Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

2.4.12

Vrae oor DIE PIL


Anoniem skryf: "Ek wil net graag uitvind, my huisdokter het Yasmin vir my voorgeskryf en verduidelik dat ek eers met die pilletjie moet begin sodra ek begin menstrueer. Die probleem is net, ek is al so 2 dae laat met my menstruasie siklus en dit maak my bekommerd, want ek sien nie kans vir 'n "ongewenste swangerskap" nie. Sal dit n probleem wees as ek met die pil begin voordat ek menstrueer of MOET ek wag todat ek begin menstrueer?"
Antwoord: Die gebruik van die pil op die stadium gaan niks verander indien bevrugting reeds plaasgevind het nie.
Volg jou dokter se raad. Indien julle intussen seks wil hê kan julle kondome gebruik.
Voorspoed!

Anoniem skryf: "Ek was vir 10 jaar op Triphasil. Toe ons besluit om met 'n gesin te begin, het ek voorbehoeding gelos en binne die 2de maand swanger geraak. My 2de kind is 17 maande daarna gebore. Ek het geborsvoed tot sy amper 2 jaar oud was. Ek het eers die mini-pil gesluk (maar gedurig vergeet!)en toe die 3 maande inspuiting gebruik. Ek het 10kg in 9 maande opgetel. Ek het toe weer die mini-pil gebruik, maar noudat sy gespeen is, is ek terug op Triphasil. Ek is 38 jaar oud. Ek wil weet of Triphasil skadelik is vir vroue bo 35 jaar? Sou u voorstel dat ek liewer 'n ander pil gebruik. Ek het ook die Mirena IUA oorweeg, maar is skrikkerig vir die newe-effekte."
Antwoord: Nie meer skadelik as enige ander pil nie. Indien Triphasil goed werk vir jou liggaam sou ek daarby hou.
Mientjie Esterhuizen skryf: "Het by apteker gehoor dat yasmine trombose kan veroorsaak en dat die pil binnekort van mark getrek gaan word. Daar is glo al gevalle waar vroue gediagonitseer is met trombose en wat al gesterf het."
Antwoord: Yasmin is nog tans beskikbaar en daar is nog nie sulke planne bekendgemaak nie.

Leeann skryf: "Ek wil net graag uitvind ... ek en my verloofde bly saam en het al wel saam geslaap een keer, met 'n kondoom, ek't nog nooit self iets gebruik nie ... en ek wil hoor of mens die pil oor die toonbank kan koop want ons het nog nie medies nie en van wanneer af kan ek dit begin gebruik? Ek is nou 20."
Antwoord: Ja, jy kan die pil by jou naaste apteek koop en jy kan dit onmiddelik begin gebruik. Vra jou apteker oor 'n voorstel vir 'n tipe pil.

Anoniem vra: "My verloofde het so 2 weke terug die pil begin gebruik. Van toe af het daar drastiese verandering in haar gemoedstoestand onstaan. Soggens voel sy nie goed nie en is kortaf en tipe van onbeskof met mense. Sy byt telkens gereeld my kop af deesdae en somtyds ontaard dit ook in 'n onnodige argument en bakleiery. Ons trou eers November 2007 en sy begin nou alreeds die pil gebruik. Is dit waar dat 'n vrou alreeds so iets soos 3 maande voor seks die pil moet begin gebruik om so swangerskap te verhoed? Ek is nie 'n kenner op die gebied nie, maar sal graag meer info wil hê omtrent die pil, die gebruiksaanwysings en watter newe effekte dit kan toon. Ek sien nie kans om dag na dag met die tipe van houdings wat sy kry saam te leef nie a.g.v die pil nie. Ek bedoel hoe kan 'n vrou behoefte hê aan seks as die PIL haar so omkrap en sleg laat voel.
Is daar dalk ander alternatiewe wat u kan aanbeveel?"
Antwoord: Ja, dit is so dat haar gemoedstoestand beïnvloed kan word, maar dit is nie die einde van die wêreld nie. Ek sou voorstel sy eksperimenteer met 'n paar handelsmerke en daar is ander vorms van geboortebeperking soos byvoorbeeld die inspuiting. Julle kan meer lees by Geboortebeperking.

Anoniem skryf :
"Ek gebruik die pil en wil net weet of dit beinvloed kan word deur gebruik van dieetpille en ek het gehoor dat seker antibiotikas dit teenwerk is dit waar?"
Antwoord:
Antibiotika kan wel die werking van die pil beïnvloed. Dieetpille behoort nie 'n probleem te wees nie, maar daar is soveel produkte op die mark dat dit amper onmoontlik is om jou 'n definitiewe antwoord te gee. Let Wel : Verwagtende vroue moet liefs nie dieetpille gebruik nie.

Wilma skryf :
"Ek gebruik die triphasil pil. Ek het gemenstrueer vanaf 10 - 14 April. Ek het toe besluit om die pil vir eers te los op die 19de April agv kopsere en moodswings wat ek kry en elke keer as ek en my man intiem verkeer kry ek seer, maw ek is droog. Op die 22ste April het ek weer begin menstrueer. Dit bekommer my, want ek weet nie of dit normaal is nie.
(ons het 'n seuntjie wat laas jaar Julie gebore is, ek het daarna vir die 1ste keer die pil begin gebruik)
Vriendelike groete"
Antwoord:
Dit is nie ongewoon nie. Die begin of ophou van die pil kan sulke gevolge hê. Jou sisteem is bietjie deurmekaar, maar sal weer na normaal terugkeer. Probeer 'n ander soort pil - praat met jou dokter of 'n suster.

Anoniem skryf:
"Ek wil net weet. Ek's 'n week op die pil. Wat is die kanse om swanger te word indien ek geen ander voorbehoed middels soos kondome gebruik nie?"
Antwoord:
Dit neem omtrent 'n week vir die pil om swangerskap effektief te verhoed. Intussen moet julle kondome gebruik.

Arné Hirschhorn skryf :
Ek wil net graag uitvind of jy dalk vir my 'n aanbeveling kan doen. Watter een van Triphasil of Nordette is die beste om te gebruik?
Antwoord :
Soos vantevore geantwoord hang dit af van persoon tot persoon. Hierdie is 'n vraag wat jy saam met jou dokter of klinieksuster moet beantwoord met inagneming van jou gesondheid.

Onseker skryf:
"Ek is op die pil (Diane) en ek en my vriend gebruik kondome ook - net om dubbel seker te maak, want ek is nog geensins reg vir 'n babatjie nie. Ek het 'n paar weke terug narkose gehad. Is dit moontlik dat die narkose negatief op die Diane kan inwerk?"
Antwoord:
Terwyl daar wel 'n invloed bestaan is dit nie van so 'n aard dat dit die werking van die pil nadelig kan beïnvloed nie.

Anoniem skryf:
"Ek en my ou het saam geslaap 2 dae voor my suklis, ek is tans op die pil en ek vat dit elke dag ( het nie gemis nie) Ek is wel 2 dae laat, ek sit wel met krampe maar daar het nog niks gebeur nie. Ek was 'n maand terug nog op die inspuiting kan dit die oor saak wees dat ek laat is op die pil? Is op Triphasil ..."
Antwoord:
Dit is onwaarskynlik dat jy swanger is. Maak egter seker en gebruik 'n kondoom wanneer julle saam slaap.
Jou silkus mag wel vir 'n tyd deurmekaar wees na die oorskakeling. Die krampe kan as gevolg van die pil wees. Gaan spreek jou dokter om seker te wees.

Anoniem skryf:
"Hi,ek wil net uitvind, ek is tans op Roaccutane vir my vel, en wil graag op die pil gaan, want daar is mense wat gevind het dat hulle puisies terug gekom het na Roaccutane, en het toe op die pil gegaan om die vel mooi te hou, maar ek wil dit ook gebruik, want ek het laat begin menstrueer st8, is nou matriek, en slaan sommer 3maande oor, ek wil 'n voorbehoed middel hê, wat nie vet maak nie, want ek weet daar is sommiges wat doen, want ek is erg oor my gewig, en is 'n model, en wil nie gewig aansit nie, en is daar wat dit nie sal doen nie? en dan wil ek ook weet, kan mens dit saam die Roaccutane gebruik, of moet ek maar wag tot ek klaar is met my voorskrif? en dan een laaste ding, na Roaccutane gaan my vel mos mooi wees, as ek dan met die pil sal begin, omdat dit dan iets nuuts in my sisteem is, gaan ek dan nie weer van voor af uitslaan nie? ek het n afspraak by my doktor, wil net jou opinie ook he, en seker van my saak maak, sal dit baie wardeer as jy sal terug kom na my toe asseblief, met soveel antwoorde as moontlik!!!!"
Antwoord:
Roaccutane kan wel veroorsaak dat sekere voorbehoedpille nie werk nie. Indien jy seksueel aktief is terwyl jy nog Roaccutane gebruik moet julle liefs 'n kondoom ook gebruik. Roaccutane moet beslis nie tydens 'n swangerskap gebruik word nie. Jou dokter behoort beter te weet oor watter voorbehoedpil aan jou wense gaan voldoen aangesien hy/sy vertroud is met jou mediese geskiedenis en toestand. Sekere voorbehoedpille help wel om aknee te verminder.


23.3.12

Vrae oor vrugwater


Mianca Meyer skryf:
"Ek is 32 weke swanger en my ginekoloog sê my vrugwater is min, maar hy verstrek nie die rede daarvoor nie. Ek het nie regtig 'n afskeiding wat onaangenaam ruik of iets wat snaaks is nie."

Antwoord:
Sien antwoorde onder.



en skryf:
"My vrugwater raak om die een of ander rede minder. Minder as wat dit veronderstel is om te wees op 24 weke. Ek wil net weet hoekom die vrugwater minder word en watter gevaar dit vir my ongebore baba inhou."

Antwoord:
Sien antwoorde onder.



Anoniem skryf:
" Die meisie is amper 7 maande swanger. Volgens haar Ginekoloog is daar op die stadium min vrugwater. Is daar iets wat gedoen kan word om die vrugwater te vermeerder, is dit gevaarlik."

Antwoord:
Die vrugwater is die buffer wat die ontwikkelende embrio beskerm en dit toelaat om te beweeg. Indien die vloeistof minder as 5 cm diep is, dan is daar te min. Tydens hierdie fase van haar swangerskap kan dit ernstige komplikasies tot gevolg hê tydens die geboorteproses. Op die stadium moet sy net seker maak sy sien haar dokter gereeld, sy moet gesond eet en baie vloeistowwe inneem, veral water. Daar is 'n plaasvervangervloeistof wat die dokter tydens geboorte kan gebruik.



Pamela skryf:
"My dogter is tans swanger. Die verwagte datum wat die dokter gegee het, is 2 Julie. Haar laaste mentruasie was einde Augustus. Haar vrugwater het Saterdag-aand gebreek, maar sy het geen pyne gehad nie. Sy was vanaf Sondag-oggend in die hospitaal opgeneem en is gister ontslaan. Volgens die dokter se bevinding was daar ´n skeur in die baarmoeder. Is dit gevaarlik? Haar borste het ook van gisteraand af melk geskiet. Is die verwagte datum korrek of wat is dit alles wat hier plaasvind."

Suster:
Die verwagte datum wat die dokter gegee het, klink reg. Dit kan gebeur dat die vrugwater kan dreineer sonder dat die mamma in kraam gaan. Dit gebeur soms as die baba met sy boudjies na onder lê of met sy ruggie na agter teen die mamma s´n. Ek dink julle het die dokter verkeerd verstaan. Daar is ´n skeurtjie in die VRUGSAK, nie die baarmoeder nie. Die vrugsak hou die vrugwater binne. Soms kan dit gebeur dat daar ´n bietjie vrugwater in so ´n geval dreineer. Die skeurtjie seël soms soos die baarmoeder groei. Sy moet maar uitkyk vir dreinering: die hoeveelheid, reuk en kleur. Dit moet helder soos water wees en het ´n tipiese reuk. Verkieslik moet daar geen dreinering wees nie. Indien daar ´n stortvloed water is, ´n offensiewe reuk of die kleur word groenerig, moet sy dadelik haar dokter gaan sien of na die naaste hospitaal gaan. Dit is normaal om op hierdie staduim melk te dreineer, alhoewel dit nie noodwendig by alle mammas voorkom nie. Ek hoop ek het julle genoeg inligting gegee. Laat weet gerus hoe dit gaan.

22.3.12

Tumor

Natasha skryf:
"Ek was ongeveer twee jaar gelede in 'n baie ernstige ongeluk betrokke, waarin daar 'n groot deel van my dunderm verwyder moes word.Dit was agv purforasie(?), ek het gas koeldrank gedrink ongeveer n uur voor die ongeluk, en die gas het glo die skade veroorsaak.Ek het 'n knop in my sy ontwikkel en die pyn is soms ondraaglik. Ek het 'n dokter hieroor gaan spreek en daar is vir my gese dat dit n tumor agv on opgeloste steke is. Soos ek verstaan is n tumor 'n tipe kanker gewas. Is so iets moontlik? Kan n mens dan kanker kry van n ongeluk? Ek het so groot geskrik ek het nie weer dokter toe gegaan nie, maar die pyn raak soms baie erg. Is daar behandeling hiervoor, of moet ek geoppereer word. Wat beteken 'maligent tumor'? n Ander ding wat ek oorgehou het van die ongeluk was n bloeiend oor. Ek het skedelbreuk opgedoen en my ore bloei so af en toe, maar dis nie werklik seer nie, ek het net erge hoofpyn voor dit gebeur, en die oor is bietjie teer."

Antwoord:

'n Tumor is 'n gewas wat ontstaan weens versnelde selverdeling. Die muturende selle ontstaan weens karsinogene wat 'n sel aanval en die sel se DNS omvorm. Hierdie selle kan verdubbel al om die 24 uur. Na net drie weke kan daar miljoene wees. So 'n tumor kan onskadelik of kwaadaardig wees. 'Maligent tumor' beteken kwaadaardige gewas.
Onskadelike gewasse kan in grootte toeneem en druk plaas op omringende weefsel, maar kan dit nie binnedring of groeisels elders in die liggaam veroorsaak nie.
Kwaadaardige gewasse bly groei en kan na ander weefsel versprei. Hulle kan ook losbreek en elders in die liggaam vermeerder. Groeisels in sekere organe kan lewensgevaarlik raak. Jy moet so gou as moontlik deeglik ondersoek word deur 'n dokter.

21.3.12

Duiselig

Amelia skryf:
Ek wil graag uitvind kan 'n mens swanger wees en nog altyd siek raak. My man het vir twee weke naar gewees maar die week daarna het ek siek geraak. Ek was vir 2 jaar op inspuiting maar vanaf januarie op niks. Partykeer raak ek naar en my kop draai so asof ek duiselig raak. ek wil maar net sekerheid hê.

Antwoord:

Duiseligheid MOET deur 'n dokter gediagnoseer word. Dit kan 'n simptoom van 'n magdom aandoenings wees. Wanneer jy swanger is en siek word is dit altyd wys om 'n geneesheer DADELIK te kontak.

20.3.12

Mondsproei

Philma skryf:
"Ek het met my eerste baba geborsvoed tot met 6weke, die rede was dat my baba sproei om sy mond gehad onwetend en het my aangesteek. Ek het vreeslik gehuil van al die pyne,ens en het dadelik opgehou met borsvoed. Nou is ek weer swanger met my tweede een en wil graag met my volgende baba se borsvoeding verbeter. Hoe gaan dit te werk sonder dat ek weer moet sukkel soos laas met my eerste kind. Ek wil iets reg kry. Gee my raad asb."

Antwoord:

Swamteenmiddels is jou beste beskerming teen sproei. Bespreek dit met jou dokter. Eet ook gereeld jogurt met "kulture".



Liezel Minnie skryf:
"Is dit nodig om jou baba se tong skoon te maak van bottelmelk? Sal die kleintjie mondproei kry as dit nie gereeld gedoen word nie? Dis baie moeilik om 'n baba se hele tong skoon te maak sonder om die kleintjie te laat opgooi of skreeu. Volgens my is die tongetjie ding ouderweds, maar ek vra eerder 'n expert"

Antwoord:

Mondsproei is 'n soort swaminfeksie. Dit kom meestal by babas, bejaardes en persone met HIV voor en kan uitgeken word aan opgehewe roomkleurige, witterige of geel plekkies binne-in die wange en keel. Dit kan lei tot oop sere en letsels indien dit nie behandel word nie. Die beste behandeling is swamteenmiddels, raadpleeg jou dokter.

13.3.12

Vrae oor kalium


S. van Lill skryf: "Inligting oor kalium vlak wat te hoog is asseblief."

Antwoord: 'n Kaliumvlak wat te hoog is kan ook sleg wees vir jou hart en kan ook 'n onreëlmatige hartklop tot gevolg hê. Aangesien 'n mens tot 3 500 mg kalium per dag benodig sal meeste mense nie sommer 'n oordosis hiervan inkry nie. 'n Hoë kaliumvlak word normaalweg veroorsaak deur sekere medikasie of dit is 'n aanduiding van nierprobleme. Gaan spreek jou dokter hieroor.


Anoniem vra:
"Wat beteken dit as jy 'n tekort aan Kalium het?"

Antwoord:
Kalium is 'n mineraal wat voorkom in sitrusvrugte, volgraan, avokado's, groen blaargroente (veral seldery), peulvrugte en piesangs. Dit handhaaf ons waterbalans en help met hartritme, die senuweestelsel en spiersametrekkings. 'n Tekort kan simptome soos uitputting, verwarring, spierswakheid en onreëlmatige hartklop tot gevolg hê.


6.3.12

Vrae oor ovulasie


Annelise Weyer skryf :
"Ek is nou ' jaar op Marvelon 150/30. Ek het te veel manlike hormone en ek ovuleer nie. Die maand van Mei het ek begin menstrueer maar is nou al 8 dae aanmekaar wat ek menstrueer. Ek weet nie of dit dalk kan wees dat ek 'n paar dae vergeet het op my pil te drink nie. Ek het nogal klonterig gevloei."
Antwoord :
Weet jy wat veroorsaak dat jy te veel manlike hormone produseer? Indien nie, moet jy gaan vir toetse. Ongelukkig is jou simptome nie ongewoon vir 'n vrou met te veel manlike hormone nie. In sekere gevalle kan dit suksesvol behandel word. 'n Endokrinoloog sal jou hiermee kan help.

Anna skryf:
"Ons wil graag probeer om ons eerste kind te hê, ek is 23 en my man is 25 jaar oud. Die hele storie is baie nuut vir ons, ons wil graag weet wanneer is die regte tyd om te probeer wanneer ovuleer ek? Hoe bepaal 'n mens dit? Asb sal u die inligting vir ons kan gee? "
Marthie van Zyl:
Jou ginekoloog sal vir jou baie meer inligting kan gee as ek, maar ek kan jou verseker dat jy ovuleer tussen dag 14 en 17 van jou siklus, jy begin tel by die dag waarop jy begin, dag een, dag 14 moet jy probeer om so veel moontlik seks te hê tot en met dag 17, natuurlik kan jy enige dag van die 28dae siklus swanger raak, maar dag 14 tot 17 het jy net 'n beter kans.
Hoop julle is sommer gou gelukkig.

Lynnette skryf:
"WANNEER WEET EK WANNEeR EK OVULEER? EK WEET JY TEL VAN EERSTE DAG VAN SIKLUS TOT DAG 10 MAAR EK WEET NIE WANNEER EK OVULEER NIE. WAT IS DIE TEKENS VAN OVULASIE"
Antwoord:
Ovulasie is die uitkom van 'n eisel uit die eierstok. Dit gebeur ongeveer op dag 14 nadat jy begin menstrueer. Hou noukeurig boek van jou maandstonde en let op die duur daarvan. Indien jou siklus presies 28 duur begin ovuleer jy heel waarskynlik op dag 14 nadat jy begin menstrueer. Indien jou siklus varieer moet jy 18 dae afrek van jou kortste siklus. Die totaal tel jy by wanneer jy weer menstrueer en dis waarskynlik die dag waarop jy ovuleer. Die stelsel is nie perfek nie, maar jy kan dit probeer.
Let ook op die vaginale afskeiding. Wanneer jy ovuleer is die afskeiding normaalweg soos rou eierwit. Wanneer jy klaar ovuleer het is die afskeiding meer melkerig.
Hou ook jou liggaamstemperatuur dop en wanneer dit effens styg en stabiel bly vir twee tot drie dae ovuleer jy. Jy sal waarskynlik dit oor 'n sekere tydperk moet doen om 'n patroon te vind.
Daar is ook deesdae ovulasiepakette waarmee jy jou tydperk van ovulasie kan opspoor.