word nie aanbeveel dat die baba elke dag gebad word nie. Elke tweede dag is genoeg om die velletjie skoon te hou. Op die dae wat die baba nie gebad word nie kan jy net die gesiggie en vel versigtig afvee met 'n klam lappie. Hulle beveel af jy vee die ooglede af vanaf die binneste hoek na buite. Het jy geweet jy kan 'n baba sy eerste bad gee sodra die liggaamstemperatuur en asemhalingstelsel gestabiliseer het. Dit is normaalweg omtrent ses uur na geboorte.
  • Laat sak die baba tot by die nek in die water. Dit help die baba om sy liggaamstemperatuur te handhaaf. Die water moet verkieslik nie warmer as 38°C wees nie. Gewone skoon water is voldoende om die baba skoon te maak. 'n Baba se vel is baie sensitief en is vatbaar vir infeksie.
  • Doeke moet elke 2 tot 4 uur omgeruil word of net nadat dit vuilgemaak is. Maak die boude skoon met gewone kraanwater en 'n sagte lappie. As jy ‘baby wipes’ gebruik, sorg dat dit nie alkohol bevat of middels wat allergieë kan veroorsaak nie. Los die boudjies soms sonder doek om die vel lekker droog te maak.
  • Vir luieruitslag word room wat sinkoksied bevat aanbeveel. As die room nie help nie moet jy 'n dokter gaan spreek.



(foto MasterFinally)

28.1.13

Dodelike diarree in Kaap

Diarree is een van die hoofoorsake van siekteverwante sterftes onder kinders – en die seisoen waarin dié siekte hoogty vier, duur tot Mei.

Vier kinders is reeds vanjaar in Kaapse hospitale dood aan ­diarree, het die Wes-Kaapse departement van gesondheid Donderdag bekend gemaak.

’n Baba wat te veel water verloor, kan binne ses uur sterf.

Die departement het mense gewaarsku om nie “kruiemengsels aan kinders te gee om hulle ‘uit te droog’ nie”, asook nie ’n enema toe te dien nie. “Dit is baie gevaarlik,” het Theuns ­Botha, provinsiale minister van gesondheid, gesê.

Mense besef nie dat ’n baba of kind binne ure kan ontwater nie. Elke keer wanneer ’n mens opgooi of diarree het, verloor hy water en onontbeerlike soute.

Diarree kan veroorsaak word deur bakterieë, virusse, parasiete of sommige ander siektes.

Was altyd jou hande voordat jy eet, met kos werk, nadat jy in die toilet was en nadat ’n baba se doek omgeruil is. Dit is nie net kinders wat kan ontwater, ernstig siek word en sterf weens diarree nie – volwassenes moet net so versigtig wees.

21.1.13

Penis skoonmaak


Vanessa skryf: 
"My dogter het 'n week gelede mamma geword van 'n baba seuntjie. Ek het twee dogters groot gemaak en is dus heeltemal onkundig en wil graag raad vra oor hoe sy geslagsdeeltjie skoongemaak behoort te word? Wat is die moets en moenies? Is dit sommer ouvrou stories dat die velletjie kan vasgroei en moet mens daar peuter? Jou raad sal waardeer word."

Antwoord:
Moet glad nie daar peuter indien dit lyk asof die velletjie vassit nie! Dit is normaal vir die velletjie om vir nog lank daar vas te sit. Daardie velletjie moet nooit teruggeforseer word nie, dit sal vanself los raak soos hy ouer word! Meeste seuntjies s'n is los op twee jaar, maar dit kan ook eers op 5 jaar gebeur. Moet julle nie daaroor bekommer nie.

Was die baba maar soos normaalweg. Gedurende die eerste jaar het sy penis geen spesiale aandag nodig nie. Soos sy voorvel begin losser raak na 12 maande plus kan jy versigtig aan die binnekant daarvan met bietjie water skoonmaak, maar onthou asseblief dat die voorvel nooit verder teruggetrek moet word as wat dit kan gaan nie.

Indien die voorvel bietjie kan terugtrek wanneer hy ouer is en jy daar skoonmaak moet jy asseblief ook onthou om dit weer terug te rol tot in die oorspronklike posisie om enige moontlike komplikasies te voorkom.
Die belangrikste van die seuntjie se voorvel is om hom reeds van kleins af te leer om sy penis en onder sy voorvel skoon te hou.

15.1.13

Semen


DP skryf:
"Ek het die probleem nou al vir 2.5 jaar, Ek het bloed in my semen, Ek is nou 41 jaar oud . Ek het dit 2.5 jaar gelede ontdek toe ek en my vrou kondome gebruik het na my dogtertjie se geboorte. Ek was nou al by drie uroloë en hulle kon my nie help nie, ek het kanker toetse onder gaan vir die prostaat en ‘n piëlogram en proktoskopie maar die uroloog kan nie sê wat presies die probleem is nie. Die eerste uroloog wil my prostaat verwyder, toe sê ek hy moet warm plek toe gaan, Ek het nou al n vasektomie laat die November laas jaar en ook al die toets maar daar was nie n antwoord nie. Weet jy dalk van soortgelyke probleme en of daar enige medikasie is wat voor gestel kan word, Die laaste uroloog reken dit is n aartjie wat in die prostaat bars wanneer ek kom. Ek hoop jy kan help."

Dokter C:
Die goeie nuus is dat, terwyl mens jou boeglam skrik, dit selde baie ernstig is. Die laaste uroloog is waarskynlik reg. In meeste gevalle is dit 'n aartjie wat beskadig is in die prostaat of urienbuis. In meeste gevalle los die probleem homself op. Langer as twee jaar klink egter bietjie lank.

Soos jy self agterkom is die probleem dat dit besonder moeilik is om die bron van bloeding op te spoor. Daar word gewoonlik gekyk na moontlike oorsake. Dit sluit in:


  • prostaatkanker - jy weet gelukkig jy is skoon
  • 'n beskadigde aartjie in die prostaat of urienbuis - gewoonlik die geval
  • 'n urienweginfeksie
  • prostatitis (inflammasie van die prostaat)
  • 'n seksueel oordraagbare siekte
  • vergroting van die prostaat
  • skade tydens 'n operasie - jy het mos geen operasie daar gehad voor dit begin het nie
  • skade aan jou testikels of prostaat
Hoop bogenoemde was van hulp en dat julle die ding se gat sal skop.

7.1.13

Hoe nou met die pitsweer?


Anoniem skryf: "Dit is die tweede keer binne 4maande dat ek 'n groot, harde,baie pynlike sweer onder die vel op my linker sitvlak ontwikkel. Ek is 62, nie oorgewig nie,sweet slegs as ek oefen en is baie gesteld op persoonlike higiene.Dit laat my dink dat ek 'n lae weerstand het teen bakteriele infeksies. Aangesien ek 'n gesonde persoon is wat glo aan gesond eet en 'n gesonde lewenstyl beoefen, sal ek graag wil weet wat ek kan doen om hierdie toestand te verbeter.Die vorige sweer moes ek laat oopsny en dit lyk of ek dieselfde nou sal moet laat doen aangesien dit net groter en pynliker word. Help asseblief!"

Antwoord: Sover dit behandeling betref kan jy nie op hierdie stadium veel doen nie. 'n Pitsweer (indien dit 'n pitsweer is) wat reeds ontstaan het gaan sy gang gaan en medikasie gaan dit nie stuit nie.
Vra jou dokter vir 'n ondersoek om te probeer bepaal of daar iets ooglopend is wat die pitswere veroorsaak. 'n Kursus antibiotika kan ook help om enige skadelike bakterieë te vernietig.

31.12.12

Aggressiewe videospeletjies nie goed vir jou

Die eerste bewyse is gevind dat gewelddadige videospeletjies 'n negatiewe uitwerking op 'n persoon kan hê.

'n Studie deur navorsers by die Ohio State University in Amerika wat gepubliseer is in die Journal of Experimental Social Psychology wys op 'n toename in aggressie oor die langtermyn.

24.12.12

Volstruis-are vir jou hart

Japanese wetenskaplikes het volstruis-are gebruik om 'n suksesvolle hartomleiding op 'n vark uit te voer. Dit beteken dat 'n soortgelyke prosedure moontlik ook op mense gebruik kan word.

Die span het are in volstruise se nekke gebruik om kunsmatige are te vervaardig wat tot 30 cm lank kan wees en twee millimeters dik is.

Konvensionele plaasvervangers, soos die are van dooie mense, diere of sintetiese are, moet gewoonlik dubbel daardie lengte wees om gebruik te word. Die bloed vloei ook deur die are sonder die gebruik van klont-voorkomingsmiddels.