Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



6.5.13

Vrae oor gewigsprobleme


Tanya du Plooy skryf: "Ek het met die swangerskap van my dogtertjie 45kg opgetel en in die afgelope 3 jaar darem al 20kg daarvan afgeskud. Is daar 'n maklike manier om van die res ontslae te raak?"

Antwoord: Die maklikste manier is 'n gesonde dieet en oefening en nogmaals oefening.



Anna-Maria skryf: "Ek is 'n 39-jarige getroude vrou wat met 'n groot gewigsprobleem sit en ek het nie die gelde om alle duur produkte te koop om te probeer gewig te verloor nie miskien kan julle my raad gee oor hoe ek te werk kan gaan om gewig te verloor. Ek het ook laas jaar die dokter gespreek oor probleme wat ek gehad het met my oë hy het toe aan my gesê ek het Mennier se siekte in my oor hy het toe medikasie voorgeskryf maar dit het net 'n rukkie gewerk nou weet ek nie meer wat om te doen nie. Ek is ook gediagnoseer met hoë bloedruk en drink nou daagliks pille daarvoor.
Ek sukkel baie met geswelde hande en voete en niemand kan vir my sê wat fout is nie, ek sal dit baie waardeur as u miskien vir my raad het oor wat my te doen staan.
Die ander probleeem waarmee ek sukkel is dat ek nagsweet sowel as dagsweet ontwikkel het na my historektimie 3 jaar terug en die kliniek sê net heeltyd dit is normaal kan julle asb vir my sê of dit normaal is of nie.
Dankie dat ek met u kan praat en hoop u kan my help."

Antwoord: Anna-Maria,
Laat ons nou maar eerlik wees. Daar is geen wonderkuur wat geld kan koop wat jou gewigsprobleme gaan oplos nie. Hierdie is 'n leefstylprobleem.
Jou hoë bloeddruk is ook moontlik 'n gevolg van jou gewigsprobleme. Die beste manier om gewig te verloor is 'n gesonde dieet en oefening en nogmaals oefening.
Meeste van ons kom op 'n stadium in ons lewens voor hierdie keuse. Of ons aanvaar die gevolge van ons leefstyl of ons verander dit.
Dit sal ook help vir jou geswelde hande en voete. Lees meer op die blog oor geswelde voete en Ménière-siekte.

29.4.13

Vraag oor kliere


Leana De Wet skryf: "My seuntjie is 3 en het skielik 'n hoë koors ontwikkel en toe merk ek 'n geswelde massa onders sy ken, sy nek en langs sy kakebeen op, slegs aan die een kant. Hy is nou al 3 dae op antibiotika en dit is steeds geswel en het 'n hoë koors. Die pediater praat van 'n kiem in sy kliere, dit help my nie, wat beteken dit ek doen navorsing op geswelde kliere en als dui na limfklier kanker se diagnose. Help my om meer te weet hieroor asb."

Antwoord: Mens dink altyd die ergste.
Dit klink asof sy kliere erg geswel is. Almal se kliere swel tydens iets soos byvoorbeeld verkoue, al is dit net effens. Daar is baie limfkliere in die nek. Hulle werk is om infeksie in die kop, nek of keel te dreineer. Dit is veral infeksies in die keel wat hulle erg laat swel. So 'n infeksie kan weke neem om weg te gaan. Solank dit nie meer swel nie is dit onder beheer. Op die stadium moet mens maar vertrou op die pediater se kundigheid.

22.4.13

Vraag oor longontsteking


Louie van der Watt skryf: "Is longontsteking se kieme/virus deur die lug oordraagbaar? Indien wel, hoe en hoe kan dit voorkom word?"

Antwoord: Ja. Meeste borsinfeksies word deur bakterieë of virusse veroorsaak, sommige word ingeasem. Longontsteking ontstaan wanneer 'n infeksie ontstaan in die kleiner lugpype en klein lugsakkies, meestal veroorsaak deur bakterieë. Om dit die hoof te bied moet jou lugweë gesond wees en jou algemene weerstand teen siektes goed. Moet nie rook nie en beweeg, stap of draf gereeld, dit hou jou longe gesond. Ouer mense is veral vatbaar, juis omdat hulle nie meer so baie beweeg nie.

15.4.13

Mantelvliesbreuk vrae - spastiese slukderm, spastiese kolon, pyn, alkohol, borspyn, sluk, sooibrand, blaasontsteking


JC Erasmus skryf: "Ek is gediagnoseer met 'n spastiese slukderm, spastiese kolon en 'n mantelvliebreuk. My problem het sowat 4 jaar gelede skielik uit die bloute begin. Ek sukkel nie met enige probleem wat direk met die kolon verband hou, soos bv hardlywigheid, nie. Wat wel progressief erger geraak het met die verloop van tyd is 'n gevoel van erge benoudheid in my bors asook 'n gesukkel (van tyd tot tyd) om behoorlik te sluk. Dis asof my keel toetrek en kurkdroog raak, wat veroorsaak dat ek aanhoudend moet sluk voordat ek verligting kry. Soos genoem is ek dan ook erg benoud en het dikwels 'n pyngevoel net onder die borsbeen. Kry ook pyn rondom hart-area. Bevispass, espiride, librax en lansoloc is voorgeskryf wat ek nou al ongeveer 5 maande gebruik. Dit wil egter voorkom asof vermelde medikasie nie regtig help nie. Rook en alkohol veregrer definitief toestand- as ek 'n aand byvoorbeeld oormatig gedrink het sal vermelde pyn, ongemak en erge "sluk-probleem" die volgende dag heeldag voortduur. Is daar enige lig in die tonnel wat herstel/verbetering aanbetref, miskien ander medikasie?"

Antwoord: JC, jy noem nie of jy jou mantelvliesbreuk laat herstel het nie. Dit is 'n eenvoudige operasie en kan groot verligting bring.
Indien jou stresvlakke baie hoog is moet jy ook so gou moontlik daaraan aandag gee.



Connie Burger skryf: "Ek is verlede jaar verwys na 'n hart en long spesialis omrede ek geweldige hart pyne op my bors gekry het. Dit het gevoel of ek 'n hart aanval kry, maar daar is toetse op my gedoen, en geen probleem met hart is gevind nie. Wat die dokter wel gesê het is dat ek 'n mantelvlies breuk het. Simptome van 'n mantelvlies breuk is borspyne ook. Hy het aan my verduidelik date k 'n kleppie he twat in my sluk pyp is. Die kleppie lyk my maak nie lekker oop en toe nie. Dit is ook waarom ek so gereeld sooibrand het, en my kos stoot terug op, en daarom is ek naar. Ek het antibiotika gekry en alles het beter geraak.
Verlede week het ek weer so siek begin voel, maar die keer het dit gevoel of ek nier en blaas ontsteking het. Ek het ook op 'n stadium gedink ek het dalk longontsteking (my rug het so gepyn). Intussenin het ek sooibrand gekry, en my maag was vreeslik opgeblaas. Ek het ook begin dink daar 'n groot fout met my vrouedele (omdat ek so vreeslik pyn gehad het orals oor my maag). Toe begin dit seer raak onder my arms, en toe dink ek dis my kliere. Ek het deur al die simptome ook vreeslik koors gehad.
Ek is toe gistermiddag na 'n ginekoloog toe sodat ek kan seker maak daar is niks met my vrouedele verkeerd nie. Die dokter het toetse gedoen. Ek het nie nier of blaas infeksie nie. My eiestokke is 100% reg en my baarmoede makeer niks. Die dokter het aan my gesê hy vermoed dit is die mantelvlies breuk wat die liggaam geinfekteer het, dit is waarom ek al die simptome kry. Hy het ook aan my genoem dat so mantelvlies breuk mens baie siek kan maak.
Wat dink u. Het ek 'n mantelvlies breuk? Wat kan ek doen om dit reg te kry. Ek het gehoor daar is 'n operasie wat mens kan laat doen.
Ek is nou 36 en wil baie graag swanger raak. Ek het vir jare depo provera gebruik, en het dit nou eers in Desember gelos. Ek drink intussenin Folic Acid 5mg. Kan dit die folic acid wees wat my so siek laat voel. Is daar enige iets anders wat ek kan drink wat kan help dat ek swanger raak.
Dankie dat u gelees het en hoop om van u te hoor."

Antwoord: Connie, ek sou na die dokters luister. Maak seker jy laat kyk na daardie mantelvliesbreuk. Dit kan met 'n eenvoudige operasie herstel word. Hulle sny jou ook nie meer hiervoor nie, maar doen die operasie deur klein gaatjies te maak.
Jy is bietjie oorhaastig met die swangerskap. Ontspan en laat eerste na jou mantelvlies kyk.

25.3.13

Vrae oor medikasie

J Reynders skryf: "Is dit skadelik om vicks aan my dogtertjie se borsie te smeer, sy is nou 14 maande?"

Antwoord : Word aangeneem jy praat van Vicks VapoRub. Dit behoort nie gebruik te word vir kinders jonger as 2 jaar (24 maande) nie.

Chantell Lombard skryf :
"Is dit normaal vir die medikasie wat aan my voorgeskryf is vir my maagseer om my hoofpyn, sensitiewe vel, bene wat pyn en ongelooflik gevoelige borste te gee (ek het 'n baba van 5 maande en borsvoed nog)."

Antwoord :Jy noem ongelukkig nie wat die medikasie is nie, maar meeste medisyne kan newe-effekte hê. Op die medikasie se voubiljet sal hulle die moontlike newe-effekte aangee. 'n Mens moet altyd die inligting nagaan voor jy die medikasie neem, swanger vroue en vroue wat borsvoed net meer so.

18.3.13

Ménière-siekte

Ménière-siekte is 'n aandoening van die balansorgaan in die middeloor. Die gevolge hiervan wissel van balansversteuring, gehoorverlies, abnormale gehoor, drukking in die oor en tinnitus. Indien jy enige van die simptome ervaar moet jy jou dokter gaan spreek.

Ons weet nog nie rerig wat die oorsake van Ménière-siekte is nie. Dit kom voor asof dit te doen het met 'n abnormale hoeveelheid vloeistof in die middeloor of 'n abnormale samestelling van die vloeistof. Wat die verandering in die vleoistof meebring weet ons nog nie. Normaalweg ontstaan die siekte net in een oor.

Daar is nog nie medikasie wat suksesvol gebruik kan word vir Ménière-siekte nie. Gewoonlik skryf dokters medikasie voor vir die balansversteuring.

Verminder jou soutinname en vermy voedsel wat sogenaamde MSG's bevat. Eet ook kleiner porsies op 'n slag, versprei dus jou etes oor die dag. Dit help jou liggaam om die vloeistowwe beter te reguleer. Vermy drankies en voedel wat kafeïen bevat en moet nie rook nie.

11.3.13

Naelfungus

Tersia skryf: "Ek het 'n fungus infeksie onder my groottoon nael. Soms is dit baie seer en het al antibiotika geneem wat baie duur is,(vir 3 maande aaneen), maar dit het gladnie gehelp nie. Ek het ook al by naeltegnikuste botteltjies anti-fungus gekoop en dit gebruik en steeds help dit nie. Die nael hou ek baie kort, sodat ek dit altyd heeltemal droog kan hou. Is daar nie dalk iewers 'n ander raad wat ek kan volg nie? Ek wil regtig nie met 'n lelike toonnael sit nie! Baie dankie!"
Antwoord : Dit is 'n lastige toestand. Dit is soms moeilik om te behandel en kan aanhoudend voorkom.
Dit kom normaalweg voor indien jou naels gereeld blootgestel is aan warm, vogtige toestande.
Die eerste stap is dan om seker te maak jou naels is nie gereeld in sulke toestande nie. Hou die naels kort en droog.
Maak seker jy dra oop skoene of skoene (en sokkies) wat lekker kan asemhaal. Die sokkies van sintetiese materiaal wat hardlopers dra is 'n goeie opsie om te oorweeg. Vra jou apteker vir 'n voetsproei of -poeier om hiermee saam te gebruik.
Probeer om nie kaalvoet te loop op plekke waar dit nat is en wat ook deur ander mense gebruik word nie.
Onthou dat jy nie naelpolitoer moet gebruik op sulke naels nie en jy moet altyd jou hande was nadat jy daaraan gevat het.

Boereraat:

Jy kan ook gewone wit asyn probeer. Meng een deel asyn met twee dele warm water en week die naels daarin vir 15 minute. Herhaal elke tweede dag. Dit kan tot twee maande duur om daarvan ontslae te raak.
♦♦♦

Potassium permanganaat word algemeen gebruik teen fungus. Dit word gewoonlik met warm water gemeng in die verhouding 1:10. Dit sal 'n pienkerige kleur kry as dit goed opgelos is, anders is dit pers. 'n Dokter kan wel 'n sterker oplossing voorskryf. Dit hang ook natuurlik af van die vorm waarin jy dit koop. Lees altyd die instruksies.