Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

7.8.25

Vaginale infeksies

Infeksies word gewoonlik veroorsaak deur besmetlike stowwe wat via die vagina in die inwendige organe beland. Jy kan begin jeuk weens te warm of stywe klere, of weens uitdroging van te veel was met seep. Wees veral versigtig om te veel met geparfumeerde seep te was.

Vaginitis is ´n tipe infeksie wat veroorsaak word deur ´n geelgroen of rooierige afskeiding wat onaangenaam ruik. Dit gaan gewoonlik gepaard met ´n jeukirigheid en brandpyn.

Candida kan voorkom sonder om ´n infeksie te veroorsaak, maar as dit baie vermeerder kan dit ontsteking veroorsaak wat gepaard gaan met ´n witterige afskeiding.

Vee altyd van voor na agter af. Drink ook bosbessiesap. Dit maak die urine suur, wat die groei van bakterieë teenwerk. Vir Candida kan jy ´n tampon in jogurt doop en dan in die vagina plaas. Eet ook so gereeld as moontlik bioaktiewe jogurt. Vermy die oormatige inname van alkohol en eet minder suiker. Daar is verskillende swamteenmiddels beskikbaar om die infeksie te behandel. Dit behoort na sowat twee weke te werk.

Besoek dadelik jou dokter indien jy vermoed jy het Vaginitis.


Boereraat:

Raad vir infeksie by vrouens:

Belinda van Wijk: Los ongeveer 2 opgehoopte eetlepels koeksoda op in 'n warm bad water en sit 'n ruk, 20 min, daarin (bad dan soos gewoonlik). Dit help vir vaginale infeksie (jeukerigheid en branderigheid).

♦♦♦

Belinda van Wijk: Smeer voor slaaptyd redelik baie "gewone joghurt" (ongegeur) aan die seer gedeelte (sit net 'n pantyliner in jou broekie want dit mors baie), gaan slaap dan so en was dit môre oggend weer af. Herhaal totdat die toestand beter is.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

6.8.25

Blaasinfeksie / Urienweginfeksie

Blaasinfeksies word dikwels veroorsaak deur besmetlike stowwe wat in die inwendige organe beland. Moegheid, koue en bloedarmoede kan jou weerstand teen infeksies verswak.

Raadpleeg jou dokter dadelik indien jy vermoed dat jy ´n blaasinfeksie het want urienweginfeksies is relatief maklik om te behandel. Normaalweg word antibiotikavoorgeskryf op grond van jou infeksie en die tipe bakterieë wat in jou urinemonster gevind is. Hierdie behandelings is gewoonlik effektief, en die infeksie verdwyn vinnig.

Boereraat:

Drink 'n bietjie koeksoda in gekookte water.

♦♦♦


Sien ook Kruie vir kwale: Blaasinfeksie

5.8.25

Kruie vir kwale: Maagpyn

Duiwelsdrek kan gebruik word vir maagpyn. Neem drie maal daagliks saam met melk of heuning genoeg hiervan om die punt van ‘n mes toe te maak.

♦♦♦

Balsem Vita, ’n preparaat van verskillende olies, word aanbeveel vir die verligting van maagpyn. Dit kan met veiligheid vir kinders en babas gegee word. Vir volwassenes 20 – 30 druppels 4 of 5 keer daagliks saam met warm water of tee. 10 druppels is genoeg vir kinders en 5 druppels in bietjie lou soet water vir babas.
Die olies wat gebruik word vir die preparaat is kassia, laventel, naeltjie, neutmuskaat en tiemie.

♦♦♦

Makkalmoes word tradisioneel deur die Zoeloe mense gebruik om maagkrampe te behandel. Die risome word normaalweg gekook en gebruik.

♦♦♦

Die Zoeloes gebruik al lank reeds watersalie vir maagpyn. Die resep is twee blare in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

♦♦♦

Neem 2 tot 4 blare van die kankerbossie en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Volgens die Khoi kan jy hierdie flou tee kan jy drink vir maagprobleme.

♦♦♦

Vir maagprobleme. Week ’n takkie wilde salie in ’n koppie kookwater vir 10 minute.
Gooi dit deur ’n siffie en meng 3 eetlepels Engelse sout by en bietjie suurlemoensap. Hou die mengsel in ’n lugdigte houer en gee die pasiënt gereeld klein bietjies daarvan.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n eetlepel wilde salie blare en laat dit trek vir 5 minute. Daarom meer drinkbaar te maak kan jy dit versoet met heuning en ’n skyfie suurlemoen byvoeg. Die tee kan gedrink word vir maagprobleme.

♦♦♦

Die blare van die maagpynbossie word al jare in die Wes-Kaap gebruik as medikasie vir maagpyn. Trek 10 g blare in ’n koppie kookwater vir 5 minute. Drink dit stadig.

♦♦♦

’n Sterk aftreksel gemaak van die bitterbos kan eerste ding in die oggend gedrink word as ’n vinnig werkende lakseermiddel. Let asseblief daarop dat dit oormatige sweet en slaaploosheid kan veroorsaak.

♦♦♦

Die gereelde gebruik van rooibostee kan verligting bied vir maagpyn.

♦♦♦

Voeg ’n paar wildeals-spruite by ’n bottel brandewyn. Laat staan vir ’n week en skud daagliks. ’n Eetlepel hiervan twee maal per dag vir maagkrampe.

♦♦♦

Boegoebrandewyn is tot in die twintigste eeu nog vir maagkwale benut en daar is vandag nog boegoe vir dit voorskryf. Een teelepel, twee maal per dag.
Hierdie medikasie word gemaak deur ’n paar jong takkies boegoe by een bottel brandewyn te voeg. Maak toe en laat staan vir ’n week, terwyl jy dit een keer per dag goed skud.

♦♦♦

Bosboegoe kan ook gebruik word. Voeg ’n paar bosboegoe-spruite by ’n bottel brandewyn. Laat staan vir ’n week en skud daagliks. ’n Eetlepel hiervan twee maal per dag.

♦♦♦

Kapokbos kan gebruik word vir die behandeling hiervan. Maak ’n tee van die blare.

♦♦♦

Meng 2 liter water met 2 eetlepels heuning, 1 eetlepel fyngekapte gemmer en 1 eetlepel gemaalde kaneel. Hou in die yskas en drink gereeld ’n bietjie daarvan.

♦♦♦

Die Hollandse setlaars het geglo dat die vrugte van die koekemakranka voordelig is vir jou maag. Hulle het die vrugte by brandewyn gevoeg en dit gebruik as medisyne.

Maak vir jou koekemakrankabrandewyn en drink dit as jou maag nie lekker voel nie.

(foto: Robert Jacob Gordon 1743-1795 The Man and his Travels at the Cape deur Patrick Cullinan)

♦♦♦

Laat jong takkies van ’n renosterbos trek in ’n bottel brandewyn. Drink soggens en saans sowat 30 mℓ hiervan. Dit help vir verskeie maagkwale, soos byvoorbeeld maagsere.

♦♦♦

Vars basielkruid help om maagkrampe te verminder.

♦♦♦

Maak tee met vinkel. Dit help vir maagpyn.

♦♦♦

Stamp die blare van die wilde als bos fyn en sit op 'n lap met asyn en plaas die lap op die maag van 'n baba met maagpyn.

♦♦♦

Trek die blare van die wilde als bos soos tee en drink.

♦♦♦

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

31.7.25

Goeie dieet voorstelle vir galblaas probleme

Bly weg van kosse met baie vet en wat alles wat hoog in cholesterol is.
Hier is 'n paar goeie voorstelle:
Vars vrugte, bessies en groente
Maer vleissnitte
Pluimvee sonder vel
Vis en skulpvis
Vetvrye gebak
Styselagtige koolhidrate, soos aartappels
Laevet suiwelprodukte soos afgeroomde melk, lae-vet jogurt, vetvrye roomyse en poedings
Vrugte smoothies gemaak van vrugte en lae-vet jogurt
Korrels / sade soos rys, bulgar, gort en quinoa - gekook sonder bygevoegde vet
Pasta met vars souse
Hawermout

30.7.25

Kruie vir kwale: Winderigheid

Duiwelsdrek word aanbeveel vir winderigheid. Neem drie maal daagliks saam met melk of heuning genoeg hiervan om die punt van ‘n knipmes toe te maak.

♦♦♦

Balsem Vita, ’n preparaat van verskillende olies, word aanbeveel vir die verligting van winderigheid. Dit kan met veiligheid vir kinders en babas gegee word. Vir volwassenes 20 – 30 druppels 4 of 5 keer daagliks saam met warm water of tee. 10 druppels is genoeg vir kinders en 5 druppels in bietjie lou soet water vir babas. Die olies wat gebruik word vir die preparaat is kassia, laventel, naeltjie, neutmuskaat en tiemie.

♦♦♦

Die Zoeloes gebruik al lank reeds watersalie vir winderigheid. Die resep is twee blare in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

♦♦♦

Vir winderigheid, diarree, sooibrand en probleme met spysvertering. Week ’n takkie wilde salie in ’n koppie kookwater vir 10 minute.
Gooi dit deur ’n siffie en meng 3 eetlepels Engelse sout by en bietjie suurlemoensap. Hou die mengsel in ’n lugdigte houer en gee die pasiënt gereeld klein bietjies daarvan.

♦♦♦

Die blare van die maagpynbossie word gebruik as medikasie vir winderigheid. Trek 10 g blare in ’n koppie kookwater vir 5 minute. Drink dit stadig.

♦♦♦

Kou ’n paar groenment-blare vir winderigheid.

♦♦♦

Jy het ’n takkie kapokbos van omtrent jou duim se lengte nodig. Gooi ’n koppie kookwater daaroor en laat trek vir 5 minute. Dreineer en drink die tee vir winderigheid.

♦♦♦

Gebruik 5 g vars wildeals blare om ’n tee mee te maak. Laat dit vir 5 minute trek voor jy die blare verwyder. Drink die tee vir winderigheid.

♦♦♦

Neem ’n paar druppels anysolie op suiker wanneer nodig.

♦♦♦

Trek kruienaeltjies in kookwater en drink daarvan.

♦♦♦

Neem ’n bietjie kaneel gemeng met heuning.

♦♦♦

Meng 2 liter water met 2 eetlepels heuning, 1 eetlepel fyngekapte gemmer en 1 eetlepel gemaalde kaneel. Hou in die yskas en drink gereeld ’n bietjie daarvan.

♦♦♦

Drink 'n warm tee van byebalsem (bergamot).

♦♦♦

Maak vir jou tee met vinkel om te help met winderigheid.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

24.7.25

Kruie vir kwale: Boererate vir Slapeloosheid / Slaaploosheid

Duiwelsdrek help vir slaaploosheid deur die persoon te kalmeer.
Neem drie maal daagliks saam met melk of heuning, genoeg om die punt van ‘n mes toe te maak.

♦♦♦

Voeg ’n kwart koppie kattekruid-blare by ’n koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n sif en drink vir slaaploosheid.

♦♦♦

Koljanderblare help met slapeloosheid by sommige mense.

♦♦♦

Die gereelde gebruik van rooibostee kan verligting bied vir slaaploosheid.

♦♦♦

’n Tee gemaak van kattekruid help vir slaaploosheid.

♦♦♦

Drink kruisementtee voor jy gaan slaap, of gooi ’n paar druppels kruisementolie of vars kruisement in jou badwater.

♦♦♦

Drink ’n koppie kamille-tee (chamomile / chamomile) net voor jy gaan slaap.

♦♦♦

Drup ’n paar druppels laventelolie op jou kussing.

♦♦♦

Maak vir jou tee met vinkel vir slapeloosheid.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

23.7.25

Kruie vir kwale: Longe

Die jel van die bontaalwyn se blare kan op die bors gesmeer word om kongestie te verlig.

♦♦♦

Die vars blare van die kransaalwyn word gekap of fyngemaak en dan in water gekook om 'n tee of aftreksel te maak.
Dit word gedrink om kongestie te verlig.
Soms word heuning of ander medisinale kruie, soos die blare van die lemoenbossie of gemmer, bygevoeg om die doeltreffendheid te verbeter. (is reeds gebruik, gaan na volgende)

♦♦♦

Makkalmoes word tradisioneel deur die Zoeloe mense gebruik om longkwale te behandel. Die risome word normaalweg gekook en gebruik.

♦♦♦

Die Zoeloes gebruik al lank reeds watersalie vir longprobleme. Die resep is twee blare in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

♦♦♦

Tee van die wilde salie word wêreldwyd gebruik vir die behandeling van borskwale.
Gooi ’n koppie kookwater oor ’n eetlepel wilde salie blare en laat dit trek vir 5 minute. Om dit meer drinkbaar te maak kan jy dit versoet met heuning en ’n skyfie suurlemoen byvoeg.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n kwart koppie vars sewejaartjie-blare. Laat dit trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n siffie en drink vir borskwale.

♦♦♦

Plaas ’n ¼ koppie klimop-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n siffie en geur met heuning na smaak.
Drink dit vir borskwale.

♦♦♦

Gekookte suurvye kan gebruik word vir die behandeling van longkwale.

♦♦♦

Neem 2 tot 4 kankerbossie blare en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Heelwat Suid-Afrikaners gebruik dit vir borsprobleme.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids