Philippus van der Walt skryf: "Ek het nierstene gehad wat dr uitgehaal het. Ek het toe vir 'n week met pypies geloop. Ek is 'n 43-jarige man. Ek het nou vir 3 weke al infeksie. Is dit normaal en my sy pyn nog."
Antwoord : Pyn na so 'n operasie is nie ongewoon nie en gaan normaalweg na 'n paar weke weg. Enige infeksie na so 'n operasie moet egter onder die wakende oog van jou dokter bly. Dit kan 'n hele paar weke neem om op te klaar na behandeling.
Anoniem skryf: "My seun het kort kort nierstene. Van die stene is getoets en daar is bevind dat hy te veel kalsium in sy gestel het en dat dit die stene veroorsaak. Is daar iets wat hy kan gebruik om dit te voorkom of dalk oplos of dalk 'n dieet wat sal help? Hy het geweldig pyn en die dokters het slegs 'n waterpil voorgeskryf. Hy maak 'n punt daarvan om baie water te drink."
Antwoord: Meeste nierstene bevat kalsium. Die probleme tree in by die manier wat sy liggaam kalsium absorbeer of die manier wat sy liggaam daarvan ontslae raak. Soms is dit die metaboliese stelsel wat jy by iemand erf wat dit veroorsaak, die spysverteringstelsel of dalk word dit veroorsaak deur medikasie. Boonop is daar heelwat geval waar nierstene meer as een oorsaak het.
Kalsiumsteentjies word gevorm uit sekere bestanddele wat in groente en vrugte voorkom, maar grotendeels deur die lewer self vervaardig word. Tesame met ander moontlike oorsake wat reeds genoem is, asook miskien te veel vitamiene D, word die kalsiumsteentjies gevorm.
Nog 'n faktor is te min oefening, wat veroorsaak dat die bene ekstra kalsium vrystel.
Dit is reg, water is belangrik, omtrent 3 en 'n half liter per dag. Maak ook vir hom 'n suurlemoendrankie met vars suurlemoensap. Een glas hiervan per dag. Dit help om die steentjies op te breek.
Wat die dieet aanbetref moet hy beperkte hoeveelhede beets, spinasie, patats, sesamesaad, amandels en soja inkry. Sy dieet moet ook min sout en min diereproteïene bevat. Let tog daarop dat hierdie voorstelle slegs geld vir diegene met kalsiumsteentjies.
Gereelde oefening is ook belangrik.
Vra jou apteker om iets voor te stel vir jou seun se pyn.