Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



15.6.20

Wat is hik?

’n Hik word veroorsaak deur ’n herhalende, onwillekeurige vinnige sametrekking van die diafragma. Lug word vinnig ingetrek en die stembande klap vinnig toe. Dit veroorsaak die klank wat ons hoor.

'n Hikaanval duur gewoonlik nie langer as ’n paar minute nie en is gewoonlik nie veel meer as ’n irritasie nie.

Daar is natuurlik die storie van die Amerikaanse boer Charles Osborne (1894-1991). Hy het in 1922 begin hik toe hy ’n swaar vark opgetel het. Hy het aanvanklik 40 keer per minuut gehik. Dit het later afgeneem na 20 keer per minuut. Net as hy slaap het sy hik opgehou. Sy hik het vir 68 jaar lank aangehou, tot 1990, ’n jaar voor sy dood.

Hoe stop jy ’n hik?

Kruie vir kwale: Hik

8.6.20

Vergiftiging deur medikasie - onderdrukmiddels

Vergiftiging deur medikasie vind gewoonlik plaas as gevolg van ’n toevallige oordosis of die misbruik van medikasie. Barbiturate is ’n voorbeeld van ’n verdowingsmiddel wat gereeld misbruik word.

Simptome en tekens
• Die vel sal koud en klam voel.
• Swak en vinnige pols.
• Moontlike bewusteloosheid.

Behandeling
Volg die algemene behandeling vir vergiftiging. Sorg dat die persoon sodra moontlik by ’n hospitaal kom.

1.6.20

Meer water verminder jou kanse op blaasinfeksie

’n Ekstra 1,5 liter water per dag kan ’n vrou se kanse op blaasinfeksie met 48% verminder. Meer as die helfte van alle vroue kla gereeld van blaasinfeksie.

Navorsers vermoed dat die water die vermoë van bakterieë om aan die blaas te heg verminder en dus die bakterieë in die blaas verminder. Aangesien hierdie infeksies tipies met antibiotika behandel word, kan die ekstra vloeistof die gebruik van antibiotika help verminder en sodoende antibiotiese weerstandigheid help beheer.

Simptome vir akute, ongekompliseerde sistitis, ’n soort urienweginfeksie, is pynlike, of probleme met, urinering, ’n gevoel van ’n vol blaas, ’n dringendheid of frekwensie van urinering, sagtheid in die onderbuik, en moontlik bloed in die urine.

Van die wêreld se voorste uroloë was by die studie betrokke wat gepubliseer is in die joernaal JAMA Internal Medicine.

25.5.20

Asemhaling en die asemhalingstelsel

Asemhaling behels die inname van suurstof en die uitlating van koolsuurgas deur die longe. Ons asem sowat 6 liter lug in per minuut, meer as 15 000 liter per dag, afhangende van hoe groot en hoe fiks jy is. Volwasse longe bevat sowat 3 liter lug ten alle tye.

En nou vir ’n stukkie verbysterende statistiek oor asemhaling. Alle suurstof wat jy inasem bly nie in die longe nie. Op molekulêre vlak asem jy sowat sekstiljoen (dis 2,5 x 10 tot die mag 22) molekules suurstof uit. Dit is so baie dat jy gedurende die dag se asemhaling waarskynlik een molekule inasem wat uitgeasem is deur elke persoon wat nog ooit geleef het. So sal elke persoon wat nou leef tot die dag wat ons son die aarde verswelg een van die molekules inasem wat jy uitgeasem het.

Lug kom die liggaam binne deur die boonste lugweë; die mond, neus en lugpyp. Die lugpyp verdeel in twee longpype wat in dunner endlongpype verdeel. Die endlongpype loop na longblasies, klein hol kapsules in die long. Die lugweë verdeel 23 maal wat uiteindelik die totale lengte van ons lugweë op 2400 km te staan bring.

Daar is twee spiere wat help met om die lug in te trek en uit te blaas; die tussenribspiere en die diafragma. Die onderpunte van die long rus op die diafragma. Wanneer ons inasem trek die diafragma die punte na onder en die tussenribspiere laat die borskas uitsit. Lug vloei dan die longe binne. Die brein beheer die tempo waarteen ’n persoon asemhaal. Die beheersentrum vir asemhaling is in die verlengde rugmurg geleë.

Ons longe bevat sowat 700 miljoen mikroskopiese longblasies. Dié hol kapsules is bedek met ’n netwerk haarvatslagaartjies en haarvataartjies. Die klam wande van hierdie aartjies is so dun dat die bloed wat deur die aartjie vloei suurstof kan opneem en koolsuurgas vrystel. Dit is die rooibloedliggaampies in die bloed wat die suurstof en koolsuurgas vervoer. Die proses waardeur die gasse deur die wand van die aartjie beweeg noem ons diffusie.

Die lug wat ons inasem bestaan uit ’n verskeidenheid gasse. Dit bevat ook miljoene stofdeeltjies en mikroskopiese organismes. Die wande van die lugweë is bedek met fyn haartjies, trilhare, wat stof en bakterieë van die longe weghou. Daar is ook ’n slymvoering in die lugweë wat stof opvang. Die lugpype is met kraakbeenringe versterk om te verhoed dat dit toeval.

Elke long is omhul met ’n gesmeerde vel wat ons die longvlies noem. Dit help dat die long maklik kan beweeg tydens asemhaling. Die linkerlong het twee lobbe (afdelings) en die regterlong drie. As jy die binnekant van die longe sou plat neerlê sal dit meer as twee-derdes van ’n tennisbaan bedek. ’n Mens kan met net een long oorleef.

Wat is hik?

18.5.20

Hepatitis D

Die hepatitis D virus kan net vermeerder en versprei in die teenwoordigheid van hepatitis B. Die gevolge van so ’n infeksie is baie erger as wat die pasiënt net hepatitis B onder lede het. Hierdie komplikasies sluit in ’n groter kans op lewerversaking en vinniger vordering tot lewersirrose, met ’n groter risiko om lewerkanker tydens ’n chroniese infeksie te ontwikkel. In kombinasie met die hepatitis B-virus, het hepatitis D die hoogste sterftesyfer van alle hepatitis-infeksies, 20%.

Net soos hepatitis B word die virus oorgedra deur blootstelling aan bloed of liggaamsvloeistowwe. Infeksie om en by die tyd van geboorte of weens kontak kleintyd met ander mense se bloed is die mees algemene manier waarop dit opgedoen word in gebiede waar die siekte algemeen voorkom.

Daar is mediese behandeling beskikbaar vir hepatitis D wat die uitwerking van die virus verminder. Dit werk net in sowat 80% van gevalle.

14.5.20

Die simptome en behandeling van vergiftiging

Sodra gif in ons bloedstroom beland werk dit op verskeie maniere. Sommige gifstowwe tas die sentrale senuweestelsel aan en verhoed asemhaling, hartklop of ander lewensnoodsaaklike prosesse.

Ander gifstowwe werk deur suurstof in die bloed te verplaas en die verspreiding daarvan te verhoed. Sekere gifstowwe wat ingesluk word werk regstreeks in op voedselkanale en veroorsaak pyn, vomering en/of diarree.

Bytende gifstowwe kan die lippe, mond, slukderm en maag ernstig brand.

Simptome en tekens
Die simptome en tekens sal natuurlik wissel na gelang van die aard van die gifstof waaraan die person blootgestel is.
• Die person kan lighoofdig wees en stuiptrekkings kry.
• Daar kan simptome van versmoring aanwesig wees.
• Die person kan bewusteloos raak.
• Die person kan opgooi of diarree hê.
• Daar kan brandwonde rondom die mond wees.

Algemene behandeling
1. Probeer vasstel waaraan die person blootgestel is. Vra die person of omstanders. Kyk vir enige houers.
2. Indien die person bewusteloos is maar normal asem haal, plaas hom/haar in die herstelposisie.
3. Indien asemhaling ophou, begin met resussitasie.
Kry die person so gou as moontlik by ‘n hospitaal. Indien daar houers naby die person gevind is, neem dit saam.

Boereraat:
Vir seekos-vergiftiging: Drink ’n mengsel van gelyke dele suurlemoensap en asyn. Drink agterna getrekte kruisement-water.

♦♦♦

As iemand gif ingekry het meng 1 koppie melk, ½ koppie asyn en 1 teelepel koeksoda in ’n bottel.
Skud die bottel deeglik en gee dan vir die persoon om te drink sodat hulle kan opgooi.
Herhaal die dosis net om seker te maak dat hulle als opgebring het.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

11.5.20

Vergiftiging deur medikasie - Verdowingsmiddels

Vergiftiging deur medikasie vind gewoonlik plaas as gevolg van ’n toevallige oordosis of die misbruik van medikasie. Heroïen is ’n voorbeeld van ’n verdowingsmiddel wat gereeld misbruik word.

By ’n gereelde misbruiker is daar gewoonlik tekens van voortdurende gebruik. Byvoorbeeld merke van spuitnaalde. Verdowingsmiddels word ook in tabletvorm ingeneem of ingeasem.

Simptome en tekens
• Asemhaling is moeilik en kan ophou.
• Naaldmerke op die arms.

Behandeling
Volg die algemene behandeling vir vergiftiging. Sorg dat die persoon sodra moontlik by ’n hospitaal kom.