Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



7.4.14

’n Goeie nagrus belangrik

’n Goeie nagrus bly maar belangrik, volgens ’n nuwe studie wat aan die University of Rochester Medical Center gedoen is. Die studie gee ons ’n beter idee oor die biologiese funksie van slaap en hoe ons dit kan gebruik om sekere neurologiese probleme die hoof te bied.

De brein het ’n unieke metode van “vullisverwydering”, wat aktief is wanneer ons slaap. Die proses is verantwoordelik vir die verwydering van gifstowwe wat ’n rol speel in Alzheimer’s en ander neurologiese probleme. Wanneer jy slaap verklein die breinselle, sodat die gifstowwe meer effektief verwyder kan word.

2.4.14

Noodhulp, beheer bloedverlies deur indirekte drukking

Indien dit nie moontlik is om bloeding te beheer deur direkte drukking nie, byvoorbeeld ’n wond wat te groot is, kan jy ’n ander toepaslike punt kry om die bloeding te beheer. Dié metode werk net vir slagaarbloeding.

Die slagaar kan teen ’n nabygeleë been gedruk word om te keer dat die bloed daar verby vloei. Hierdie metode is slegs ’n laaste uitweg en moet nie langer as 15 minute gebruik word nie, aangesien dit bloeding na die ander weefsel ook afsny.

Daar is twee algemene drukpunte wat gebruik word:
  • Die bo-armslagaar in die arm
  • Dyslagaar in die dy
Die bo-armslagaar loop langs die binnekant van die bo-arm tussen die spiere. Om druk daarop uit te oefen, plaas jou vingers onder die persoon se arm en skuif hulle opwaarts tussen die spiere in. Druk opwaarts en inwaarts en druk die slagaar teen die been.

Die dyslagaar gaan die onderste ledemaat binne by ’n punt wat met die middel van die liesvou ooreenstem en loop aan die binnekant van die dy. Laat die persoon lê en buig die knie. Vind die slagaar in die lies en druk dit met jou vuis of jou hand teen die rand van die bekken.

31.3.14

Vroulike dokters beter as manlike dokters?

’n Navorsingspan aan die Universiteit van Montreal het bevind dat die kwaliteit sorg van vroulike dokters beter is as die van hul manlike kollegas. Die groep het ook bevind dat manlike dokters meer produktief is as vroulike dokters.

Die bevinding van die studie was dat ’n manlike dokter tans sowat 1 000 prosedures meer per jaar uitvoer as ’n vroulike dokter. Die studie wys egter daarop dat hoewel produktiewe dokters op die oog af meer “winsgewend” sou lyk vir ’n hospitaal, hulle “produktiwiteit” oor die langtermyn implikasies inhou vir hulle en die pasiënte.

Vroulike dokters spandeer oor die algemeen meer tyd met hul pasiënte en sorg dat hulle die korrekte medikasie bekom en gereelde ondersoeke ondergaan. Hospitale moet dalk herbesin oor kwaliteit sorg versus laer produktiwiteit.

26.3.14

Noodhulp, beheer bloedverlies deur direkte drukking

Die beheer van bloedverlies behels om die bloedvloei na ’n wond te beperk en sodoende bloedklontvorming aan te moedig.

Bloedverlies word op twee maniere beheer: deur drukking en opligting.

Daar is twee soorte druk: druk direk op die wond en druk op die slagaar wat die area voed waar die wond is. Druk op die wond word altyd eerste toegepas. Druk op die slagaar word slegs gebruik indien die druk op die wond nie help nie.

Metode:
  1. Oefen druk uit met die hand en vingers direk op die wond. As die wond groot is, druk die kante van die wond saggies, maar ferm teen mekaar en hou dit so onder druk.
  2. Laat die persoon gemaklik lê en lig die beseerde deel so hoog as moontlik op en ondersteun dit.
  3. Plaas ’n steriele ongemedikeerde bedekking op die wond. Maak seker dat die bedekking groter as die wond is. Druk di ferm vas en maak dit vas met ’n verband wat styf genoeg gebind is om die bloeding te stop, maar nie so styf dat dit die sirkulasie afsluit nie. Indien geen wondbedekking beskikbaar is nie, gebruik enige skoon materiaal. Indien die bloeding nie stop nie, wend nog wondbedekkings aan bo-oor die oorspronklike een.


(foto Martin R. Harris)

24.3.14

Oefening so goed soos baie medikasie

Navorsers van onder andere Harvard en Stanford het onlangs in ’n persverklaring gevra vir meer navorsing in oefening as ’n alternatief tot sekere medikasie. Dié groep het in ’n studie ondersoek ingestel na die uitwerking van oefening op die sekondêre voorkoming van koronêre hartsiekte, die herstel van ’n beroerte, die behandeling van hartversaking en die voorkoming van diabetes.

Wat die voorkoming van koronêre hartsiekte en diabetes betref kon hulle geen beduidende verskil vind tussen die uitwerking van oefening en medikasie nie.

Hulle het bevind dat diegene wat herstel van beroerte meer suksesvol is deur oefening te gebruik in plaas van medikasie. Vir hartversaking was medikasie meer suksesvol.


(foto Nevit Dilmen)

19.3.14

Noodhulp, Die herstelposisie

As ’n beseerde persoon asemhaal en daar is ’n hartklop, moet hy/sy in die herstelposisie geplaas word.

Die herstelposisie verseker dat die persoon se lugweg oop bly, dat die tong nie die lugweg blokkeer nie, die lugweg wyer word en dat enige vloeistof in die mond vrylik sal dreineer.

In die herstelposisie hou die ledemate die liggaam stabiel en gemaklik.

Wysig die tegniek na aanleiding van die tipe beserings.
  • Kniel regop en haaks langs die persoon, ongeveer 23 cm weg en in lyn met die borskas. Draai die persoon se kop na jou toe en druk dit effens agteroor. Sorg dat die lugweg oop is.
  • Plaas die persoon se arm naaste aan jou teen sy/haar sy. Plaas die persoon se hand onder sy/haar boud met die palm na bo (indien moontlik). Bring die ander voorarm oor die voorkant van die borskas. Vat die vêrste been onder die knie of enkel, trek dit na jou toe en kruis dit oor die ander been.
  • Beskerm die persoon se kop met een hand, terwyl jy met die ander hand die klere op die vêrste heup vasvat en die persoon vinnig omtrek na jou toe. Die persoon sal op sy/haar sy wees, ondersteun deur jou knieë.
  • Met die persoon teen jou knieë, beweeg die kop en maak seker die lugweg is oop.
  • Buig die boonste arm tot in ’n posisie waar dit die liggaam stut.
  • Buig die persoon se boonste been by die knie en trek die bobeen op sodat dit die onderste deel van die liggaam stut.
  • Trek die ander arm versigtig onder die persoon uit – werk van die skouer afwaarts. Laat dit langs die persoon lê.
Moet nie die metode volg indien daar enige frakture is nie, in ’n beperkte ruimte lê, of as dit nie moontlik is om die ledemate te gebruik as stutte nie. Gebruik in sulke gevalle ’n opgerolde kombers om die liggaam te stut.



(Die tekening is nie 100% volgens die aanwysings nie, dit dui op ’n alternatief tot bogenoemde posisie. Die verskil is die een arm wat nie agter die rug is nie.)

17.3.14

Menslike Papiloom-virus (MPV)

MPV is ’n virusinfeksie wat servikskanker kan veroorsaak. Meisies kan egter ingeënt word teen die virus voor hulle seksueel aktief raak.

Feite oor servikskanker in Suid-Afrika:
  • Servikskanker is die tweede algemeenste kanker wat by vroue in Suid-Afrika voorkom.
  • MPV is 100% verantwoordelik vir servikskanker – die kwaadaardigste tipes MPV is 16 en 18, en dit is verantwoordelik vir 70% van alle serkvikskankergevalle.
  • Die entstof Ceravix® word teen MPV gebruik. Dit moet twee keer toegedien word met ’n interval van ses maande tussen dosisse.
  • Die entstof is die doeltreffendste wanneer dit op negejarige ouderdom toegedien word.
  • Daar is byna geen of net baie ligte newe-effekte.
  • Die entstof se veiligheid is telkemale bevestig. Vier sterftes is in die navorsingsfase aangemeld. Drie van hierdie sterftes was in die groep wat die placebo-entstof (namaaksel) ontvang het, en die sterftes kon dus nie aan die entstof toegeskryf word nie. Die vierde sterfte het niks te doen gehad met entstofgebruik nie.
  • Die virus word versprei deur vel-op-vel-kontak gedurende seks. Enige vrou wat seksueel verkeer, selfs al het sy net een seksmaat in haar hele lewe, kan MPV opdoen. Dus moet mans en pa’s hul vroue aanmoedig om hul servikale sifting (Papsmeer wat MPV en kanker kan ontdek) te laat doen en hulle moet verseker dat hul dogters teen MPV ingeënt word.
  • Daar is tans geen middels wat MPV kan behandel nie, slegs middels wat dit kan help voorkom.
  • Daar is 52 tipes MPV waarvan sowat 15 gewasvormend is (dit veroorsaak kanker). Twee van hierdie 15 tipes – MPV-tipes 16 en 18 – word in 70% van alle servikskanker gevind.
  • MPV veroorsaak dat kankeragtige selle op die boonste lae (wat die silinderepiteel genoem word) van die serviks ontwikkel. As dit ongemerk gelaat word, sal die selle in kanker ontaard wat na die baarmoeder sal versprei en na enige ander area van die liggaam kan versprei.
  • Wanneer ’n gesonde vrou met MPV besmet word, kan kanker tussen 10 tot 20 neem om te ontwikkel. Dit is hoekom ons vroue aanmoedig om elke vyf jaar vandat hulle 30 jaar oud is ’n servikale sifting (Papsmeer) te hê.
  • ’n Servikale sifting is ontwerp om pre- en kankeragtige selle te diagnoseer sodat behandeling met die pasiënt bespreek kan word.
Onthou, die entstof beskerm net teen die twee algemeenste tipes MPV, tipe 16 en 18, wat verantwoordelik is vir 70% van servikskanker. Daar is ander minder algemene tipes MPV wat servikskanker kan veroorsaak. En onthou dat die entstof nie teen ander seksueel oordraagbare siektes soos MIV, gonorree, sifilis, chlamydia en ander skadelike infeksies verwant aan seksuele aktiwiteit beskerm nie. Dit is dus belangrik om kondome te gebruik en veilige seks te beoefen.