Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

2.7.24

Koliek

Die term koliek word gebruik om gevalle te beskryf waar babas lank aaneen luidkeels en onophoudelik huil. Daar word algemeen aanvaar dat koliek babas maagpyn en -ongemak verduur, maar die oorsaak kan nie bepaal word nie. Normaalweg klaar hierdie toestand op sodra die baba 3 tot 4 maande oud is.

Probeer baba op sy/haar gemak stel sonder om die roetine te versteur. Draai haar snoesig toe, hanteer haar sagkens en sus vertroostend. Probeer skerp lig en lawaai vermy. Konstante vibrasies het ook ´n kalmerende uitwerking.

Indien dit nie na 6 maande opklaar nie, indien die baba aan diarree of braking ly, indien bloed in die stoelgang voorkom of indien die baba bleek en pap raak moet jy onmiddellik jou dokter kontak.



(foto: Greta Hoffman)

27.6.24

Lewer

Dit was 'n lang vakansie, vra maar jou lewer. Meeste van ons besef nie die belangrikheid van hierdie orgaan nie. Wanneer ons uitvind daar is iets fout is dit gewoonlik te laat en die skade is onherstelbaar. Deur na jou lewer te kyk kan die verskil tussen lewe en dood beteken.

Die lewer is jou liggaam se chemiese fabriek. 'n Ongesonde lewenstyl vernietig jou fabriek se selle. Driekwart van hierdie selle kan vernietig word voor jou lewer ophou funksioneer. Ongelukkig is ons selde bewus van enige skade voor dit te laat is.

So hoe hou ek my lewer gesond? Volg net hierdie maklike stappe:

Hou matigheid voor oë! Vir 'n gesonde lewer behoort jy nie meer as een glas wyn (125 ml vir vroue, 250 ml vir mans) per dag te drink nie.

Drink baie water.

Eet baie groente en vrugte. Jou lewer is versot op antioksidante uit die bronne. Ruil ook jou normale kookolie in vir ekstra suiwer olyfolie wat ryk is aan vitamien E en ander antioksidante.

Eet eiers, knoffel en uie. Dit help met lewerfunksie.

Jou dieet moet 'n lae glukemiese lading hê. Vermy suiker en verfynde koolhidrate.

Verloor gewig indien jy oorgewig is.

Dit is 'n goeie idee om nou bietjie meer as normaal by bogenoemde eetgewoontes te hou. Dit sal jou lewer help om te herstel na die vakansie.

17.6.24

Ménière-siekte

Ménière-siekte is 'n aandoening van die balansorgaan in die middeloor. Die gevolge hiervan wissel van balansversteuring, gehoorverlies, abnormale gehoor, drukking in die oor en tinnitus. Indien jy enige van die simptome ervaar moet jy jou dokter gaan spreek.

Ons weet nog nie rêrig wat die oorsake van Ménière-siekte is nie. Dit kom voor asof dit te doen het met 'n abnormale hoeveelheid vloeistof in die middeloor of 'n abnormale samestelling van die vloeistof. Wat die verandering in die vloeistof meebring weet ons nog nie. Normaalweg ontstaan die siekte net in een oor.

Daar is nog nie medikasie wat suksesvol gebruik kan word vir Ménière-siekte nie. Gewoonlik skryf dokters medikasie voor vir die balansversteuring.

Verminder jou soutinname en vermy voedsel wat sogenaamde MSG's bevat. Eet ook kleiner porsies op 'n slag, versprei dus jou etes oor die dag. Dit help jou liggaam om die vloeistowwe beter te reguleer. Vermy drankies en voedsel wat kafeïen bevat en moet nie rook nie.

12.6.24

Maagseer

Koeksoda vir maagseer is nie soseer ’n goeie idee nie. Lees die laaste antwoord onder vir meer inligting.

Anoniem skryf: "Ek het spastiese kolon en daar is gediagnoseer dat ek kroniese infeksie van maag wand en ook blase op my dikderm en is daar enige dieet wat daarvoor kan help."

Antwoord: Dit is altyd moeilik met 'n kombinasie van probleme. Jy sal kan voordeel trek uit die raad wat hier onder gegee word, maar die aanbeveling is dat jy 'n dieetkundige gaan spreek. Dit sal wys wees as jy jou dokter toestemming gee om met jou dieetkundige oor jou toestand te praat.



Karlien skryf :
"My kerel se pa is baie siek. Hy het 3 jaar terug 4 hartomlynings gehad en van daar af was hy nog nooit gesond nie. Op die oomblik het hy 3 maagsere en blykbaar is 2 van hulle baie ernstig. Hy het spatare in sy slukderm wat ook baie ernstig is. Hy staan eintlik met een voet in die graf en die ander op die rand van die gat. Hy gaan aanmekaar na die dokters toe en hulle stop hom vol pille wat ek dink nie baie goed is nie, want a.g.v. sekere pille het sy gesondheid meer agteruitgegaan. Ons weet nie meer wat om te doen of na wie toe te gaan nie. Dit is baie ernstig en die raad en tyd raak minder. Ek wil net weet of die pille wat hy drink hom nie vererger nie, hy raak vinnig moeg, lam en geen krag en lighooftig."

Antwoord :
'n Maagseer (peptiese ulkus) is 'n rou seertjie wat in die voering van die maagwand of die boonste deel van die dunderm voorkom. 'n Maagpyn en 'n brandsensasie is gewoonlik 'n aanduiding van 'n maagseer. Braking kan voorkom, veral in die aand.
Maagsure wat deur die beskermde slymvlies van die maag vreet veroorsaak die pyn en medikasie wat die afskeiding van die maagsuur blokkeer bring gewoonlik net tydelike verligting aangesien die maagseer weer terugkeer. Navorsing toon dat dit die Helicobacter pylori bakterie is wat die maagwand irriteer en uiteindelik so verswak dat 'n maagseer ontstaan. Die bakterie veroorsaak 90% van alle maagsere. Die ander 10% word veroorsaak deur anti-inflammatoriese middels soos aspirien.
'n Kursus van antibiotiese middels behoort normaalweg die maagseer te genees.
Wat julle kan doen is om sy dieet te wysig sodat hy die optimale voeding kry wat sy immuniteit sal opstoot. Praat ook met sy dokter/s oor aanvullings sodat julle hom nie iets gee wat teen sy medikasie sal inwerk nie. Indien bakterieë sy maagseer veroorsaak het moet hy kos vermy wat ryk is aan yster. Dit help bakterieë om voort te plant. Knoffel, Sint Janskruid, avokado en vinkel bevat almal antibakteriële middels. Die kruid Echinacea is 'n algemene antibiotiese middel en molslaai het ook antibiotiese eienskappe.


Opgeruimd en Vrolik - hoe om jouself op te beur

Die stygende brandstofprys, politiek en probleme met elektrisiteit en water is genoeg om meeste mense depressief te maak. Indien jy bietjie depressief voel kan jy hierdie tien dinge probeer om die huppel terug te sit in jou stap.

Beplan iets prettig Raadpleeg die Net of jou plaaslike koerant oor wat in jou area gebeur. Maak 'n punt daarvan om een of twee goed te doen. Nooi iemand saam. Indien daar niks in jou area gebeur nie kan jy op 'n uitstappie gaan na die naaste dorp.

Wees kreatief Het jy al ooit probeer verf? Koop vandag nog vir jou verf en kwaste en laat waai, maak nie saak hoe dit lyk nie. Of dalk kan jy 'n mooi fotoalbum maak. Haal uit jou videokamera en probeer 'n 5 minute-fliek maak.

Buiten toe Vars lug was nog nooit sleg nie. Gaan stap langs 'n rivier, vlieg 'n vlieër, maak groentetuin of ry fiets.

Musiek vir jou siel Sit jou gunsteling musiek aan en sing of trek die gordyne toe en dans, dans kaal. Wat van 'n musiekinstrument leer speel? Of probeer karaoke.

Stap met 'n hond Jou hond sal baie bly wees. Indien jy nie 'n hond het nie kan jy die buurman s'n leen. Die DBV sal ook honde hê waarmee jy kan stap.

Wees 'n vrywilliger Daar word altyd vrywilligers iewers benodig. Ervaar die genot van ander help.

Verander jou huis Knap 'n vertrek self op of rangskik die meubels net anders. Gooi alles weg wat jy nie meer gebruik nie.

Hou 'n partytjie Jy hoef nie eens 'n rede te hê nie. Dink 'n tema uit vir jou partytjie.

Kry 'n massering Indien jy nog nooit die waarde van 'n goeie massering ontdek het nie is dit nou die tyd. Laat sommer ook jou hare sny.

Bel 'n vriend Verkieslik een waarmee jy lanklaas kontak gehad het. Besoek 'n bejaarde familielid of stuur 'n kaartjie aan iemand wat ver bly.


Boereraat:

Eet 'n piesang. Dit bevat 'n proteïen wat die liggaam omskakel in 'n stof wat jou laat ontspan.



(foto: Jill

Kruie vir kwale: Wonde

Sommige mense maak ’n eksterne wasmiddel met kankerbossie vir wonde. Hiervoor gebruik jy 4 hande vol blare van die kankerbossie, ’n fyngedrukte bol wildeknoffel en 4 hande vol kruidjie-roer-my-nie se blare. Alles saam word in kookwater getrek vir 30 minute. Die lyf word gewas terwyl die mengsel nog warm is en die pasiënt moet ook 125 mℓ van die mengsel drink. Die 125 mℓ moet egter afgetap word na 15 minute se trek. As dit te sterk is, kan dit die persoon laat opgooi. Hoe bitterder ’n kankerbossie-mengsel is, hoe sterker is dit.

♦♦♦

Die kruisbessie is ’n belangrike plant in tradisionele medisyne en word vir ’n verskeidenheid doeleindes gebruik. Gekneusde bas wat in warm water geweek is, word gebruik om wonde te behandel.

♦♦♦

Plaas 20 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Gebruik dit vir die behandeling van wonde.

♦♦♦

Maak ’n badmengsel deur 40 g wildeals-blare te bedek met 2 liter kookwater. Laat dit staan vir 2 uur.
Gooi deur ’n sif en botteleer.
Voeg die mengsel by jou badwater om te help met wonde. Jy kan die geaffekteerde plekke liggies daarmee afspons.

♦♦♦

Gousblomblare kan gebruik word om die inflammasie te behandel en enige wonde te help herstel. Week ’n hand vol blomblare in ’n koppie warm water vir 15 minute. Laat dit dan afkoel en plaas dit in die yskas vir 30 minute. Week dan ’n waslap in die aftreksel en hou dit op die geaffekteerde plek vir 5 minute. Doen dit ’n paar keer elke dag.

♦♦♦

Die blare van die maagpynbossie bespoedig die herstelproses as jy dit aan wonde smeer.
Trek 10 g blare in ’n koppie kookwater vir 5 minute.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

6.6.24

Kruie vir kwale: Kanker

Neem 2 tot 4 kankerbossie blare en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Heelwat Suid-Afrikaners gebruik die tee vir kanker. Dit kan ook as wasmiddel gebruik word. Hiervoor gebruik jy 4 hande vol blare van die kankerbossie, ’n fyngedrukte bol wildeknoffel en 4 hande vol kruidjie-roer-my-nie se blare. Alles saam word in kookwater getrek vir 30 minute. Die lyf word gewas terwyl die mengsel nog warm is en die pasiënt moet ook 125 mℓ van die mengsel drink. Die 125 mℓ moet egter afgetap word na 15 minute se trek. As dit te sterk is, kan dit die persoon laat opgooi. Hoe bitterder ’n kankerbossie-mengsel is, hoe sterker is dit

♦♦♦

Gebruik 3 g bloublomsalie, 3 g kankerbossie en 3 g wildedagga om ’n tee te maak.
Laat dit vir 5 minute trek voor jy dit deur ’n siffie gooi.
Drink dit vir kanker.

♦♦♦

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids