Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

29.10.12

Vrae oor die galblaas


Sonia Coetzer skryf: "Ek het sowat 4 jaar gelede 'n galblaasverwydering en 'n laproskopiese nissen (mantelvliesbreuk) herstel gehad. Ek het my lewensstyl relatief aangepas deur nie brood en vetterige kosse of gaskoeldrank en speserye te gebruik nie. Ek het steeds diaree, ek het chronies hoofpyn en is baie moeg. Kan dit moontlik 'n tekort in my liggaam wees wat dit veroorsaak as gevolg van die soute ens. wat my liggaam verloor deur die diaree. Ek gebruik Questran Lite wat help dat dit nie so erg is nie, maar bly steeds moeg en die hoopyne is nie lekker nie. Ek was nog nooit weer terug na my dokter toe om vas te stel of dit normaal is nie."

Antwoord: Nommer een: Sorg dat jy by 'n dokter kom. Gereelde diaree moet deur 'n kundige persoon gediagnoseer word. Onmiddelik.
Nommer twee: Relatief is nie goed genoeg nie. Reg of weg!



Mila skryf: "Tydens 'n sonar ondersoek is vasgestel dat my galblaas vol fyn stukkies gruis is (nie galstene nie) My galblaas is nie vergroot nie, en my lewer is normaal. Dit is blykbaar so klein, dat dit in die galbuise afgaan en dit versoorsaak dan fyn steekpyne soos naalde. Die dokter beveel aan dat ek my galblaas verwyder. Is daar 'n dieet wat ek kan volg om my galblaas te "detox" ? Ek wil 'n operasie so vêr as moontlik probeer vermy. Ek is ongeveer 10 kg oorgewig."

Antwoord: 'n Dokter sal nie sommer aanbeveel dat jou galblaas verwyder moet word indien dit nie regtig noodsaaklik is nie. Indien jy bekommerd is dat jou dokter oorhaastig besluit het kan jy altyd 'n tweede opinie kry, maar indien jy weer dieselfde hoor moet jy dit so aanvaar.



Loisa Mouton skryf: "Die dokter gaan oor 3 weke besluit of hy my galblaas gaan verwyder as die infeksie nog steeds baie hoog is. Wat veroorsaak die infeksie dan, ek volg 'n goeie dieet het byna 40 kg verloor meer as 'n jaar terug deur weighless en hou my gewig af. Ek eet geen vetterige kos nie drink lae vet melk ook. As hy wel my galblaas verwyder watter probleme gaan ek dan moet mee saamleef? Is dit nie beter om maar die galblaas te hou nie?"

Antwoord: "Dis wonderlik dat jy jou lewenstyl so mooi aangepas het. Die probleem is dat die skade veroorsaak kon word voor jy dit gedoen het. Die dokter se besluit oor jou galblaas is geneem in jou belang en ons moet vertrou dat dit die beste opsie is. Volgens sommige navorsers kan infeksie van die galblaas veroorsaak dat die area in 'n meerdere mate blootgestel is aan substansies wat kanker veroorsaak.
Na die operasie moet jy voorbereid wees op die moontlikheid van diaree, veral gedurende die eerste paar weke. Vermy sterk en vetterige kos, asook suiwel gedurende die tyd. Pas jou dieet aan om meer veselryk te wees. Vir 1% van ons kan die diaree 'n probleem raak oor die langtermyn, maar in so 'n geval sal 'n dokter medikasie kan voorskryf."



Annelie James skryf :
"My man het galblaas probleme en dit moet verwyder word, kan alkohol enige newe effekte hê voor of na die operasie."

Antwoord :Oor die algemeen word daar gesê dat die gebruik van alkohol na die verwydering van die galblaas nie enige effek behoort te hê nie. In die praktyk kla baie pasiënte egter van pyn of 'n ongemaklike gevoel indien hulle alkohol gebruik. Die beste is om die gebruik daarvan te staak en 'n dokter te raadpleeg indien jy enige ongewone simptome toon, voor of na die operasie. Hy moet ook nie te gou alkohol gebruik nadat hy die operasie ondergaan het nie.

27.10.12

Film oor Alzheimer’s

Hayley Morris se oupa was die inspirasie vir hierdie kortfilm, Undone, waarin sy die progressie van Alzheimer’s uitbeeld.



(via Roekeloos.co.za)

15.10.12

Sperm


Janeske Botha skryf: "Ek sukkel nou al 'n jaar om swanger te word en ek was by 'n ginekeloog - en al die toetse gedoen en hy het gesê ek sal gou swanger word. Ek het vir my man gesê hy moet gaan vir 'n "check up" en die dokter het gesê sy sperms swem nie. Ek wil graag weet wat veroorsaak dit en hoe kan ons dit reg stel. Ons het 'n dogtertjie van 5jaar." 

Antwoord:
 Indien die dokter niks fisies fout gevind het wat reggestel kan word nie moet hy afsien van rook en alkohol, gesond eet, oefening doen en (baie belangrik!) oefen vir die baba. Indien sy sperm nie aan die beweeg kom nie is daar alternatiewe soos in-vitro bevrugting.



Marieta skryf :
"My man moet Cheomoterapie ondergaan en ons wil graag sperms bank. Waar kan ek kan ek inligting kry oor waar die naaste sperm bank is, wat die prosedure is en die koste aan dit verbonde."

Antwoord :
Kontakbesonderhede : Cape Fertility Clinic
Newlands Surgical Clinic
Claremont
Kaapstad
Tel : 021 642088 Faks : 021 612709 E-pos : doctor@capefertility-clinic.co.za

10.10.12

Stink asem - probeer eers die tandarts


M***** L******** skryf :

"Wil graag net weet: My seun sukkel met sinusitus & het jaar gelede erg mangelonsteking gehad. Ek kom agter die afgelope maand dat sy asem 'n geweldige slegte reuk het. Wat sou u aanbeveel?"

Antwoord :

'n Tandarts is gewoonlik jou eerste stop as dit kom by 'n stink asem. Flos hy gereeld? Voedsel wat in die tande bly kan bakterieë versamel wat 'n stink asem tot gevolg het. Kyk ook na sy eetgewoontes. Sekere voedsel soos knoffel en uie kan 'n slegte asem veroorsaak. Rook veroorsaak ook dat jou asem nie goed ruik nie. Dit kan ook die sinusitus wees (of 'n ander onderliggende probleem). Infeksie van die lugweë kan 'n stink asem veroorsaak. Indien die tandarts sê dat al die goed waarvoor hy kyk lyk reg moet jy hom na die dokter neem.

2.10.12

Groeipyne by kinders


Monica Paulse skryf:

My seun (19) kla konstant van rug- en kniepyne. Ons huisarts sê dit is agv sy bou, dit is groeipyne, hy groei in die lengte en die rugwerwels kan nie bybly met die groei. Hy studeer nou en die pyne pla baie. Is daar iets wat ek hom as aanvulling kan gee of is dit maar iets wat hy moet deurmaak? Die spiere op sy laerrug lyk asof dit 'n knop aan weerskante van die rugwerwel maak. Is dit normaal?

Antwoord:

 Jy kan daardie knoppe probeer uitmasseer of indien jou begroting dit toelaat hom na 'n chiropraktisyn neem vir 'n opinie. 'n Kalmerende koppie kruietee nou en dan kan wondere verrig. Kruie met 'n kalmerende invloed wat jy in julle kos kan gebruik is basilie, marjolein en origanum - basilie en origanum is wenners op pizza.



Louise Kohn skryf :

"My seun van 6 beleef soms pyne in sy bene wat hy nie kan pinpoint nie. Maar dis erg genoeg dat hy lank aanhou huil. Dit gebeur gewoonlik in die laat middag, vroegaand. Dis nie spierkrampe nie, ek vermoed eerder sy bene of gewrigte self. Hy se dis sy hele been (bobeen, knie en maermerrie/kuit.) Is dit net groeipyne en wat kan ek vir hom gee vir verligting? (hy is besonder lank vir sy ouderdom, maer en aktief)"

Antwoord:

Daar is geen bewyse dat die groei van bene pyn veroorsaak nie. Dit wat jou seun ervaar kom by tot 40% van alle kinders voor en ons noem dit groeipyne. Dit is in werklikheid spierpyne wat by veral aktiewe kinders voorkom. Dae wat hulle baie aktief is is dit veral geneig om erg te wees. Met groeipyne lyk die areas normaal, maar dit pyn baie. Groeipyne moet egter eers deur 'n dokter nagegaan word om te bepaal of dit nie dalk iets anders is nie. Kinders met groeipyne laat gewoonlik toe dat ma of pa die pyn masseer, terwyl 'n ander aandoening gewoonlik te pynlik is en jy nie daaraan kan vat nie. Baie aandag, liefde, vertroeteling en miskien 'n kalmerende teetjie help baie vir groeipyne.

17.9.12

Toets voorspel outisme

Wetenskaplikes het ‘n genetiese toets ontwerp wat outisme by kinders kan voorspel.

Die navorsers van die Universiteit van Melbourne het data van meer as 3 000 individue met outisme gebruik vir hulle studie. Die uitslae het hulle in staat gestel om 'n toets te ontwikkel wat die risiko van die ontwikkeling van dié toestand bepaal. Die toets kan tans outisme by baba's en kinders van sentraal-Europese afkoms met meer as 70% akkuraatheid voorspel. Navorsing duur nog voort vir ander etniese groepe. Die navorsing is in die joernaal Molecular Psychiatry gepubliseer.

Ongeveer een uit elke 150 kinders het outisme, met simptome wat wissel van sosiale ongemak tot erge gestremdhede.

3.9.12

Eerste bioniese oog

Australiese wetenskaplikes het die eerste bioniese oog ingeplant.

Die ontvanger was Diane Ashworth. Sy ly aan oorerflike sigverlies.

Die bioniese oog bevat 24 elektrodes wat elektriese impulse na haar oog se senuwee-selle stuur en is aan Ashworth se retina vasgebind. Dit werk tans net in die laboratorium.

Daar word reeds gewerk aan 'n nuwe oog wat 98 elektrodes bevat, daar is ook planne in die pyplyn vir 'n 1 024 elektrode-oog.