Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



4.7.18

Omega-3 van vis die beste teenvoeter vir kanker

Omega-3 wat verkry word van vis is ’n baie beter teenvoeter teen kanker as dié wat verkry word van vlassaad en ander olies. Dit is die bevinding van ’n onlangse studie aan die Universiteit van Guelph in Kanada.

Hulle bevinding was dat mariene-gebaseerde omega-3’s agt keer meer effektief is om tumorontwikkeling en -groei te inhibeer. Aggressiewe borskanker is getoets om die uitwerking van die verskillende omega-3’s te bepaal.

Vis wat heelwat omega-3’s bevat is salm, makriel, haring, forel, sardyne en tuna. Twee tot drie porsies van enige van hierdie vis per week word aanbeveel.

Die studie is gepubliseer in die Journal of Nutritional Biochemistry.

20.6.18

Jou liggaamsmassa-indeks

Die liggaamsmassa-indeks (LMI) is ’n nuttige manier om liggaamsgewig en -gesondheid te bepaal.

Dit moet egter nie gebruik word as die enigste maatstaf vir jou gesondheid nie. LMI kan byvoorbeeld ’n liggaamsbouer te vet laat lyk of ’n ouer persoon te maer. Dit is ook nie 'n goeie maatstaf vir kinders nie.

Om jou eie LMI te bepaal moet jy die kwadraat van jou lengte in meter (lengte maal lengte) deel deur jou gewig in kilogram. Dit is jou LMI. As jou LMI onder 18,5 is, word jy gereken as ondergewig. Bo 25 beteken jy’s oorgewig en bo 30 beteken jy is vetsugtig.

11.6.18

Klere wat brand

Brandwonde weens oop vure kom algemeen voor by Suid-Afrikaners wat so lief is vir oop vure. Wanneer ’n persoon se klere aan die brandslaan moet jy vinnig optree om te sorg dat die skade beperk word.

Mense is geneig om buitentoe te hardloop as hul klere by ’n binne-braai of kaggel vlam vat. Keer hulle, want beweging of wind buite sal die vlamme aanhelp. Laat die persoon dadelik lê om te verhoed dat die vlamme opwaarts reik. Moenie dat die persoon op die grond rol nie, dit kan veroorsaak dat die vlamme versprei na ander kledingstukke op die liggaam. Blus die vlamme met water. As daar nie water byderhand is nie, maar dik NIE-VLAMBARE materiaal, kan jy die persoon daarin toedraai om die vlamme te smoor.

4.6.18

Suiwer vrugtesap nie sleg vir bloedsuikervlakke

Suiwer vrugtesap het nie ’n beduidende effek op bloedglukose of insulienweerstandigheid nie.

Dit is die bevindings van onlangse navorsing gepubliseer in die Journal of Nutritional Science. Die bevindings is in ooreenstemming met vorige navorsing wat aandui dat 100% vrugtesap nie verband hou met ’n verhoogde risiko van die ontwikkeling van tipe 2-diabetes nie, en ondersteun groeiende bewyse dat 100% vrugtesap geen beduidende effek op glukemiese beheer het nie.

30.5.18

Peniskanker

Peniskanker is ’n kwaadaardige groeisel aan die vel of weefsel van die penis.

Soos baie ander kanker kan peniskanker deur die liggaam versprei. Dit is gewoonlik die primêre bron van kanker, wat beteken die kanker ontstaan in die penis. Dit is selde ’n sekondêre kwaadaardigheid, wanneer die kanker van ’n ander plek na die penis versprei. Die menslike papilloomvirus (MPV) kom voor in tot 40 persent van peniskankergevalle.

Peniskanker kom selde voor by mans jonger as 50 jaar. Sowat vier uit elke vyf mans wat daarmee gediagnoseer word, is ouer as 55.

Simptome en tekens
• Die penis het ’n rooi kleur.
• Die penis het ’n uitslag.
• Die penis het ’n afskeiding met ’n slegte reuk.
• Die penis pyn.
• Daar is ’n groeisel of seerplek aan die penis wat nie binne vier weke gesond word nie (dit kan soos ’n vrat, sweer of blaas lyk; dit kan seer wees of nie).
• ’n Deel van die penis bloei.
• Die penis se kleur verander.
• Die voorhuid vernou.

Risikofaktore
Infeksies
MIV-positiewe mans se kans om peniskanker te kry is agt keer so groot as ander mans s’n.
Die menslike papilloomvirus is ’n groot faktor in die ontwikkeling van dié kanker. Genitale vratte verhoog die kans van peniskanker met tot 3,7 keer as dit langer as twee jaar voorgekom het. Sowat die helfte van mans met peniskanker het ook genitale vratte, wat deur MPV veroorsaak word.

Higiëne en beserings
Swak higiëne kan die kans op peniskanker vergroot. Smegma, ’n kombinasie van afgeskeide stukkies vel en olie wat onder die voorhuid kan saampak, word verbind met ’n groter voorkoms van peniskanker.

Infeksie van die van die penis en ’n besering van die penis word verbind met ’n kans op peniskanker van sowat 3,1 keer dié van ander mans. Infeksie word gewoonlik veroorsaak deur swak higiëne, ’n allergiese reaksie op sekere seepsoorte of ’n onderliggende gesondheidstoestand soos reaktiewe artritis of diabetes. Klein skeurtjies en skaafwonde aan die penis word verbind met ’n verhoogde kans van 3,9 keer.

Siekte
Ligeensklerose, ’n siekte waar die vel wit verkleur, is ’n risikofaktor. Die presiese oorsaak van die siekte is onbekend en daar is dus geen bekende manier om dit te voorkom nie.

Mans met psoriase wat met UV-lig en ’n middel bekend as psoralen behandel is, het ’n groter kans op peniskanker.

Rook
Rook of die kou van twak verhoog die kans op peniskanker met tot ses keer, na gelang van hoeveel en hoe lank die persoon gerook het.

Voorkoming
Inenting teen MPV kan die risiko op MPV en dus peniskanker verlaag. Die gebruik van kondome kan waarskynlik ook help om iemand teen MPV-verwante peniskanker te beskerm. Verder kan goeie genitale higiëne – die daaglikse was van die penis, skrotum en voorhuid met seep – die kans op balanitis en dus peniskanker verklein. Om op te hou rook kan ook die risiko verklein.

Voorhuidvernouing kan voorkom word deur die toepassing van behoorlike higiëne en die terugtrek van die voorhuid oor die penis se kop op ’n gereelde grondslag. Parafimose kan voorkom word deur die voorhuid nie vir lang tydperke teruggetrek te hou nie.

Behandeling
Verskeie soorte behandeling is beskikbaar na gelang van die stadium van die kanker. Dit sluit in chirurgie, bestraling, chemo- en biologiese terapie. Die gewas en van die omringende weefsel kan ook verwyder word, die kankerselle kan met laserlig weggebrand word, die voorhuid kan besny of die penis of ’n deel daarvan weggesny word.

Meer gevorderde kankers kan ’n kombinasie van chirurgie, bestraling en chemoterapie vereis.

28.5.18

Hierdie dieet help verhoed dat ouer volwassenes verswak

’n Ontleding van alle gepubliseerde studies oor die onderwerp dui aan dat die Mediterreense dieet moontlik kan help verhoed dat ouer individue verswak. ’n Mediterreense dieet bestaan hoofsaaklik uit plantgebaseerde kosse – soos vrugte, groente, graan, peulgewasse en neute.

Dit is al hoe meer algemeen dat mense erg verswak met ouderdom. Hierdie persone het gewoonlik min energie, verloor gewig en min krag in hulle spiere. Hulle is ook meer geneig om gesondheidsprobleme te ontwikkel, frakture op te doen, gehospitaliseer te word, in ’n verpleeginrigting geplaas te word, gestremdheid of demensie te ontwikkel, of voortydig te sterf. Oor die algemeen word hierdie verswakking geassosieer met ’n laer lewenskwaliteit.

Voeding speel ’n uiters belangrike rol om hierdie kwesbaarheid te help voorkom. Britse navorsers het bevind dat diegene wat ’n Mediterreense dieet volg oor vier jaar of langer se kanse ’n verstommende 50% minder is om ernstig te verswak met veroudering. Die navorsers het opgemerk dat die Mediterreense dieet ouer individue kan help om spierkrag, gewig en energievlakke te handhaaf.

Die bevindings is vroeër vanjaar gepubliseer in die Journal of the American Geriatrics Society gepubliseer.

23.5.18

Sofapokkels kan hartprobleme vermy deur te begin oefen

Vir middeljarige sofapokkels (couch potatoes) is daar altyd die risiko van hartversaking as gevolg van jare staties wees voor die televisie. Daar is egter nou hoop met navorsing wat toon dat twee jaar van gereelde aërobiese oefening hierdie risiko kan verminder, of selfs die skade kan herstel.

Aërobiese oefening is volgehoue aktiwiteite soos stap, swem, hardloop en soortgelyke aktiwiteite wat die hart en ander spiere versterk en die liggaam help om suurstof meer effektief te gebruik.

Statiese gedrag, soos om lang tydperke te sit, verhoog die risiko dat die hartspier krimp en verstyf op ’n middeljarige ouderdom, wat die risiko van hartversaking aansienlik verhoog. Vorige studies het getoon dat elite-atlete, wat 'n leeftyd lank met 'n hoë intensiteit oefening geoefen het, se hart en bloedvate aansienlik minder verouder het.

Deur twee tot drie keer ’n week te oefen doen nie veel om jou hart te beskerm nie. Vier tot vyf keer ’n week is egter baie effektief, volgens die studie. Dit is dus belangrik dat so ’n oefenprogram deel van jou daaglikse roetine word. So ’n program moet ten minste een lang sessie insluit (minimum een uur) en ten minste een hoë-intensiteit aërobiese sessie.

Dit is belangrik om voor jou laat middeljare te begin, as die hart nog goeie plastisiteit het, wat dit in staat stel om makliker te verander.

Die studie is gepubliseer in die joernaal Circulation.

(Hier artikel is bygedra deur Quintus van Rensburg, ’n ASA-gesertifiseerde afrigter in Bellville. -> bellvilleac.co.za)