Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



7.1.19

Leukemie

Leukemie is 'n tipe kanker. Die onbeheersde verdeling van kankerselle veroorsaak dat normale witbloedselle, rooibloedselle en plaatjies uit die beenmurg verdring word.

Verskeie faktore speel 'n rol in die ontstaan van leukemie. Navorsing het bewys dat genetika 'n oorheersende rol speel in die ontwikkeling van die siekte. 'n Persoon wat tot 'n familie behoort waar iemand leukemie gehad het, het 'n genetiese pre-disposisie om ook die siekte te ontwikkel.

Akute leukemie kom algemeen voor in persone onder die ouderdom van 20. Chroniese leukemie tas gewoonlik slegs volwassenes bo die ouderdom van 40 jaar aan. Dit is ook bewys deur navorsing dat meer mans as vrouens geneig is om leukemie te ontwikkel, hetsy akuut of chronies.

Die behandeling van akute leukemie geskied hoofsaaklik in drie fases. Tydens fase 1 word die pasiënt behandel met chemoterapie wat die selle vernietig. Sodra bepaal is dat al die kwaadaardige (maligne) selle vernietig is, verkeer die pasiënt in 'n toestand van remissie.

In fase 2 word lae dosisse chemoterapie toegedien om te keer dat die pasiënt nie weer maligne selle ontwikkel nie. Fase 3 word die instandhoudingsfase genoem. Pasiënte word deurgaans gemonitor oor 'n tydperk van 'n paar jaar om te verseker dat die pasiënt in remissie bly. Die pasiënt sal elke paar maande vir 'n lumbale punksie gaan om te kyk of daar enige abnormale selle teenwoordig is. Indien daar weer abnormale selle teenwoordig is, word weer begin by fase 1. Pasiënte moet ook dopgehou word vir enige kliniese tekens wat kan dui op die ontstaan van akute leukemie.

Pasiënte wat chroniese leukemie ontwikkel, is gewoonlik baie ouer. Chroniese leukemie het ook nie 'n merkwaardige uitwerking op die gesondheid van die pasiënt nie. Dokters verkies om nie pasiënte met chemoterapie (sitostatiese middels) te behandel nie. Behandeling word hoofsaaklik gegee om simptome te verlig.

Chroniese leukemie word hoofsaaklik behandel met bloedoortapping. Pasiënte is geneig om baie anemies te raak, wat veroorsaak dat hulle geweldig moeg is. Gereelde bloedtransfusies bring verligting van simptome.

17.12.18

Elektriese brandwonde

Hierdie tipe brandwond kom voor wanneer elektrisiteit met ’n sterk spanning en stroom deur die liggaam gaan.

Die meeste skade kom voor naby die ingangs- en uitgangspunte. Hoewel slegs ’n klein brandwond sigbaar kan wees kan die skade aan die onderliggende weefsel aansienlik meer wees. Dit kan ook die asemhaling en hartklop beïnvloed.

Moet nie die persoon nader nie, tensy jy seker is die elektrisiteit is afgeskakel.

Simptome en tekens
• Rooiheid, swelsel, verskroeiing en verkoling naby die ingangs- en uitgangspunte.
• Moontlik bewusteloos.
• Asemhaling en hartklop kan ophou.
Simptome en tekens van skok.

Behandeling
1. Plaas ’n steriele wondbedekking van skoon nie-donsige materiaal op die wond. Maak dit met ’n verband vas.
2. Behandel vir skok.
3. Begin met kunsmatige asemhaling indien nodig.
4. Plaas die persoon in die herstelposisie indien bewusteloos.
5. Kry die persoon by ’n hospitaal sodra moontlik.

MOENIE wasmiddels of salf aanwend nie.
MOENIE blase stukkend maak of los vel verwyder nie.

13.12.18

Kruie vir kwale: Omlope

Maak ’n pasta van gelyke dele heuning en kaneel.
Smeer soggens en saans aan die omlope.
Gebruik vir ten minste twee weke.

♦♦♦

Kruisement-olie help vir omlope. Masseer 'n druppel olie aan die area.

♦♦♦

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

10.12.18

Proteïene in vleis dalk nie goed vir jou nie

’n Studie deur navorsers in die VSA en Frankryk het bevind dat vleis-proteïene geassosieer word met verhoogde risiko vir hartsiektes, terwyl proteïen van neute en sade voordelig vir die hart is.

Die belangrike bevinding was dat mense wat groot hoeveelhede vleis-proteïene verbruik ’n toename van 60% in kardiovaskulêre siektes ervaar, terwyl diegene wat groot hoeveelhede proteïen van neute en sade gebruik se kanse met 40% verlaag.

Dieetkundiges verwys al lank na die “slegte vette” in vleis en “goeie vette” in sade en neute, maar die nuwe navorsing wys op iets meer. Die proteïene van beide blyk ook ’n belangrike rol te speel in die biologiese prosesse.

Die navorsing is gedoen deur die Loma Linda University School of Public Health in Kalifornië en AgroParisTech en Institut National de la Recherche Agronomique, beide in Parys, Frankryk. Dit is gepubliseer in die joernaal International Journal of Epidemiology.

3.12.18

Hodgkin se limfoom / siekte

Hodgkin se siekte is ’n tipe kanker. Dit begin in limfositiese selle in die immuunstelsel en beïnvloed die limfkliere en limfweefsel.

Simptome:
• Vergrote limfklier in die nek, oksels of lies.
• Gewigsverlies
• Koors
• Sweet
• Swakheid

19.11.18

Tandvleisontsteking

Tandvleisontsteking word veroorsaak deur stukkies kos wat om die tande saampak.


Die tandvleis raak gevoelig en geswel. Normaalweg het dit ’n pienk kleur. Dit kan selfs bloei wanneer jy jou tande borsel.

Dit raak baie ernstig wanneer jou tandvleis begin doodgaan. Jou asem ruik dan gewoonlik sleg.

Die membraan wat in die tandholte is kan beskadig word en veroorsaak dat die tand los raak. Die toestand staan bekend as periodontitis.

Om dit te verhoed moet jy gereeld tande borsel en flos.

’n Algemene manier om pyn en ongemak van tandvleis siekte te verlig is om jou mond te spoel met ’n mengsel van warm water gemeng met sout.