Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



13.8.14

Noodhulp: Verwyder ’n baadjie / jas / hemp / frokkie

Die persoon moet in die herstelposisie wees. Lig hom / haar op en skuif die kledingstuk oor die skouers. As een van die arms beseer is, buig die gesonde arm en verwyder eers die baadjie aan daardie kant. Trek dan die mou baie versigtig van die gesonde arm af. Hou die arm so reguit moontlik.

'n Hemp of frokkie word op dieselfde manier verwyder. Sny dit indien nodig.

11.8.14

Hoë bloeddruk ’n groot probleem in Suid-Afrika

Suid-Afrika het die hoogste voorkoms van hoë bloeddruk in die wêreld by persone ouer as 50 jaar.

’n Nuwe studie het bevind dat sowat 78% van Suid-Afrikaners in hierdie ouderdomskategorie aan hoë bloeddruk ly. Minder as 10% van hulle probeer die probleem beheer. Slegs 38% van die persone wat getoets is was bewus daarvan dat hulle hoë bloeddruk het. Die probleem in Suid-Afrika word toegeskryf aan die feit dat mense oorgewig is en min oefening doen.

Hoë bloeddruk verhoog jou kanse op ’n hartaanval of ander hartsiektes.

Die studie is gepubliseer in die International Journal of Epidemiology, volume 43, nommer 1 van Februarie 2014.

6.8.14

Noodhulp: Die verwydering van valhelms

Voor ’n valhelm, soos die van ’n motorfietsryer, verwyder word, moet die persoon se toestand beoordeel word. Meeste van die tyd is dit beter om die valhelm op te los.

’n Volgesighelm moet slegs verwyder word indien dit asemhaling belemmer, die persoon opgooi of indien daar ernstige kopbeserings is. Meeste van die tyd sal die verwydering afhang van die beserings en die moontlikheid om dit te verwyder.

Indien dit ’n helm is wat slegs die kop bedek, maak die kenband los, of sny dit af. Voorkom enige onnodige drukking op die kop deur die helm se kante na buite te trek voor jy dit oplig en agtertoe verwyder.

Twee persone moet liefs ’n volgesighelm verwyder. Een moet die beseerde se kop en nek ondersteun, terwyl die ander een die valhelm verwyder. Kantel die helm eers agtertoe en lig dit oor die ken. Kantel dit dan weer vorentoe daarom van die skedel te verwyder.

4.8.14

Verkoue tydens swangerskap kan kind vatbaar maak vir asma en allergieë

Swanger vroue moet dalk eerder die geselskap van mense met verkoues en ander virale infeksies vermy. Volgens ’n nuwe studie is daar ’n verband tussen die aantal verkoues en virale infeksies wat ’n vrou het tydens swangerskap en die kanse wat die baba het om asma te ontwikkel.

Die studie het bevind dat die ma se infeksies en bakteriële blootstelling die baarmoeder affekteer en die baba se risiko verhoog om ’n allergie of asma te ontwikkel.

Asma en allergieë kan ook oorerflik wees. Indien beide ’n kind se ouers allergieë het, is die kanse sowat 75% dat die kind ook sal hê. Indien net een ouer allergies is vir iets is die kind se kanse sowat 30% tot 40%. Indien die ouers nie allergieë het nie is die kind se kanse daarom op te doen so 10% tot 15%.

Sowat 8% van swanger vroue het asma. Dit is ’n potensieel ernstige toestand vir iemand wat swanger is. Tydens swangerskap vererger sowat 33% van asmalyers se toestand, hoewel dieselfde persentasie se asma sal verminder.

Die studie is in Duitsland uitgevoer en vroeër vanjaar gepubliseer in Annals of Allergy, Asthma and Immunology.

30.7.14

Noodhulp: Uitwendige leidrade

Indien jy moet hulp verleen aan ’n onbekende persoon is dit ’n goeie idee om vir moontlik belangrike leidrade in die persoon se sakke of handsak te soek.

Kyk vir dinge soos afspraakkaartjies vir dokters of klinieke. Of inligtingkaartjies in verband met steroïede of insulien of dalk epilepsie.

Pakkies met suikerklontjies of glukose kan dui op ’n diabeet.

Daar is ook verskeie mediese waarskuwingstekens wat deur persone met ’n mediese toestand gedra word, byvoorbeeld die bekende Medic-alert halsband.

Probeer om die ondersoek in die teenwoordigheid van ’n getuie te doen.

28.7.14

Ongeveer 20% van vroue loop die gevaar van eierstokkanker

Nuwe navorsing dui daarop dat ongeveer 20% van alle vroue sekere genetiese mutasies erf, wat hul kanse op eierstokkanker heelwat verhoog.

Die simptome van eierstokkanker sluit in ’n opgeblaasde gevoel, maagpyn en ’n gereelde behoefte om te urineer. Ongelukkig word die meeste vroue eers gediagnoseer wanneer die kanker reeds versprei het, wat lei tot 'n swak oorlewingskoers van sowat 43 persent oor ’n tydperk van 5 jaar.

Die navorsing gee wetenskaplikes nou ’n beter prentjie van hoe die siekte ontwikkel, sodat hulle nuwe maniere kan vind om dit te bekamp.

23.7.14

Noodhulp: Bewussynsvlakke

Daar is verskillende stadiums waardeur ’n mens kan gaan indien jy beweeg van by jou volle bewussyn wees tot bewusteloos wees.

Basies kom dit daarop neer dat indien die persoon goed op prikkels reageer, die bewusteloosheid slegs lig is – soos byvoorbeeld ’n floute.

As die bewussynsvlak laag is, is die persoon dieper bewusteloos.

Wanneer daar geen reaksie is van enige aard nie, is die persoon in ’n potensieel gevaarlike toestand.

Bewussynsvlakke moet elke 10 minute getoets word. Gebruik prikkels soos om hard in die persoon se oor te praat, die persoon te probeer wakker maak deur die skouers liggies te skud en deur die persoon se hande of enkels te knyp. Toets ook vir ’n refleksreaksie deur aan die persoon se wimpers te raak.

Die persoon se asemhaling en temperatuur moet ook nagegaan word.