Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



9.7.15

Tong

Die doel van die tong is om te help met spraak, om te proe en dit speel 'n belangrike rol in die spysverteringstelsel van die mens.

Dit is dus belangrik om jou tong in 'n goeie toestand te hou.

Boereraat:

As daar ’n aanpaksel op jou baba se tong is, kan jy dit afvee met ’n lanferlappie wat in flou tee gedoop is. Doen dit 3 maal per dag. Wat is ’n lanferlappie? Lanfer is ’n dun swart materiaal met ’n kreukeloppervlak. Dit was vroeër jare veral gewild as ’n rouband om ’n mou of hoed.

foto: Martin Kronawitter

8.7.15

Nuwe behandeling vir polisistiese niere

’n Nuwe behandeling wat klein bloed- en limfvate in niere teiken lyk belowend vir die behandeling van polisisties niere.

Polisistiese niere is 'n oorerflike siekte waar die baba gebore word met veelvuldige siste op die niere. Dit is die mees algemene niersiekte in die wêreld.

Tradisioneel behels behandeling van die siekte dat die proteïen wat dit veroorsaak geteiken word. Dit genees nie die siekte nie, maar verlig die simptome effens. Volgens ’n studie gepubliseer in die Journal of the American Society of Nephrology is daar bewyse dat die bloed- en limfvatstelsel om die siste tydens die ontwikkeling van die siste geteiken kan word en dat dit die nierfunksie kan verbeter.

Die navorsing is gedoen aan die Universiteit van Manchester in Brittanje.

1.7.15

Groot voorwerp in ’n wond

As daar ’n groot voorwerp in ’n wond vassit moet jy dit nooit probeer verwyder nie. Dit kan as ’n prop dien wat bloeding beperk. ’n Groot voorwerp is enigiets wat nie maklik afgevee of afgespoel kan word nie.

Behandeling:
1. As daar erge bloeding is, moet jy die rande van die wond langs die voorwerp teen mekaar druk.
2. Indien jy gaas beskikbaar het, plaas dit oor of om die voorwerp.
3. Plaas watte of soortgelyke materiaal rondom die wond, Indien moontlik moet jy dit opbou tot dit hoog genoeg is om drukking op die voorwerp te voorkom.
4. Bind dit vas met ’n verband. Die verband moet nie oor die voorwerp gaan nie.
5. Lig die beseerde deel van die liggaam op en immobiliseer dit sovêr moontlik.
6. Neem die persoon nou dadelik na ’n hospitaal.

30.6.15

Sink kan nierstene help vorm

Nuwe navorsing wat vroeër die maand gepubliseer is dui daarop dat die hoeveelheid sink in die liggaam kan bydra tot die vorming van nierstene. Daar is bevind dat sink dalk aan die kern van ’n niersteen se vorming lê.

Die algemene oorsake vir nierstene word tans geïdentifiseer as ’n lae inname van water, te veel of te min oefening, vetsug of die inname van voedsel met te veel suiker of sout. As jy een keer ’n niersteen ontwikkel het, is die kanse 50% dat jy binne die volgende vyf jaar weer een sal hê.

Die studie het die interaksie ondersoek tussen sink, oksalaat en kalsium in die vorming van nierstene. Die studie is gepubliseer in die mediese joernaal PLOS One.

29.6.15

Mediese woordeboek en gids: Q

Afrikaans - English Medical Dictionary / Afrikaanse mediese woordelys en gids vir die gesondheidswetenskappe - Slaan 'n siekte / aandoening / kwaal / gesondheidskwessie na en klik op die skakel vir meer inligting.

Q-golf (Q wave) <sien ook elektrokardiogram> Die aanvanklike afwaartse <negatiewe> uitwyking in die QRS-kompleks.

QRS-kompleks (QRS complex) <sien ook elektrokardiogram> Die elektriese uitwyking op 'n elektrokardiogram wat ooreenstem met die depolarisasie van die ventrikels.

quadriceps (quadriceps) Die spier aan die voorkant van die dy wat uit vier dele bestaan.

24.6.15

Amputasie

As ’n ledemaat of vinger of toon geamputeer word in ’n ongeluk, is dit in meeste gevalle moontlik daarom weer te heg aan die liggaam. Die beseerde persoon en die geamputeerde deel moet egter sodra moontlik by ’n hospitaal kom. Sorg dat daar vooruit gebel word na die hospitaal, sodat daar voorbereidings getref kan word vir spesialis chirurgie.

Jy moet die volgende doen in so ’n geval:

1. Beheer die bloeding deur regstreekse druk, maar wees versigtig om nie die stomp te beskadig nie.
2. Plaas die geamputeerde deel in ’n skoon plastieksak. Indien moontlik, plaas die sak in ’n houer met ys. Die geamputeerde deel moet NIE aan die ys raak NIE.
3. Merk die sak met die persoon se naam en die tyd van die amputasie.
4. Neem die persoon dadelik na ’n hospitaal.

23.6.15

Deur te vas kan jy borskanker bekamp

Deur minder tyd te spandeer aan die etenstafel en oornag te vas help om glukosevlakke te verlaag en die risiko op borskanker te verminder. Dit is die bevinding van ’n studie gepubliseer in die joernaal Cancer Epidemiology, Biomarkers & Prevention.