Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

10.12.12

Bly gesond oor Kersfees


Hoe hou jy jou gesondheid in stand oor Kersfees met al die versoekings in die rondte? Hier is 'n paar dinge wat jy kan doen om jou deur die feesseisoen te help en die slegte spysvertering en hoofpyne te verminder.
  • Sê nee vir suiker! 'n "Nee dankie" een of twee keer wanneer die koekbord verby kom sal wondere verrig vir jou middellyf se mate.
  • Probeer om nie te veel af te wyk van wat jy normaalweg eet nie. Moet nie oorweldig word deur al die lekkernye nie. Probeer hou by wat jy altyd eet en drink. Soek tussen die lekkernye vir iets wat jy altyd sou eet daardie tyd van die dag.
  • In plaas van aartappelskyfies en sjokolade kan jy aan vrugte en neute peusel. Wanneer jy lus raak vir sjokolade kan jy 'n goeie kwaliteit donker sjokolade geniet, dit bevat minder suiker en is ryk aan yster.
  • Indien jy baie alkohol gebruik moet jy probeer om 'n glas water vir elke glas alkohol te drink. Neem ook elke dag 'n ekstra 2 000 mg vitamiene C.
  • Oefen! Vakansie is 'n ideale tyd om te begin oefen. Gaan stap op die strand of verken jou buurt saam met die honde tydens sonopkoms.
  • Maak seker dat jy elke dag jou dosis groente en vrugte kry! Dit hou jou gesond en maak jou minder lus vir die versoekings.

5.12.12

Slegte spysvertering


Letitia Strydom skryf:
"Ek sukkel al vir 'n paar jaar met pyne in die bors. Dit begin met 'n branderige gevoel en dit pyn so erg dat ek in twee kan vou, partykeer is dit kort en dan verdwyn dit en kom terug, ander kere is dit 'n lang tydperk van pyn. Dit help partykeer as ek op my rug gaan lê en diep asem haal. Wat kan dit wees en hoe kan ek dit beter kry? Dit gebeur meer gereeld die afgelope kere en is erger as ek 'n groot maaltyd gehad het."

Antwoord:
Ek sou voorstel jy gaan sien dadelik 'n dokter ingeval dit al meer as twee weke so aanhou. Omdat dit na groot maaltye voorkom kan dit slegte spysvertering (dispepsie) wees en mens moet maar die dokter gaan spreek indien dit meer as twee weke aanhou. Jy weet ook nie of dit weens 'n ander mediese toestand soos 'n breuk ofmaagseer, gastritis of esofagitis is nie.
Slegte spysvertering kom voor wanneer jy oorhaastig eet, ryk en vetterige kos eet, oorgewig is, aan stres ly of swanger is.
Van die algemene simptome is ongemak of krampe in die boonste deel van die maag en 'n drukkende brandgevoel in die bors.
Probeer jou maaltye kleiner hou. Rook, alkohol en koffie moet vermy word en mense met hoë stresvlakke moet daaraan aandag gee. Indien jy oorgewig is moet jy so gou as moontlik oefening kry en oorweeg om jou leefstyl te verander. Vermy vetterige kos!

26.11.12

19.11.12

Vrae oor gordelroos


Lee skryf: "Dit is al die derde keer wat ek met Gordelroos gediagnoseer is, die eerste keer verlede jaar en nou al twee keer die jaar, in die verloop van 3 maande! Ek is raadop, ek is nou 29, het nog nooit koorsblare gekry nie, en nou wil dit blyk dat hierdie virus nie uit my sisteem wil gaan nie. Die pille is duur en die behandeling daarvan neem lank. Is daar nie tog een of ander "immuun-booster" wat ek kan drink om dit te verhoed om uit te kom nie? Dit is ook elke keer aan my een boud en die simptome voor dit uitkom is dieselfde: Dit voel of ek my stuitjie seergemaak het en ek is besonders moeg, dan kan ek maar weet dat ek die blaas die volgende dag sal opmerk. Asseblief gee raad!"

Antwoord: Wanneer mens waterpokkies opdoen kan die virus in die senuwortel van die ruggraat beland en permanent dormant daar lê. Dit kan van tyd tot tyd aktief raak, veral wanneer jou immuunsisteem deur siekte of stres afgetakel is. Dit vorm gewoonlik so 'n blaas of groep blasies op die vel. Daar kan ook skerp steekpyne in die aangetaste area voorkom. Die teenvirusmiddel akiklovir kan die pyn en die aanval verlig. Verder is 'n gesonde, stresvrye lewenstyl jou beste medikasie. Oefening, reg eet en stresverligting moet vir jou 'n prioriteit wees.

12.11.12

Vrae oor sproei


Chanel Mostert skryf: "My jongste. Sy is twee maande oud. Ek borsvoed haar. Sy kry gereeld sproei. Ek het goed gekry by die plaaslike apteek daarvoor en dit werk. Maar is daar nie iets wat ek ook moet gebruik nie en kan ek die sproei enigsins voorkom?"

Antwoord: Sien die antwoord onder.



Anoniem skryf:
"Is dit moontlik vir 'n baba wat geborsvoed word om sproei te kry en hoe lyk dit?"

Suster:
Ja, dit is moontlik vir 'n borsvoedbaba om sproei te kry.
Dit is wit knoppies in die wange en 'n witterige "kors" op die tong wat nie afkom as jy dit met 'n sagte lappie vee nie. Die babatjie sal ook knieserig wees en swakker drink aangesien dit pynlik is. In erge gevalle kan dit self bietjie bloei.
Dit is baie belangrik dat jy jou tepels mooi skoon was met water voordat jy jou babatjie borsvoed. Vee dit af met klam watte of 'n skoon waslappie. Moenie dieselfde waslap gebruik waarmee jy was nie, al voel jy dat dit skoon is. Hou 'n aparte lappie net daarvoor. As dit baie erg is, kan jy antibiotika kry by jou dokter.

5.11.12

Duimsuig


Ria skryf :
"Ek soek asseblief raad, my vriendin se dogtertjie is 8 jaar oud en suig nog steed haar duim. Wat kan sy doen met die kind asseblief."

Antwoord :
Kinders suig hul duime omdat dit hulle kalmeer en gerusstellend is. Hulle doen dit ook wanneer hulle siek of moeg is. Eerstens moet sy haar nie straf vir haar gedrag nie, sy weet nie hoekom sy dit doen nie. Wat sy moet doen is om te kyk wanneer dit plaasvind en dan 'n plaasvervanger aan te bied. Doen sy byvoorbeeld dit wanneer sy televisie kyk kan jy haar wegneem voor die TV en 'n speletjie met haar speel - enige alternatief wat haar aandag sal wegneem van haar duim.




(tekening S Lindner)

29.10.12

Vrae oor die galblaas


Sonia Coetzer skryf: "Ek het sowat 4 jaar gelede 'n galblaasverwydering en 'n laproskopiese nissen (mantelvliesbreuk) herstel gehad. Ek het my lewensstyl relatief aangepas deur nie brood en vetterige kosse of gaskoeldrank en speserye te gebruik nie. Ek het steeds diaree, ek het chronies hoofpyn en is baie moeg. Kan dit moontlik 'n tekort in my liggaam wees wat dit veroorsaak as gevolg van die soute ens. wat my liggaam verloor deur die diaree. Ek gebruik Questran Lite wat help dat dit nie so erg is nie, maar bly steeds moeg en die hoopyne is nie lekker nie. Ek was nog nooit weer terug na my dokter toe om vas te stel of dit normaal is nie."

Antwoord: Nommer een: Sorg dat jy by 'n dokter kom. Gereelde diaree moet deur 'n kundige persoon gediagnoseer word. Onmiddelik.
Nommer twee: Relatief is nie goed genoeg nie. Reg of weg!



Mila skryf: "Tydens 'n sonar ondersoek is vasgestel dat my galblaas vol fyn stukkies gruis is (nie galstene nie) My galblaas is nie vergroot nie, en my lewer is normaal. Dit is blykbaar so klein, dat dit in die galbuise afgaan en dit versoorsaak dan fyn steekpyne soos naalde. Die dokter beveel aan dat ek my galblaas verwyder. Is daar 'n dieet wat ek kan volg om my galblaas te "detox" ? Ek wil 'n operasie so vêr as moontlik probeer vermy. Ek is ongeveer 10 kg oorgewig."

Antwoord: 'n Dokter sal nie sommer aanbeveel dat jou galblaas verwyder moet word indien dit nie regtig noodsaaklik is nie. Indien jy bekommerd is dat jou dokter oorhaastig besluit het kan jy altyd 'n tweede opinie kry, maar indien jy weer dieselfde hoor moet jy dit so aanvaar.



Loisa Mouton skryf: "Die dokter gaan oor 3 weke besluit of hy my galblaas gaan verwyder as die infeksie nog steeds baie hoog is. Wat veroorsaak die infeksie dan, ek volg 'n goeie dieet het byna 40 kg verloor meer as 'n jaar terug deur weighless en hou my gewig af. Ek eet geen vetterige kos nie drink lae vet melk ook. As hy wel my galblaas verwyder watter probleme gaan ek dan moet mee saamleef? Is dit nie beter om maar die galblaas te hou nie?"

Antwoord: "Dis wonderlik dat jy jou lewenstyl so mooi aangepas het. Die probleem is dat die skade veroorsaak kon word voor jy dit gedoen het. Die dokter se besluit oor jou galblaas is geneem in jou belang en ons moet vertrou dat dit die beste opsie is. Volgens sommige navorsers kan infeksie van die galblaas veroorsaak dat die area in 'n meerdere mate blootgestel is aan substansies wat kanker veroorsaak.
Na die operasie moet jy voorbereid wees op die moontlikheid van diaree, veral gedurende die eerste paar weke. Vermy sterk en vetterige kos, asook suiwel gedurende die tyd. Pas jou dieet aan om meer veselryk te wees. Vir 1% van ons kan die diaree 'n probleem raak oor die langtermyn, maar in so 'n geval sal 'n dokter medikasie kan voorskryf."



Annelie James skryf :
"My man het galblaas probleme en dit moet verwyder word, kan alkohol enige newe effekte hê voor of na die operasie."

Antwoord :Oor die algemeen word daar gesê dat die gebruik van alkohol na die verwydering van die galblaas nie enige effek behoort te hê nie. In die praktyk kla baie pasiënte egter van pyn of 'n ongemaklike gevoel indien hulle alkohol gebruik. Die beste is om die gebruik daarvan te staak en 'n dokter te raadpleeg indien jy enige ongewone simptome toon, voor of na die operasie. Hy moet ook nie te gou alkohol gebruik nadat hy die operasie ondergaan het nie.