14.12.23
Sonsteek / Hittesteek
Simptome en tekens
• Hoofpyn, duiseligheid en die persoon voel warm.
• Persoon is rusteloos.
• Persoon kan bewusteloos raak.
• Die persoon se koors sal 40°C of hoër wees. Die vel sal blosend lyk, maar droog wees.
• Die pols sal erg klop en die asemhaling kan raserig wees.
Behandeling
1. Skuif die persoon na ’n koel omgewing en verwyder die klerasie.
2. As die persoon by sy/haar volle bewussyn is plaas in ’n halfsittende posisie.
3. Plaas ’n bewustelose persoon wat normaal asemhaal in die herstelposisie.
4. Draai die persoon toe in ’n nat laken en hou dit nat. Waai die persoon se gesig koud met ’n tydskrif/boek/waaier tot die koors tot 38°C gedaal het.
5. Kry so gou as moontlik mediese hulp.
6. Indien die persoon se koors genoeg daal, draai hom/haar toe in ’n droë laken.
12.12.23
Skilfers
Moenie aan die kopvel krap nie en was jou hare gereeld met ´n nie-olierige sjampoe. Spoel die hare met asyn pleks van water af. Gebruik hiervoor ´n mengsel van een kwart koppie asyn teenoor een liter water.
Soek mediese hulp indien skilfers hardnekkig voorkom of simptome vererger.
Boereraat:
Was hare in 2 teelepels koeksoda in ’n liter water en spoel goed af, in ’n week sal jy die verandering opmerk.
♦♦♦
Smeer klapperolie aan die hare voor die hare gewas word.
♦♦♦
Vir skilfers maak 2 aspirientablette fyn en gebruik saam met jou sjampoe een maal per week of masseer jou kopvel met seesout.
Medisinale gebruike van kruie
Kruiegids
(foto: John Diez)
11.12.23
Tenniselmboog

'n Voorarmspier wat rek kan tot inflammasie van die tendon lei wat hulle aan die boarmbeen verbind. Die aandoening word gewoonlik 'n tenniselmboog genoem vanweë die plek waar die pyn ervaar word.
Verreking kom veral voor wanneer 'n rukbeweging 'n spier of tendon laat verrek. Dit is veral geneig om te gebeur wanneer die spiere en tendons koud is.
Spiere wat verrek is is styf en seer en kan hewig saamtrek.
Die beste behandeling is om die spier te rus.
(foto G.I. Folk)
7.12.23
Verminder vet in jou dieet
- Stoom, kook of mikrogolf groente of roerbraai dit in klein hoeveelhede olyfolie.
- Gebruik eerder kruie en speserye as smaakmiddels in die plek van souse, botter en margarien.
- Gebruik suurlemoensap of 'n lae-vet slaaisous oor jou slaai. Jy kan die mayonnaise en suurroom in slaaisouse vervang met jogurt.
- Gebruik olyfolie in plaas van margarien of botter.
- Vervang volroommelk met afgeroomde melk.
- Koop vleis met 'n lae vetinhoud en sny enige sigbare vet van vleis af.
- Rooster, bak of kook vleis, pluimvee en vis so dat die vet afloop soos die kos gaar word.
- Gebruik 'n pan waarin kos nie kan vassit nie.
- Skep die vet af van bredies met vleis of pluimvee.
- Eet een maal per week 'n lae-vet vegetariese dis.
(foto: Karolina Grabowska)
29.11.23
Wat is Tourettes?
Ek het al heelwat vrae gekry oor Tourettes-sindroom. Hier volg dan 'n samevatting van wat Tourettes is en behandeling daarvan.
Volgens die nuutste navorsing is die aanvang gewoonlik voor 18 jarige ouderdom. Die oorsaak van Tourettes is nie bekend nie, alhoewel dit lyk asof dit verbind kan word met die gene wat chemiese stowwe van een breinsel na die volgende oordra. Dit is veral Dopamien wat geaffekteer word, en is dan ooraktief in die brein. Dopamien is verantwoordelik vir beweging, en met ooraktiwiteit, kom daar dan die bekende "tic", of onwillekeurige beweging voor. 'n Streptokokkale infeksie kan ook Tourettes veroorsaak in sommige gevalle a.g.v. 'n immuunsisteem se reaksie op die strepinfeksie.
Die diagnose van Tourettes word gemaak op grond van die volgende:
· Veelvuldige motoriese "tics"
· Ten minste een "tic" wat met spraak verband hou
· Bg. Is teenwoordig vir meer as 'n jaar
· Bg. Het begin voor 18 jarige ouderdom
· Familiegeskiedenis van Tourettes
Daar is geen skanderings of bloedtoetse wat gedoen kan word om die diagnose te bevestig nie.
Kinders en volwassenes met Tourettes kan ook ander probleme ondervind soos Aandag Afleibaarheid sindroom, leerprobleme, rebelering t.o.v. gesag, hiperaktiwiteit, swak slaappatrone en ook 'n groter geneigdheid tot obsessief- kompulsiewe gedrag, bv. Tel van voorwerpe, herhaling van aksies, ens.
Meeste lyers ondervind 'n verbetering van die simptome na hul tienerjare. Min het ook medikasie nodig. Medikasie is gerig op die herstel van die chemiese wanbalans in die brein. Die word ook net voorgeskryf as die "tics" en gedrag van die lyer sy kwaliteit van lewe negatief raak.
Algemene medikasie is dan ook:
· Anti- psigotiese medikasie: dit het heelwat newe- effekte en anti- parkinson medikasie kan daarvoor help.
· Bloeddrukmedikasie genaamd clonidine wat "tics" help beheer
· Anti- depressante beheer obssesief- kompulsiewe gedrag
· Stimulante wat gebruik word om ander probleme te hanteer waarvan die bekendste methylphenidate of Ritalin is.
Tourettes is nie geneeslik nie, maar kan beheer word sodat die lyer 'n vol en kwaliteit lewe kan lei. Die belangrikste is die ondersteuning van familie en vriende. As gevolg van die eienaardigheid van die "tics" en die soms bissare optrede van die lyers, vind verwerping deur die samelewing dikwels plaas. Psigoterapie, arbeidsterapie en gedragsterapie kan lyers help om die alledaagse lewe suksesvol te hanteer.
skrywer: Suster Barbara Pelser
(foto: Andrea Piacquadio)
23.11.23
Borste - borskanker
21.11.23
Vette
Vette is nie net 'n onding nie. Daar is goeie vette wat jou liggaam nodig het. Vitamiene A, D, E en K en belangrike vetsure kom in vette voor. Vette kan as versadig of onversadig geklassifiseer word. Onversadigde vette word in poli- en mono-onversadigde vette verdeel.
Versadigde vette
Dit kom voor in dierevette soos die van beeste, skape, varke en hoenders, suiwel en sekere plantprodukte soos palm- en klapperolie. 'n Hoë inname van versadigde vette verhoog die risiko van hartsiektes en kanker. Dit verhoog slegte cholesterol.
Mono-onversadigde vette
Dit kom voor in olyfolie, lynsaad, kanola-olie, avokadopeer, grondbone, pekanneute en amandels. Dit help om slegte cholesterol te verlaag sonder om goeie cholesterol te affekteer.
Poli-onversadigde vette
Dit kom voor in plantolies soos sonneblomolie asook in visolie. Dit is beter as versadigde vette en verlaag slegte cholesterol, maar dit kan ook goeie cholesterol nadelig beïnvloed.
Omega 3-vetsure
Jy vind dit in vetterige vis, sojabone en okkerneute. Dit speel 'n belangrike rol in breinontwikkeling. Dit help ook met inflammasie, die voorkoming van bloedklonte, hartvatsiektes en artritis.
Omega 6-vetsure
Dit kom voor in sonneblomolie, neute en sade. met genoeg hiervan bly jou selmembrane mooi gesond.
(oorspronklike foto: Laura Tancredi)