Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



13.6.16

Kraam in weelde met ’n vroedvrou

Kristalkandelare en dubbelbeddens met lakens van Egiptiese katoen is nie iets wat jy gewoonlik in 'n hospitaal teëkom nie. Swanger vrouens wat verkies om natuurlik geboorte te skenk met behulp van 'n vroedvrou kan hulle egter eersdaags by 'n nuwe kraamhospitaal in Panorama laat opneem, waar dié luukshede aan die orde van die dag is.

9.6.16

Waterblaas / Blaar / Blase

Blase is die natuur se manier om beskadigde dele van die vel te beskerm. Hulle ontstaan weens brand en / of wrywing.

Die vloeistof in 'n blaas is steriel en kom van die onderliggende bloedvate. Dit beskerm die beskadigde vel teen infeksie.

Dit is belangrik om nie 'n blaas oop te steek nie, maar op 'n natuurlike manier te laat genees.

Boereraat:

As jy 'n blaas het op jou hak, klits die wit van 'n eier en smeer dit op die hak.



(foto Johannes Hemmerlein)

8.6.16

Die gebruik van teengif in noodgevalle

Let wel dat teengif nie aanbeveel word as roetine-eerstehulpbehandeling nie. Ernstige komplikasies kan ontstaan as gevolg van teengif wat onnodig toegedien is.

In ’n noodgeval waar die persoon bewusteloos is of moeilik asemhaal en ’n lang vertraging verwag word kan die inhoud van die teengifampulle toegedien word deur middel van ’n diep binnespierse inspuiting in die buitekant van die dy.

Dit is belangrik om te weet dat kinders erger ly as volwassenes en net soveel teengif nodig het.

Sorg altyd dat die persoon sodra moontlik by ’n hospitaal kom.

6.6.16

Goeie spysvertering

Ek is oortuig daarvan dat goeie spysvertering die groot geheim van die lewe is. – Sydney Smith

1.6.16

Die behandeling van ’n slangbyt

1. Stel die persoon gerus en hou hom / haar rustig aangesien oefening die tempo verhaas waarteen die gif opgeneem word.

2. Vee die gif van die wond af.

3. Draai ’n breë rolverband stewig om die aangetaste ledemaat. Begin by die hand / voet en draai die verband so hoog as moontlik om die ledemaat. Moet nie die bloedsirkulasie geheel en al belemmer nie.

4. Vervoer die persoon op ’n draagbaar indien moontlik en hou sy / haar asemhaling dop.

5. Kobras en rinkhalse kan gif tot 7 meter vêr spoeg en indien dit in die oë beland kan dit kwaai pyn, swelsel en tydelike blindheid veroorsaak. Die oortollige gif moet afgevee word en die oog met baie water uitgewas word.

30.5.16

Belangrike mediese tellings

• Bloedtelling: Tussen 150 tot 400
• Normale bloeddruk - 120/80
• Normale bloedsuiker - 3.3 tot 5.9 mmol/l
• Normale cholesterol: 5 mmol/L of laer

25.5.16

Slangbyt

Suid-Afrika is die tuiste van ongeveer 120 slangspesies. Hiervan is slegs 30% giftig en min van hulle sal mense kwaad doen.

Die meeste slange is nie aggressief nie en sal slegs byt as hulle bedreig voel of hardhandig behandel word. Seeslange byt selde.

Dit is belangrik om ’n dooie slang na die hospitaal te neem. Dit kan die dokter help om ’n gepaste teengif te gebruik. Moet egter NOOIT ’n slang ondersoek tensy jy doodseker is dit is dood nie. ’n Kobra en ’n rinkhals kan baie realisties voorgee dat hulle dood is. Moet ook NOOIT aan ’n slang se tande raak nie. Dit is skerp en gevaarlik.

Klassifikasie van slange volgens die uitwerking van hul gif

Tas die senustelsel aan

Die gif van kobras, mambas en rinkhalse is uiters gevaarlik omdat dit vinnig opgeneem word. Dit veroorsaak 1) onduidelike spraak, 2) spierswakheid (soos ooglede wat hang), 3) moeite om te sluk (speeksel loop uit die mond) en 4) swaar asemhaling.

Beskadig weefsel

Die gif van adders veroorsaak ernstige skade aan die weefsel by die bytplek. Een gevolg is skok weens verlies aan vloeistof uit die weefsel. Die vel en omliggende spiere gaan dikwels dood en dit lei tot groot wonde wat gewoonlik besmet is.


Tas bloedstolling aan

Die boomslang en bergadder se gif het ’n uitwerking op bloedstolling en kan spontane bloeding tot gevolg hê.