Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



30.8.17

Sleutelbeenfrakture

’n Sleutelbeenfraktuur kom gewoonlik voor as jy op jou skouer val of op ’n uitgestrekte hand aan daardie skouer se kant.

Simptome en tekens
• Pyn op die plek van die besering. As jy beweeg voel dit erger.
• Jy wil glad nie die ledemaat aan die beseerde kant beweeg nie.
• As jy die arm aan die beseerde kant by die elmboog stut, kan jy jou kop in die rigting van die beseerde kant skeef hou en sodoende die pyn verlig.
• Swelsel of misvormdheid kan by die plek van die fraktuur gesien of gevoel word.

Neem die persoon na ’n hospitaal.

23.8.17

Spinasie is goed vir jou ... en avokado en eiers

Spinasie is lank reeds ’n gunsteling vir diegene wat fisies fiks wil bly, maar navorsers aan die Universiteit van Illinois het nou bevind dat dit ook jou brein gesond hou.

Die navorsing het bevind dat middeljarige persone met hoë vlakke van luteïen, ’n voedingstof wat in groen blaargroente soos spinasie voorkom, se breinfunksies is soortgelyk aan die van jonger persone. Ander bronne van luteïen is avokado’s en eiers.

Soos ons ouer word gaan ons breinfunksies agteruit. Die eerste tekens hiervan kan reeds in ons dertigs gesien word. Dit lyk asof luteïen hierdie agteruitgang vertraag.


Die navorsers, professor Naiman Khan en Anne Walk.

(Die studie is gepubliseer in Frontiers in Aging Neuroscience)

(foto: L. Brian Stauffer)

21.8.17

Maagkanker

Daar is 4 faktore wat jou kanse vergroot om maagkanker te ontwikkel:

1. As jy deel van die A-bloedgroep is.
2. As jy geneig is om maagsere te ontwikkel.
3. As jou dieet nie genoeg vrugte en groen en geel groente bevat nie.
4. As jy te veel sout eet.

16.8.17

Frakture van die ribbes en borsbeen

’n Harde hou of val veroorsaak gewoonlik ’n gekraakte of gebreekte rib of borsbeen.

Simptome en tekens
• Pyn op die kraak/breuk, wat vererger word deur asemhaling of hoes
• Wees ook op die uitkyk na moontlike inwendige bloeding of ’n oop wond

Kry die persoon by ’n hospitaal. Indien moontlik, laat die persoon regop sit op pad soontoe.

14.8.17

Plaasdiere beskerm plaaskinders teen asma en allergieë

Dit is ’n alombekende feit dat die mikrobes wat mens op plase teëkom die plaaskinders beskerm teen asma en allergieë. ’n Mikrobe is ’n eensellige, lewende organisme. As ons na hulle verwys praat ons gewoonlik van kieme of bakterie.

Immunoloë aan die Universiteit van Zürich het nou bewyse gekry dat selfs nie-mikrobiese molekules ’n beskermende effek hê. Hulle het getoon dat ’n spesifieke suur wat in plaasdiere voorkom effektief gebruik kan word teen inflammasie van menslike longweefsel. Hierdie studie bied nou nuwe moontlikhede vir die voorkoming van allergieë.

Al hoe meer mense ly aan allergieë en asma. In die afgelope dekades het hierdie siektes grootliks toegeneem in geïndustrialiseerde lande. Vandag het ongeveer 30 persent van alle kinders allergieë - met die uitsondering van plaaskinders. Onder plaaskinders kom dié siektes heelwat minder voor, in vergelyking met die dorpskinders van dieselfde omgewing. Daar is ’n groter voorkoms en verskeidenheid van mikrobes op plase. Die mikrobes beskerm plaaskinders teen allergieë en asma. ’n Omgewing wat nie hoogs higiënies is nie, soos ’n plaas, het 'n positiewe uitwerking op die ontwikkeling van die kind se immuunstelsel. Die immuunstelsel leer nie aan om te reageer op onskadelike stowwe nie, soos wat gebeur in die geval van allergieë.

Die navorsers het bevind dat deur, byvoorbeeld, vars melk op die plaas te drink en met katte te speel beskerm kinders teen sekere siektes. Kontak met diere op n jong ouderdom en die gebruik van voedsel afkomstig van diere (bv. melk) help om die inflammatoriese reaksies van die immuunstelsel beter te reguleer. Die mechanism wat hier ’n belangrike rol speel is die nie-mikrobiese suur, wat volop voorkom in gewerweldes, hoewel nie in die mens nie.

Meer as 1 000 kinders is in die studie betrek en die resultate het duidelik getoon dat plaaskinders meer teenliggame in hul bloed het en heelwat minder ly aan asma en allergieë.

(Hierdie studie is onlangs gepubliseer in die Journal of Allergy and Clinical Immunology)



(foto: UZH)

7.8.17

Afrika plant bied hoop vir die behandeling van Alzheimer se siekte

’n Plantekstrak uit Afrika kan die basis word van nuwe medikasie vir die behandeling van Alzheimer se siekte.

Navorsers aan die Universiteit van Nottingham het bevind dat die ekstrak, geneem van die blare, stam en wortels van Carpolobia lutea, kan help om die chemiese oordragstowwe in die brein te beskerm. Hulle verwys spesifiek na oordragstowwe wat ’n rol speel in leer en die geheue. Dit word reeds vir eeue lank in tradisionele medikasie (lees boererate) in Nigerië gebruik.

In pasiënte met Alzheimer se siekte en ander soortgelyke siektes, soos Parkinson se siekte, word effektiwiteit van die oordragstof asetielcholien verminder. Die gevolg is dat lyers probleme begin ervaar met hul geheue en om aandag te gee. Die navorsers het bevind dat die plant die afbreek van asetielcholien help verhoed.

Carpolobia lutea staan in Nigerië bekend as “veestok” (’n stok waarmee jy vee aanjaag). Tradisionele geneeshere gebruik dit vir die behandeling van verskeie infeksies. Daar word vermoed dat dit oor die algemeen goeie antiinflammatoriese eienskappe besit. Daar is juis al hoe meer navorsing wat daarop dui dat Alzheimer se siekte waarskynlik ’n tipe inflammasie van die brein is.

2.8.17

Lip-kanker

Lip-kanker was een van die eerste tipes kanker wat meer as 200 jaar gelede met ’n eksterne oorsaak verbind is. Daar is opgemerk dat dit hoofsaaklik in pyprokers ontstaan.

Baie jare later is besef dat die siekte ook op ander maniere geproduseer kan word en dat dit deur die chemikalieë in rook geproduseer word, eerder as deur die nie-spesifieke effek van hitte. Dit is ook veel meer algemeen in buite- as binnenshuise werkers en word deur ultraviolet lig op dieselfde manier as ander kankers van die blootgestelde vel geïnduseer.

Die siekte is vandag veel minder algemeen as wat dit was, as gevolg van die afname in pyprook en buitelug-werk.