Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



1.9.14

Vitamien C help teen beroerte

Deur voedsel te eet wat baie vitamien C bevat kan jy jou kanse verminder om ’n slagoffer te wees van die meer dodelike tipes beroertes.

Volgens navorsers aan die Universiteit van Rennes in Frankryk, moet die tekort aan vitamien C gesien word as ’n risiko faktor vir die meer ernstige tipe beroertes. Ander faktore wat hiermee saamgaan is hoe bloeddruk, die gebruik van alkohol en oorgewig. ’n Tekort aan vitamien C word ook verbind met hartsiektes.

’n Ander voordeel van vitamien C is dat dit help met die produksie van kollageen, ’n belangrike proteïen wat gevind word in bene, vel en ander weefsel.

Vitamien C kom voor in vrugte en groente soos lemoene, papajas, rissies, broccoli en aarbeie.

27.8.14

Noodhulp: Hoe om skoene te verwyder

Maak of sny die veters versigtig los. Verwyder die skoen deur die enkel te ondersteun met jou een hand, terwyl jy die skoen verwyder met die ander hand.

25.8.14

Asma en vitamien A

Navorsers het ’n direkte verband gevind tussen ’n tekort aan vitamien A tydens swangerskap en sensitiwiteit in die lugweë van die kind, kenmerkend van asma.

Die studie het bevind dat ’n tekort aan vitamien A tydens die vorming van die longe beïnvloed die spiere rondom die lugweë. Die gevolg hiervan is dat die lugweë uitermatig saamtrek in reaksie op omgewings- en farmakologiese faktore.

Ongelukkig beteken dit nie dat indien die swanger vrou genoeg vitamien A kry, die fetus genoeg kry nie. Die menslike liggaam is kompleks en slegte gewoontes, soos byvoorbeeld rook en alkoholinname, veroorsaak dat die fetus se vitamien toevoer nadelig beïnvloed word.

Die studie is gepubliseer in die Journal of Clinical Investigation.

20.8.14

Noodhulp: Verwyder 'n broek

Indien die bobeen ontbloot moet word, trek die broek van die middel af. Indien jy by die kuit of knie moet uitkom, skyf die broek op van onder af, indien moontlik. ’n Nousluitende broek sal in alle gevalle waarskynlik afgetrek moet word.

’n Alternatief is om die broek aan die binnenaat oop te sny of te knip.

18.8.14

Nuwe ontleding van endometriose kan diagnose en behandeling verbeter

Endometriose, die vestiging van baarmoeder weefsel in omliggende organe, raak ten minste 10 persent van alle vroue. Die siekte, wat dikwels verkeerd gediagnoseer word, veroorsaak onvrugbaarheid en erge pyn, maar ons weet baie min oor hoe dit ontstaan.

Navorsers het nou ’n stap nader gegee aan ’n meer effektiewe behandeling van endometriose deur patrone in die immuunstelsel se seine te identifiseer wat ooreenstem met sekere simptome van endometriose. Hulle het ook die onderliggende sellulêre aktiwiteit hiervan geïdentifiseer.

Endometriose is moeilik om te bestudeer, want dit kan verskyn en verdwyn op verskillende tye in 'n vrou se lewe, en die simptome en erns daarvan kan baie wissel. Verder word die siekte dikwels nie gediagnoseer nie of mis gediagnoseer vir baie jare.

In pasiënte met endometriose beland selle van die voering van die baarmoeder in die Fallopiusbuise en dan in die buikholte, waar hulle groei op organe, insluitend die eierstokke, kolon, en die diafragma. Dit veroorsaak letsels wat pyn veroorsaak. Die pyn is soms lig, maar kan so erg wees dat dit verlammend is. Die groeisels kan ook lei tot onvrugbaarheid. Behalwe hierdie basiese verduideliking is daar nie veel bekend oor hoe die siekte ontstaan en vererger nie. Daar is 'n genetiese komponent, 'n omgewingskomponent, en 'n inflammatoriese komponent, maar wat dit individuele pasiënte betref is dit baie moeilik om te sê watter bepaalde volgorde van gebeure gelei het tot spesifieke simptome.

Endometriose word dikwels behandel met hormone, wat 'n menopouse-agtige toestand by die pasiënt veroorsaak. Dit is egter nie 'n betroubare oplossing nie en is beslis nie 'n goeie opsie vir vroue wat wil swanger raak nie. As die siekte voortduur is chirurgie nodig is om die letsels te verwyder, maar dit is ook nie 'n permanente oplossing nie; baie pasiënte moet verskeie operasies oor hul leeftyd ondergaan.

Hierdie tipe navorsing help nie net om ons kennis oor endometriose te verbreed nie, maar help ook om nuwe medikasie te ontwikkel wat die siekte kan teiken.

Vir meer oor hierdie studie kan jy in die Februarie 2014 uitgawe van Science Translational Medicine lees.

13.8.14

Noodhulp: Verwyder ’n baadjie / jas / hemp / frokkie

Die persoon moet in die herstelposisie wees. Lig hom / haar op en skuif die kledingstuk oor die skouers. As een van die arms beseer is, buig die gesonde arm en verwyder eers die baadjie aan daardie kant. Trek dan die mou baie versigtig van die gesonde arm af. Hou die arm so reguit moontlik.

'n Hemp of frokkie word op dieselfde manier verwyder. Sny dit indien nodig.

11.8.14

Hoë bloeddruk ’n groot probleem in Suid-Afrika

Suid-Afrika het die hoogste voorkoms van hoë bloeddruk in die wêreld by persone ouer as 50 jaar.

’n Nuwe studie het bevind dat sowat 78% van Suid-Afrikaners in hierdie ouderdomskategorie aan hoë bloeddruk ly. Minder as 10% van hulle probeer die probleem beheer. Slegs 38% van die persone wat getoets is was bewus daarvan dat hulle hoë bloeddruk het. Die probleem in Suid-Afrika word toegeskryf aan die feit dat mense oorgewig is en min oefening doen.

Hoë bloeddruk verhoog jou kanse op ’n hartaanval of ander hartsiektes.

Die studie is gepubliseer in die International Journal of Epidemiology, volume 43, nommer 1 van Februarie 2014.