Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



25.2.13

Noodhulp vir baba


Sonja: "Ek is opsoek na 'n lysie met belangrike medisyne vir 'n pasgebore baba wat ek kan aanvul net vir daai tye wat dokters nie dadelik beskikbaar is nie soos bv: panado stroop ens. Stel dit so amper 'n noodhulp kassie vir my baba."

Antwoord: Daar is oulike noodhulptassies vir baba's in die handel beskikbaar, maar nie almal het alles wat mens graag wil hê nie. Jy kan een van die tassies aanskaf en dan net aanvul of jy kan jou eie maak.
Eerstens het jy 'n tassie of 'n sak nodig, een wat baba nie kan oopvroetel nie.
Iewers op jou tassie moet jy jou dokter se nommer en ander noodnommers plak.
Die noodhulptas moet die volgende bevat :
  • 'n Koorspen
  • 'n Vloeibare pynstiller sonder aspirien. Kyk vir iets met acetaminophen of ibuprofen op die etiket.
  • Kalamynmelk vir uitwendige gebruik op insekbyte en uitslag.
  • Antibakteriese salf vir snye en skrape.
  • 'n Haartangetjie vir splinters.
  • 'n Sker.
  • 'n Naelsker.
  • 'n Sonbrandmiddel.
  • 'n Insekdoder wat veilig is vir kinders.
  • 'n Snotuitsuiger (nasal aspirator bulb)
  • Pleisters van verskillende groottes.
  • Klein steriele verbande.
  • Rolverbande
  • Buisverbande van verskillende groottes.
  • Wondreinigingsdoekies
  • Oorpluisies
  • Gesteriliseerde balletjies watte.
  • 'n Vloeibare seep wat spesiall vir baba's is.
  • Babasjampoe
  • 'n Bevogtiger.
  • 'n Maatlepel of -drupper vir medikasie.
  • Warmwaterbottel
  • Yspak
  • 'n Handleiding vir noodhulp vir baba's
  • Spesiale medikasie vir allergieë ens. - hoor by jou dokter indien jou baba spesiale behoeftes het.

18.2.13

Ovariale siste


Dina-Mari skryf: "Ek wil net graag weet wat kan alles die oorsake wees tot die dat 'n vrou/meisie gewasse kry op hulle eierstokke. Wat moet 'n mens doen om dit te voorkom?"

Antwoord:
Hierdie gewasse (genoem ovariale siste) ontstaan waar weefsel wat vloeistof produseer abnormaal groei en die vloeistof wat geproduseer word nie daaruit kan ontsnap nie. Die meeste van hierdie gewasse is nie kwaadaardig nie.

Dit is 'n algemene verskynsel wat oorerflik is of toegeskryf word aan wisselende hormoonvlakke. Hierdie siste kom ook baie meer by rokers voor as nie-rokers.

Daar is ongelukkig nie veel wat jy kan doen om dit te verhoed nie. Indien jy rook, hou op. 'n Gesonde leefstyl kan ook net tot jou voordeel wees. En moet nie oefening vergeet nie!

Gaan spreek dadelik 'n dokter indien daar enige dramatiese verandering in jou mestruele siklus is.

Onthou dit is nou belangrik dat jy gesond eet en bietjie oefening inkry ter wille van die kleinding. Bespreek dit met jou dokter. Hy / Sy sal kan raad gee indien jy moet ag slaan op jou bloeddruk of suiker. Hoë bloeddruk is die een wat die meeste voorkom by vroue wat te veel gewig dra. Pre-eklampsie kan as gevolg hiervan ontstaan.

Oorgewig vroue is ook gemiddeld langer in kraam.

11.2.13

Wyn vir rumatiek

Die moontlike gesondheidsvoordele van rooiwyn is in onlangse jare dikwels beklemtoon, maar 'n Australiese biochemikus het opnuut die aandag getrek met 'n nuwe wynproduk wat só gelaai is met antioksidante dat dit gebruik kan word om 'n hele rits kwale te behandel.

Greg Jardine van Brisbane het 'n mengsel gepatenteer wat as anti-inflammatoriese middel dien en ook toestande soos rumatiek en chroniese moegheid kan verlig.

Sy wyn word gemaak met die gewone wynmaakproses, maar sekere dele van die proses is meer intens.

Jardine hoop dat sy proses ook in die vervaardiging van ander drankies en voedsel gebruik kan word, en sê dit kan selfs moontlik wees om lekkergoed of bier te maak met gesondheidsvoordele.

Lindsay Brown, 'n wetenskaplike wat Jardine se mengsel by die Universiteit van Suid-Queensland getoets het, het gesê veral rotte met rumatiek het in toetse baie goed gevaar.

4.2.13

Baba badtyd en velsorg

Kenners van die Mayo Clinic in Amerika het sekere aanbevelings gemaak as dit kom by die bad van 'n baba. Die Mayo Clinic word internasionaal erken as leiers op die gebied van gesondheidsorg.

Die aanbevelings van hulle sentrum vir kindersorg is daarop gemik om velsorg by babas te verbeter. Die volgende wenke hou nie net die baba se vel skoon en gesond nie, maar maak badtyd ook 'n lekker tyd vir baba:

  • Dit word nie aanbeveel dat die baba elke dag gebad word nie. Elke tweede dag is genoeg om die velletjie skoon te hou. Op die dae wat die baba nie gebad word nie kan jy net die gesiggie en vel versigtig afvee met 'n klam lappie. Hulle beveel af jy vee die ooglede af vanaf die binneste hoek na buite. Het jy geweet jy kan 'n baba sy eerste bad gee sodra die liggaamstemperatuur en asemhalingstelsel gestabiliseer het. Dit is omtrent ses uur na geboorte.
  • Laat sak die baba tot by die nek in die water. Dit help die baba om sy liggaamstemperatuur te handhaaf. Die water moet nie warmer as 48°C wees nie. Gewone skoon water is voldoende om die baba skoon te maak. 'n Baba se vel is baie sensitief en is vatbaar vir infeksie.
  • Doeke moet elke 2 tot 4 uur omgeruil word of net nadat dit vuilgemaak is. Maak die boude skoon met gewone kraanwater en 'n sagte lappie. As jy ‘baby wipes’ gebruik, sorg dat dit nie alkohol bevat of middels wat allergieë kan veroorsaak nie. Los die boudjies soms sonder doek om die vel lekker droog te maak.
  • Vir luieruitslag word room wat sink-oksied bevat aanbeveel. As die room nie help nie moet jy 'n dokter gaan spreek.



(foto MasterFinally)

28.1.13

Dodelike diarree in Kaap

Diarree is een van die hoofoorsake van siekteverwante sterftes onder kinders – en die seisoen waarin dié siekte hoogty vier, duur tot Mei.

Vier kinders is reeds vanjaar in Kaapse hospitale dood aan ­diarree, het die Wes-Kaapse departement van gesondheid Donderdag bekend gemaak.

’n Baba wat te veel water verloor, kan binne ses uur sterf.

Die departement het mense gewaarsku om nie “kruiemengsels aan kinders te gee om hulle ‘uit te droog’ nie”, asook nie ’n enema toe te dien nie. “Dit is baie gevaarlik,” het Theuns ­Botha, provinsiale minister van gesondheid, gesê.

Mense besef nie dat ’n baba of kind binne ure kan ontwater nie. Elke keer wanneer ’n mens opgooi of diarree het, verloor hy water en onontbeerlike soute.

Diarree kan veroorsaak word deur bakterieë, virusse, parasiete of sommige ander siektes.

Was altyd jou hande voordat jy eet, met kos werk, nadat jy in die toilet was en nadat ’n baba se doek omgeruil is. Dit is nie net kinders wat kan ontwater, ernstig siek word en sterf weens diarree nie – volwassenes moet net so versigtig wees.

21.1.13

Penis skoonmaak


Vanessa skryf: 
"My dogter het 'n week gelede mamma geword van 'n baba seuntjie. Ek het twee dogters groot gemaak en is dus heeltemal onkundig en wil graag raad vra oor hoe sy geslagsdeeltjie skoongemaak behoort te word? Wat is die moets en moenies? Is dit sommer ouvrou stories dat die velletjie kan vasgroei en moet mens daar peuter? Jou raad sal waardeer word."

Antwoord:
Moet glad nie daar peuter indien dit lyk asof die velletjie vassit nie! Dit is normaal vir die velletjie om vir nog lank daar vas te sit. Daardie velletjie moet nooit teruggeforseer word nie, dit sal vanself los raak soos hy ouer word! Meeste seuntjies s'n is los op twee jaar, maar dit kan ook eers op 5 jaar gebeur. Moet julle nie daaroor bekommer nie.

Was die baba maar soos normaalweg. Gedurende die eerste jaar het sy penis geen spesiale aandag nodig nie. Soos sy voorvel begin losser raak na 12 maande plus kan jy versigtig aan die binnekant daarvan met bietjie water skoonmaak, maar onthou asseblief dat die voorvel nooit verder teruggetrek moet word as wat dit kan gaan nie.

Indien die voorvel bietjie kan terugtrek wanneer hy ouer is en jy daar skoonmaak moet jy asseblief ook onthou om dit weer terug te rol tot in die oorspronklike posisie om enige moontlike komplikasies te voorkom.
Die belangrikste van die seuntjie se voorvel is om hom reeds van kleins af te leer om sy penis en onder sy voorvel skoon te hou.

15.1.13

Semen


DP skryf:
"Ek het die probleem nou al vir 2.5 jaar, Ek het bloed in my semen, Ek is nou 41 jaar oud . Ek het dit 2.5 jaar gelede ontdek toe ek en my vrou kondome gebruik het na my dogtertjie se geboorte. Ek was nou al by drie uroloë en hulle kon my nie help nie, ek het kanker toetse onder gaan vir die prostaat en ‘n piëlogram en proktoskopie maar die uroloog kan nie sê wat presies die probleem is nie. Die eerste uroloog wil my prostaat verwyder, toe sê ek hy moet warm plek toe gaan, Ek het nou al n vasektomie laat die November laas jaar en ook al die toets maar daar was nie n antwoord nie. Weet jy dalk van soortgelyke probleme en of daar enige medikasie is wat voor gestel kan word, Die laaste uroloog reken dit is n aartjie wat in die prostaat bars wanneer ek kom. Ek hoop jy kan help."

Dokter C:
Die goeie nuus is dat, terwyl mens jou boeglam skrik, dit selde baie ernstig is. Die laaste uroloog is waarskynlik reg. In meeste gevalle is dit 'n aartjie wat beskadig is in die prostaat of urienbuis. In meeste gevalle los die probleem homself op. Langer as twee jaar klink egter bietjie lank.

Soos jy self agterkom is die probleem dat dit besonder moeilik is om die bron van bloeding op te spoor. Daar word gewoonlik gekyk na moontlike oorsake. Dit sluit in:


  • prostaatkanker - jy weet gelukkig jy is skoon
  • 'n beskadigde aartjie in die prostaat of urienbuis - gewoonlik die geval
  • 'n urienweginfeksie
  • prostatitis (inflammasie van die prostaat)
  • 'n seksueel oordraagbare siekte
  • vergroting van die prostaat
  • skade tydens 'n operasie - jy het mos geen operasie daar gehad voor dit begin het nie
  • skade aan jou testikels of prostaat
Hoop bogenoemde was van hulp en dat julle die ding se gat sal skop.