Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



20.5.19

Drie koppies koffie dalk goed vir die hart

Indien jy sukkel met sogenaamde hartkloppings, dan is dit moontlik dat jou dokter jou al aangeraai het om minder koffie te drink. Nuwe navorsing toon egter dat dit kan dalk goed wees vir jou om ’n beperkte hoeveelheid koffie en tee per dag te drink.

Op die punt moet mens byvoeg, luister ALTYD na jou dokter se raad. Hy of sy het (hopelik) ’n goeie fisiologiese profiel van jou en weet dinge van jou wat inligtingsbronne nie het nie.

In mediese kringe word na hartkloppings verwys as aritmie*. ’n Aritmie veroorsaak dat die hart te vinnig, stadig of oneweredig klop. Sommige arritmieë is skadeloos en sommige sal jy nie eens opmerk nie, maar ander kan die risiko vir ’n skielike hartstilstand verhoog. Atriale fibrillasie, ’n baie algemene vorm, veroorsaak dat die hart vinnig klop, en as dit onbehandel gelaat word, kan dit beroertes veroorsaak. Arritmieë* kan ook in ons are voorkom.

Een koppie koffie bevat 95 mg kafeïen, wat die sentrale senuweestelsel stimuleer. Hierdie kafeïen blokkeer adenosien, ’n chemiese verbinding wat help om atriale fibrillasie te veroorsaak. Die nuwe navorsing toon dat die toename van kafeïen beslis die werking van adenosien verminder en die risiko vir atriale fibrillasie met tussen 6 en 13% verminder.

Die studie het ook bevind dat 9 of meer koppies per dag ander probleme meegebring het in amper 2% van pasiënte met hartprobleme, wie aan die studie deelgeneem het. Wat by laasgenoemde aansluit in ’n mate, is dat die navorsers van die American College of Cardiology aanbeveel dat energiedrankies vermy moet word as gevolg van die hoeveelheid gekonsentreerde kafeïen wat dit bevat.

So hoeveel is veilig? Volgens die navorsers is 300 mg ’n veilige aanbeveling vir die bevolking as geheel. Onthou ook om altyd jou dokter hieroor te raadpleeg, omdat jou mediese profiel mag verskil.

Hierdie studie sluit in ’n mate aan by navorsing waaroor ons 5 jaar gelede berig het: Koppie koffie dalk goed vir jou bloedvate

Die studie is gepubliseer in die Journal of the American College of Cardiology.

* Die spelling van arritmie met een of twee r’e is beide aanvaarbaar in Afrikaans.

13.5.19

Posttraumatiese stresversteuring

Posttraumatiese stresversteuring (PTSV) is ’n sielkundige probleem wat deur ’n traumatiese ervaring veroorsaak word, hetsy deur dit self te beleef of dit te aanskou. Mense verwys gereeld hierna as bomskok.

Dit veroorsaak ‘n ongemak en ‘n inmenging in jou daaglikse lewe. Die lyer word dikwels gekwel deur voortdurende en vreesaanjaende herinneringe aan die traumatiese gebeurtenis. Daar word gereken dat tot tien persent van die populasie geraak word deur PTSV.

Simptome en tekens
Simptome van PTSV kom gewoonlik eers voor binne drie maande na die trauma, maar kan baie langer neem om te manifesteer, selfs jare na die gebeurtenis.

Simptome sluit in vermydingsgedrag, terugflitse, nagmerries en erge angstigheid, asook onbeheerbare gedagtes oor die gebeurtenis. Die persoon vermy gewoonlik enige gedagtes en emosies, en weier om oor die traumatiese gebeure te praat of kan dit dikwels nie onthou nie.

6.5.19

Fobie

’n Fobie is ’n sinlose vrees wat met ’n bepaalde situasie of voorwerp verband hou. Gewoonlik is dit iets wat normaalweg nie vreeswekkend behoort te wees nie. Fobies verskil van gewone vrees daarin dat hulle lank duur en sinloos is en dat die voorwerp of situasie wat die vrees uitlok, vermy word.

Voorwerpe of situasies sluit ’n wye verskeidenheid in, byvoorbeeld ’n vrees vir hoogtes (akrofobie), geslote ruimtes (kloustrofobie), oop ruimtes (agorafobie), water (akwafobie), diere (soöfobie), vuur (pirofobie) ensovoorts. Die voorwerpe en situasies is feitlik onbeperk.



Die vrees vir die getal 13 staan bekend as triskaidekafobie.



29.4.19

Superhelde goed vir jou fobies

Met Avengers: Endgame wat binnekort vrygestel word, het wetenskaplikes ’n interessante onthulling gemaak met betrekking tot Spider-Man en Ant-Man.

Volgens navorsers aan Ariel en Bar-Ilan Universiteite in Israel, help slegs ’n paar sekondes van blootstelling aan hierdie superhelde om die die vrees vir spinnekoppe en miere te verminder.

In terapie vir spesifieke fobies (bv. vir miere en spinnekoppe) word daar dikwels gebruik gemaak van neutrale blootstelling aan ’n stimulus verwant aan die fobie om die irrasionele vrees teen te werk. Navorsers het nou vir die eerste keer hierdie vorm van vermaak gebruik in behandeling en dit het deelnemers se vrees met sowat 20% verminder.

Avengers: Endgame begin binnekort draai en Spider-Man: Far From Home in Julie 2019.

Die vermoede bestaan ook dat die films gebruik kan word in die behandeling van posttraumatiese stres. Die navorsers gaan in ’n volgende studie hierop fokus.

Die navorsing is gepubliseer in die joernaal Frontiers in Psychiatry.

25.4.19

Slaaploosheid

Jou gemoedstoestand bepaal in 'n groot mate jou slaappatroon. Enige emosionele krisis, soos verhoudingsprobleme of siekte, kan 'n negatiewe invloed op jou slaappatroon hê.

Gaan spreek asseblief eerste jou dokter om seker te maak dat daar nie 'n mediese verklaring vir jou slaaploosheid is nie.

Boereraat:

Drink een koppie warm melk gemeng met een eetlepel heuning net voor jy gaan slaap.

♦♦♦

Derek Botha: 'n Uitstekende raat vir meeste slapeloosheidsgevalle: drink 1 tot 8 x 600 mg kapsules l-ornithine aminosuur poeier net voor jy in die bed klim. Dit gee sommer baie energie die volgende dag ook. Dis nie gewoontevormend nie, so jy kan dit daagliks gebruik.

(foto Naraosga)


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

23.4.19

Masels

Wanneer jy masels begin kry voel dit soos ´n verkoue, jou oë is rooi en geswel, jou hoes is hees en skor, jy is koorsig en mag opbring. Die simptome duur vir ongeveer 4 dae voor die uitslag kom.

Die uitslag begin normaalweg in die gesig en versprei dan na die nek en bors en dan na die hele liggaam. Soms is die gesig taamlik geswel. Die uitslag duur sowat 3 dae. Die uitslag droog weg. Gedurende die uitdroging kan maagwerking voorkom.

Gaan sien jou dokter onmiddelik as die uitslag donker en purperagtig is.

Drink koue water gedurende eerste 4 dae. Vermy sterk gegeurde kos gedurende hierdie tyd. Hou jou kamer donker, maar sorg vir genoeg ventilasie.

15.4.19

Hipotermie by babas

Babas kan aan hipotermie ly aangesien hulle probleme het om hul liggaamstemperatuur te reguleer.

’n Baba met hipotermie kan gesond lyk. Mens moet oplet na die gedrag.

Simptome en tekens
• Die baba is ongewoon stil, slaperig en slap.
• Die baba wil nie eet nie.
• Gewoonlik is die gesig, hande en voete helderpienk en het ’n gesonde voorkoms.

Sien Hipotermie vir behandeling.