Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



9.3.09

Verskonings Verskonings

WAARSKUWING!! Gaan spreek altyd eers jou dokter voor jy verandering aan jou dieet maak en / of begin met 'n oefenprogram.

Met die vinnige pas van die lewe vind ons dit moeilik om by die gimnasium uit te kom. Ek is seker jy hoor gereeld mense sê: "Daar is net nie genoeg tyd in die dag nie." Dit is die nommer een verskoning wat meeste mense gee indien hulle gevra word hoekom hulle nie oefening kry nie.

99% van hierdie verskonings is nie geldig nie. Indien jy ernstig is oor jou liggaam, indien dit 'n prioriteit is, sal niks in jou pad staan nie. Indien jy iets werklik graag wil hê is dit wonderlik hoe ver jy bereid sal wees om te gaan om dit te kry. Hier is 'n paar dinge wat jy kan doen om meer tyd te kry vir oefening.

1. Staan 'n uur vroeër op of bly saans 'n uur langer wakker. Oefen in hierdie tyd. Feit: Meeste mense slaap meer as wat nodig is. Ag ure slaap kan wonderlik wees, maar is nie broodnodig vir jou gesondheid of om goed te voel nie.

Persoonlik vind ek dit makliker om 'n uur vroeër op te staan om twee redes. Oefening so vroeg in die oggend help met jou metabolisme en bly kalorieë verbrand regdeur die dag. 'n Ander rede is dat dit moeiliker is om oefening af te stel. Die laaste ding wat jy normaalweg aan die einde van die dag wil doen is oefen. Oefening sal jou energievlakke verhoog en jou beter laat voel deur die dag. Dit bied 'n gevoel dat jy iets vermag het en laat jou met mening in die res van jou dagtake inklim met 'n glimlag.

Ek is seker daar is ten minste een "oggendpersoon" wat nou dink, "'n Uur vroeër opstaan, hy is seker mal!" Selfs al staan jy 'n halfuur vroeër op is dit drie en 'n halwe uur se oefening ekstra per week. Met slegs 'n halfuur per dag kan jy vinnige, merkbare resultate sien.

2. Skep jou eie oefenprogram indien jy nie by 'n gimnasium kan uitkom nie. Jy het minder as 'n duisend rand nodig vir 'n paar gewigte, 'n bankie en 'n vloermat vir maagoefeninge. Dit is beslis beter as niks. Basiese oefeninge soos push-ups, sit-ups, en 'n ent se draf kan wonderlike resultate lewer. Onthou om aan te hou en jouself aanhoudend te dryf na nuwe hoogtes.

Indien geld 'n probleem is kan jy jou wend tot jou DVD-speler. Daar is honderde DVD's wat geskik is vir goeie spiertonis en die verbranding van vet. Indien jy nie die gimnasium wil besoek nie kan jy oefening in die privaatheid van jou voorkamer doen.

Al hierdie DVD's het musiek in die agtergrond. Musiek is 'n wonderlike hulpmiddel as dit kom by oefening. Dit laat mens altyd beter voel en maak jou meer entosiasties. Wanneer jy na musiek luister is joy ook nie gepla met die tyd nie en dit voel altyd of die oefening baie gou verby is.

Oefen met musiek waarvan jy hou. Indien jy van gevegkuns hou kan tae bo DVD's probeer.

Indien jy in goeie vorm is en hou van dansmusiek stel ek voor jy probeer Paula Abdul se Shut Up And Dance - Dance Mixes.

Deur hierdie eenvoudige elemente deel te maak van jou daaglikse roetine maak dit baie makliker om by die oefenprogram te hou, jou gesondheid te verbeter en om fiks te raak.

- Dr. Robert Osgoodby

Oor die skrywer:
Dr. Osgoodby was 'n finalis in die EAS Body for Life-kompetisie. Maak 'n draai by sy webwerf by bestbodyever.com om sy voor en na foto's te sien of om op sy nuusbrief in te teken.

28.2.09

Opgeruimd en Vrolik - hoe om jouself op te beur

Die stygende brandstofprys, politiek en probleme met elektrisiteit en water is genoeg om meeste mense depressief te maak. Indien jy bietjie depressief voel kan jy hierdie tien dinge probeer om die huppel terug te sit in jou stap.

Beplan iets prettig Raadpleeg die Net of jou plaaslike koerant oor wat in jou area gebeur. Maak 'n punt daarvan om een of twee goed te doen. Nooi iemand saam. Indien daar niks in jou area gebeur nie kan jy op 'n uitstappie gaan na die naaste dorp.

Wees kreatief Het jy al ooit probeer verf? Koop vandag nog vir jou verf en kwaste en laat waai, maak nie saak hoe dit lyk nie. Of dalk kan jy 'n mooi fotoalbum maak. Haal uit jou videokamera en probeer 'n 5 minute-fliek maak.

Buiten toe Vars lug was nog nooit sleg nie. Gaan stap langs 'n rivier, vlieg 'n vlieër, maak groentetuin of ry fiets.

Musiek vir jou siel Sit jou gunsteling musiek aan en sing of trek die gordyne toe en dans, dans kaal. Wat van 'n musiekinstrument leer speel? Of probeer karaoke.

Stap met 'n hond Jou hond sal baie bly wees. Indien jy nie 'n hond het nie kan jy die buurman s'n leen. Die DBV sal ook honde hê waarmee jy kan stap.

Wees 'n vrywilliger Daar word altyd vrywilligers iewers benodig. Ervaar die genot van ander help.

Verander jou huis Knap 'n vertrek self op of rangskik die meubels net anders. Gooi alles weg wat jy nie meer gebruik nie.

Hou 'n partytjie Jy hoef nie eens 'n rede te hê nie. Dink 'n tema uit vir jou partytjie.

Kry 'n massering Indien jy nog nooit die waarde van 'n goeie massering ontdek het nie is dit nou die tyd. Laat sommer ook jou hare sny.

Bel 'n vriend Verkieslik een waarmee jy lanklaas kontak gehad het. Besoek 'n bejaarde familielid of stuur 'n kaartjie aan iemand wat ver bly.


Boereraat:

Eet 'n piesang. Dit bevat 'n proteïn wat die liggaam omskakel in 'n stof wat jou laat ontspan.

27.2.09

Osteoporose

Die term beteken bros bene. Dit is ´n siekte wat veroorsaak dat die bene in die liggaam verswak, wat tot gevolg het dat verandering in postuur voorkom en die lyer is geweldig blootgestel aan beenbreuke. Vroue word hoofsaaklik aangetas weens hormoonwisselinge en verlaagde estrogeenvlakke. Osteoporose word nie alleenlik deur kalsiumtekorte veroorsaak soos algemeen aanvaar word nie. Vitamien C, D en K asook proteïene speel ´n groot rol in die voorkoming van osteoporose. Osteoporose kan vererger word deur ´n ontoereikende dieet en te min oefening.

Daar is geen spesifieke simptome voor die siekte reeds in ´n gevorderde stadium is nie. Daar is egter waarskuwings soos ´n geleidelike verlies aan lengte, ´n krom houding en skouers, en algemene pyne en kwale of rugpyn. Dit kan ook aanleiding gee tot tandverlies.

Gereelde oefening en kalsiumaanvullings word aanbeveel. Minerale soos koper speel ook ´n rol in die vorming van gesonde beenweefsel. Sonskyn is ´n natuurlike bron van vitamien D, en lewertraanolie verskaf vitamien A en D.

Mediese kundigheid is nodig om osteoporose te diagnoseer.

25.2.09

Pre-eklampsie

´n Toestand wat voorkom in swangerskap wat gepaard gaan met ´n verhoogde bloedruk, edeem en/of proteiene in die uriene. Ook genoem Swangerskapsgeinduseerde hipertensie (Pregnancy induced hypertension). Dit verbeter en verdwyn na die bevalling.

Navorsing het bewys swak voeding is een van die bydraende faktore tot pre- eklampsie, en nie oorgewig nie. Foliensuur is baie belangrik gedurende swangerskap. Nou blyk dit uit nuwe navorsing dat dit ook behulpsaam kan wees om pre-eklampsie te voorkom. In ´n onlangse studie is gevind dat moeders wat multivitamienes, insluitende foliensuur, regdeur hul swangerskap gebruik, se kans om hipertensie te ontwikkel, verminder met 50%.

23.2.09

Psoriase

Psoriase is abnormale selverdeling in die buitenste laag van die vel gekenmerk deur rooi kolle en silwer skilfers.

Indien jy dit een keer het kom dit normaalweg gereeld terug. Die oorsake is nie heeltemal bekend nie.

Net die simptome word normaalweg behandel aangesien dit nie geneeslik is nie. Praat met jou dokter oor medikasie vir die probleem.

21.2.09

Verlos van die puisie in ´n japtrap

Jy is oppad uit as jy daai geelmannetjie op jou gesig bespeur. Hier is ´n paar vinnige oplossings:

1) Druk ´n knoffelhuisie pap en sit die olie aan die puisie.

2) Vir ´n opgeswelde rooi puisie neem jy die medikasie wat jy vir rooi oë gebruik en maak ´n stukkie watte nat daarmee. Hou dit op die puisie vir 15 sekondes. Die rooi kleur van die puisie behoort te verdwyn.

3) Hou ´n stukkie watte met warm soutwater op die puisie vir 3 minute. Die puisie se koppie sal verdwyn.

4) ´n Bietjie wit tandepasta op ´n puisie oornag sal ´n puisie opdroog.

5) Los ´n bietjie heuning vir 10 minute op die puisie. Dit sal van die bakterieë ontslae raak en die porieë skoon hou.



(foto: Anna Nekrashevich)

20.2.09

Mites oor diabetes

Daar is ongelooflik baie mites bestaan oor Diabetes en die publiek het oor die algemeen 'n vae beeld het oor wat diabetes is.

Diabetes word grootliks in twee breë kategorieë ingedeel. Tipe 1 voorheen bekend as insulien afhanklike diabetes en Tipe 2 diabetes voorheen bekend as nie-insulien afhanklike diabetes of volwasse insulien (Adult onset diabetes).

5-10% van alle diabete is Tipe 1 en die res is Tipe 2. Daar is ook ander tipe diabetes onder andere swangerskap diabetes, LADA (Latente outoimuun diabetes in Volwassenes), Mody (Maturity onset diabetes of the young – volwasse aanvangsdiabetes ), Diabetes Insipidus (wat nie werklik diabetes is nie, maar 'n onvermoë van die liggaam om vloeistof te hanteer)

Ek nooi almal uit om na my blog te gaan kyk. Dit handel oor diabetes. Ek gaan probeer om weekliks iets anders te bespreek wat handel oor diabetes - hetsy Tipe 1 of 'n ander tipe.

Groete
Riette