Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



17.4.23

2 300 mense in Suid-Afrika is reeds met hemofilie gediagnoseer

Volgens die Wêreldfederasie vir Hemofilie (WFH) is sowat 2 300 mense in Suid-Afrika reeds met hemofilie gediagnoseer, maar daar word beraam dat daar nog 15 000 mense regoor die land is wat nie weet dat hulle aan hierdie versteuring ly nie.

Een van hierdie mense is die bekende Suid-Afrikaanse skrywer, spreker, afrigter, fasiliteerder, lewensafrigter en vuurloop-instrukteur, Cobus Visser wat as kind self met hemofilie gediagnoseer is. Omdat hy graag bewusmaking oor hemofilie wil skep, neem hierdie topprestasie-afrigter, ook bekend as Cobus ‘Die Viking’ Visser, hande met die wêreldgemeenskap om op 17 April 2023, Wêreldhemofiliedag te gedenk en ‘n groter bewustheid te help skep.

“Hemofilie en verwante bloedingsversteurings is lewenslange chroniese toestande wat nie genees kan word nie. Dit beïnvloed, onder andere, die liggaam se vermoë om bloed te stol, wat ’n geringe trauma wat nie gewoonlik rede tot kommer sou wees nie, soos ’n stamp of besoek aan die tandarts, in ’n potensieel lewensgevaarlike gebeurtenis kan verander,” verduidelik Cobus. “Omdat dit so seldsaam is, word hemofilie ongelukkig dikwels oor die hoof gesien.”

Cobus het ’n onversadigbare behoefte om ander te help en om, ten spyte van konstante pyn, voortdurend te groei en homself uit te daag. In 2013 het hy homself in die hospitaal bevind, nie in staat om te beweeg nie. In plaas daarvan om moed op te gee, het hy besluit sy liggaam sal nie meer sy tronk wees nie en ten spyte van sy toestand, het hy ongelooflike fisieke prestasies vermag, insluitend om in 2018 die Kilimanjaro met behulp van krukke te klim.

“Toe ek gebore is, was die lewensverwagting van mense met hemofilie 11 jaar,” sê Cobus. “Danksy vooruitgang in medisyne en tegnologie is daar nou ’n verouderende bevolking van hemofilie oor die wêreld heen. Soos ons ouer word, kom ons en ons geliefdes voor ’n nuwe stel uitdagings te staan. My doelwit is om die impak van hemofilie op diegene wat geraak word uit te lig en om as spreekbuis te dien vir pasiënte, gesinne en versorgers wat met dié toestand moet saamleef.”

As lid en ondersteuner van die Suid-Afrikaanse hemofilie-stigting, wil hy graag op Wêreldhemofiliedag alle Suid-Afrikaners aanmoedig om meer oor hierdie toestand uit te vind deur https://haemophilia.org.za/ te besoek.

Cobus se lewensdoel is om individue, sakeleiers en mense met gestremdhede te help. Oor die afgelope dekade het hy saam met honderde individue en plaaslike en internasionale leiers, spanne en organisasies gewerk om goeie prestasies te behaal.

Hy het ’n BBA-graad in bemarkingsbestuur van die IMM Graduate School en is in die proses om sy MBA in bemarking te voltooi aan die Universiteit van Edinburgh. Hy is ook ’n gesertifiseerde meester-vuurloop-instrukteur, ’n gesertifiseerde NLP-lewensafrigter en -afrigter, ’n uitvoerende besigheidsafrigter, en ’n ShadowMatch- en enneagram-fasiliteerder. Daarbenewens het hy onder andere kursusse in toegepaste sportsielkunde, Train the Trainer en geesteskrag voltooi.

Dit is dan ook sy lewenservaring wat hom dryf om ander te motiveer en te inspireer, en om op verskeie professionele arenas sukses te behaal.

Hy is die enigste meester-vuurloper in Suid-Afrika en sy uitvoerende afrigting help gedrewe, kragtige, vooruitdenkende individue om meer impak met minder moeite te bereik.

As ’n wêreldspreker en sakestrateeg gebruik hy sy inspirerende lewensverhaal om individue en besighede te help om hul volle potensiaal te bereik en as spanbou-fasiliteerder gebruik hy ’n verskeidenheid aktiwiteite – van glas- en vuurloop tot plank- en pylbrekery en hoelahoepels – om spanne te help om mekaar beter te verstaan.

Cobus is reeds twee keer met die Men of Valour-toekenning vereer. Hy het ook verskeie persoonlike en professionele mylpale bereik, met die klim van die Kilimanjaro op krukke, en om voor 3 500 mense op die verhoog en 10 000 mense aanlyn te praat, wat sover as hoogtepunte uitstaan.

Hierdie inspirerende man leef sy lewe volgens twee beginsels – #watookalditvat en #leefsonderspyt – en geniet dit om in sy vrye tyd te reis, stap, fliek te kyk en sy horison verbreed deur kort kursusse oor verskeie onderwerpe te voltooi.

Dié geskeide pa van twee woon tans in Centurion, Gauteng.

No comments :

Post a Comment