Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



13.10.16

Allergiese neusontsteking

Omtrent 10% van ons sukkel met hierdie tipe neusontsteking. Dit is gewoonlik seisoenaal en gaan saam met oogontsteking.

Die mees algemene oorsake is stuifmeel van gras, bome en onkruid. Ander oorsake sluit in stofmyte en troeteldiere.

Die toestand kan vererger as bakteriële infeksie plaasvind as gevolg van die afskeidings uit die neus.

Simptome en tekens
Nies
’n Verstopte neusgat/ e wat afgewissel word met ’n loopneus
Jeukerige neus en oë
Droë of tranerige oë
Rooi oë

Die beste behandeling vir hierdie tipe allergiese reaksie is om die oorsaak te vermy, maar dit is ongelukkig selde prakties. Daar is ’n verskeidenheid antihistamiene en neussproei wat gebruik kan word.

7.10.16

Geswelde kliere

Boereraat:

Gebruik warm kompresse om geswelde kliere te behandel. Doop sommer ’n waslap in warm water, wring dit uit en hou dit op die geswelde kliere.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

6.10.16

Sweer

’n Sweer is ’n etterende wond. Dit is verkieslik dat ’n dokter dit behandel, want as daar infeksie ontstaan kan dit ernstige gevolge inhou.

Boereraat:

Hou die sweer ’n rukkie in sterk soutwater. Smeer dan vaseline aan. Hou aan met die behandeling tot die sweer gesonder begin lyk.

♦♦♦

Maak 'n pap van semels. Sit nou 'n mespunt koeksoda by. Smeer dik op die lap en maak dan in die middel 'n holte. Gooi die holte vol brandewyn. Sit so warm as moontlik op die sweer. Sodra dit afgekoel het, dan vervang jy dit met 'n nuwe pleister. Die brandewyn moet altyd in die holte gegooi word. en nie in die pleister ingeroer word nie anders verdamp dit net.

♦♦♦

Klits 2 eiergele en 1 eetlepel heuning en 'n bietjie meel saam tot 'n pasta. Smeer op 'n skoon linnelap en sit op die seerplek. Dit sal die sweer ooptrek.

♦♦♦

Gooi 2 eetlepels Engelse sout in 750 ml kookwater. Gooi dit dan in n houer waarin jy die wond kan doop. Hou die seerplek daarin - so warm as wat jy dit kan verdra. Hou dit ook lank in die water. Jy moet aanhou tot die swelsel sak en die sweer plooierig word.
Maak nou 'n linnelappie nat in rou lynolie of kasterolie en plaas dit op die wond. Verbind dit met 'n warm lap en laat net so vir 6 uur.
Herhaal die proses indien nodig.

♦♦♦

Doop ’n ou linnelap in brandewyn en wring die vloeistof uit. Sit die lap op die sweer en hou aan natmaak in die brandewyn tot die sweer ryp is.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

5.10.16

Behandeling van koronêre verstopping

1. Indien die persoon by sy / haar bewussyn is, ondersteun die persoon versigtig in ’n halfsittende posisie agter die kop en skouers en met die knieë effens gebuig.

2. Maak stywe klere rondom die nek, borskas en middel los.

3. Indien die persoon bewusteloos is, maar normaal asemhaal, plaas die persoon in die herstelposisie.

4. Indien die asemhaling en hartklop ophou, begin onmiddellik met resussitasie.

5. Behandel vir skok.

6. Toets die asemhalingstempo en bewussynsvlak elke 10 minute.

7. Die persoon moet sodra moontlik by ’n hospitaal kom.



3.10.16

Anafilakse

Anafilakse is ’n ernstige allergiese sensitiwiteit vir ’n stof. Wanneer ’n lyer met die stof in aanraking kom bring dit ernstige skok teweeg. Dan praat ons van anafilaktiese skok – in sekere gevalle kan dit tot die dood lei.

Stowwe wat oor die algemeen hierdie toestand teweegbring is: sekere antibiotika, veral penisillien; inseksteke, veral van bye en perdebye; voedselallergieë, veral seekos en neute; en medikasie. Wat medikasie betref moet lyers versigtig wees vir aspiriene, nie-sterïodale antiinflammatoriese medikasie, opiate wat ingespuit word en bloedprodukte, soos byvoorbeeld immunoglobien.

Simptome en tekens
• Nies
• Loopneus
• Swaar asemhaling
• Maagpyn
• Naarheid
• Braking
• Diarree
• ’n Metaalagtige smaak in die mond
• Branderige en jeukerige oë
• Afskeidings uit die oë
• Vinnige polsslag
• Versteurde hartritme
• Lae bloeddruk

Die stof moet so gou as moontlik van / uit die persoon verwyder word.

Medikasie wat van tyd tot tyd gebruik kan word om die toestand te help beheer sluit in kortikosteroïede en antihistamiene. Lyers dra ook gewoonlik adrenalieninspuitings by hulle.



(foto: Greg Friese)

28.9.16

’n Koronêre verstopping

’n Koronêre verstopping is een van die mees algemene oorsake van ’n hartaanval.

Simptome en tekens
• ’n Skielike, beklemmende pyn in die middel van die borskas – nie te verwar met slegte spysvertering nie. Hierdie pyn versprei na die arms, keel, kakebeen of rug.
• ’n Skielike lighoofdigheid wat veroorsaak dat die persoon val of gaan sit of teen iets moet leun vir ondersteuning.
• Die vel kan bleek wees en die lippe en ander ekstremiteite kan blou word.
• Die persoon kan erg sweet.
• Die persoon kan kortasem wees.
• Daar is dalk ’n vinnige pols aanvanklik wat al swakker word en ook ongereeld kan word.
• Die persoon kan bewusteloos raak.
• Die asemhaling en hartklop kan ophou.
• Wees ook bedag op simptome en tekens van skok